Persverklaring: Sumayyah Petersen se Kortpad na Makkah al wandelend by Taalmonument.

  • 0

Foto van Sumayyah Petersen: verskaf

Verken Kortpad na Makkah al wandelend by Taalmonument.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is verheug om kragte met Sumayyah Petersen te snoer danksy ’n uitstalling wat ’n keur van haar gedigte uit Kortpad na Makkah sowel as ander werke bevat. Die uitstalling (tot einde Junie) in die Groen Galery op Paarlberg weerspieël haar kreatiewe stem, visie en artistieke reis.

Sumayyah, bekend as die Godmother van Afrikaans, is ’n dinamiese jong stem en kulturele bewaarder wat Afrikaans met oorgawe bevorder as ’n taal van trots, identiteit en maatskaplike geregtigheid. Haar werk staan op die kruispunt van geskiedenis, spiritualiteit en gemeenskapsherstel, waar sy dieper lae van Afrikaans ontgin en nuwe betekenis daaraan gee.

Sy is ’n onlangse ontvanger van die Afrikaanse Taalraad se Kokerprys, ’n erkenning van haar unieke bydrae tot die bevordering en herverbeelding van die taal. Haar debuut-digbundel, ‘Kortpad na Makkah’, verskyn binnekort en neem lesers op ’n intieme reis van die siel - ’n pad van genesing, selfontdekking en geloof te midde van die uitdagings van die lewe. Deur haar gedigte bring sy nie net haar eie verhaal na vore nie, maar skryf sy ook ander se pyn en hoop raak, en vind sy self heelwording in die proses.

Haar tesis, ‘Van Madrasah tot Moedertaal: Die Moslemwortels van Afrikaans’, sowel as haar werk ‘Afrikaans se Verborge Geskiedenis: Die Rol van die Kaapse Moslemgemeenskap’, werp lig op die dikwels onderbeligte bydraes van die Kaapse Moslemgemeenskap tot die ontwikkeling van Afrikaans. Sy gee hiermee erkenning aan haar Maleise erfenis en die nalatenskap van haar voorouers wat ’n fundamentele rol gespeel het in die vorming van die taal.

Vir Sumayyah is Afrikaans veel meer as net ’n taal - dit is ’n lewende ervaring:  “Afrikaans leef in casino’s waar mense lag en hul drome waag, dit leef in kerke waar stemme saamfluister en -sing, dit leef in moskees waar gebede sag oor lippe spoel. Afrikaans loop kaalvoet deur dorpe en dra hoëhakskoene in stede.”

Sy glo vas dat Afrikaans ’n taal vir almal is: “Ons taal is ’n mosaïek, gebou deur baie hande - met baie historiese paaie, baie seer en baie hoop. Juis daarom is dit sterk, is dit waardig en het dit ’n toekoms.”

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van hierdie lewende instelling om onder meer die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende werke aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.”

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, omring deur inheemse olienhout en graniet. ’n Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Sien taalmuseum.co.za/groen-galery vir die huidige en vorige uitstallings

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top