Persverklaring: Taalmonument vier Museumdag by Genadendal

  • 0

Kenners bespreek tegnologie en invloed van eerste Afrikaanse gedrukte media

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier vanjaar Internasionale Museumdag saam met die Genadendal Sendingmuseum deur die aandag te vestig op die aanwending van tegnologie, kommunikasie en die skep van nuwe gehore vir museums. Jatti Bredekamp, ʼn gebore ‘Genaler’ en die eerste swart uitvoerende hoof van Iziko Museums, sal op 26 Mei in gesprek wees met Christo van Rensburg, bekende taalkundige en skrywer van So kry ons Afrikaans, en Samuel Baatjes, die museum se opvoedkundige beampte. Boonop sal twee wenners van die Genadendal Sendingmuseum se toespraak-kompetisie vir leerders – wat op 18 Mei gehou word – ook ʼn perspektief gee oor hoe jeugdiges museums beskou.

Siende dat vanjaar se tema vir Museumdag ‘Hiperverbinde museums: nuwe benaderings, nuwe gehore’ is, sal hulle fokus op die publikasies De Bode (1860) van Genadendal en Die Afrikaanse Patriot (1876) van die Paarl asook die invloed wat die drukperse op hul gehore gehad het. 

Hoewel die Genadendalse koerant ouer is as die Paarlse koerant, het eersgenoemde basies Genadendal Nederlands met ʼn paar Afrikaanse woorde gepraat. Die Afrikaanse Patriot was van meet af daarop gefokus om Afrikaans te praat en word derhalwe steeds as die oudste Afrikaanse publikasie beskou, beslis wat die gebruik van die Romeinse alfabet betref. In Kaapstad self het daar in die 1860’s en 1870’s ook Afrikaanse godsdienstige geskrifte verskyn wat van die Arabiese skrif gebruik gemaak het.

Bredekamp het onder meer jare lank op die Internasionale Museumraad (ICOM) gedien, artikels in die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) se publikasies die lig laat sien en is ʼn lid van Genadendal se Raad van Trustees as verteenwoordiger van die Wes-Kaapse premier. Hy dien ook op die raad van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAHRA). Van Rensburg is ʼn taalkundige aan die Universiteit van die Noordwes en is so pas as medewenner van die Jan H Marais-prys, die mees omvangryke Afrikaanse akademiese prys, aangewys. Hy word vereer vir sy baanbrekerswerk oor die herkoms van Afrikaans, spesifiek die invloed van Khoi-Afrikaans. 

Die feestelike dag, wat ook verversings sal insluit, vind plaas in Genadendal net buite Greyton en begin om 10:00. Bywoning is gratis, maar besprekings is noodsaaklik omdat daar ruimte vir slegs 60 besoekers is. 

Vir besprekings en verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top