Persverklaring: Sakeleier van die Jaar 2026, Marlene le Roux se  aanvaardingstoespraak

  • 0

Van links is Karin Pickard Louis (voorsitter van die Kaapstad Sakekamer), Marlene le Roux (uitvoerende hoof van Kunstekaap), Willem Jordaan (redakteur van Die Burger en Carin Smith, sakejoernalis by Netwerk24/Die Burger. (Foto: Die Burger/Netwerk 24/Natalie Gabriels Photography)

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaapteater in Kaapstad, is Donderdag 3 September vereer as Ambassadeur van die Jaar by Die Burger/Netwerk24/Die Kaapse Sakekamer/Afrikaanse Handelsinstituut se 34ste Sakeleier van die Jaar 2026-geleentheid by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad. Hier is haar toespraak.

*

Goeienaand

Aan Die Burger en die redakteur, Willem Jordaan;  Netwerk24, die Kaapstad Sakekamer onder die leiding van Karin Pickard Louis in samewerking met die Afrikaanse Handelsinstituut Wes- Kaap – baie dankie vir hierdie erkenning, en dankie vir die werk wat julle doen om Afrikaans, en die talle gemeenskappe wat dit as hul eie opeis, deel te hou van die storie wat ons vertel oor wie ons is as ’n provinsie en as ’n land.

Ek wil vanaand graag ’n paar baie spesiale gaste erken: die voorsitter van die Kunstekaapraad, Zak Gordon, en die ondervoorsitter, Karen Meiring – dankie vir jul vertroue in wat hierdie instelling van ons nog kan word. Ek wil spesifiek ook vir Brian Figaji, voormalige voorsitter, erken asook al die vorige raadslede wat saam met Artscape deur sommige van haar moeilikste oorgangsjare gestap het om dit ’n plek vir almal te maak. 

Dan wil ek graag die mense en gemeenskappe eer wat my gevorm het: my familie, die Abrahamse, my geliefde Tietie Christine le Roux (my ma), my ouma Christina Abrahams, my dogter Aimee George, my oorlede  seun Adam, my twee hartskinders – Paul Siguqa en Gerswin Cupido, en veral my man Eddy van der Borght wat my so liefdevol en onvoorwaardelike ondersteun.

Ek wil hulde bring aan my gemeenskap in Wellington – die VGK (kerk), Pauw Gedenk Laerskool, Bergrivier Hoërskool en al die opvoeders, veral my musiekonderwysers, koorleiers en soveel ander wat my van vroeg af al as kind blootgestel het aan die inheemse klanke van die Klopse groepe. Dit vat voorwaar ’n dorp om ’n kind groot te maak.

Ek ontvang hierdie toekenning vanaand nie bloot as nog ’n individuele prestasie nie, maar as ’n besinning oor ’n reis – myne, die reis van ’n instelling, en die reis van ’n land en sy mense wat steeds leer hoe om aan hulself te behoort.

Laat ek met die meisie begin. In my gemeenskap in Wellington het hulle my Mank Marlientjie genoem. Hulle het nie die regte woordeskat gehad nie. Maar hulle het iets belangriker as woordeskat gehad: hulle het aanvaarding en sorg gehad. Ek was in die hoofstroom opgeneem, lank voordat dit ’n modewoord was wat enigiemand gebruik het, deur bure en onderwysers en ’n ouma wat van die werk as ’n huiswerker met Die Burger onder haar arm huis toe gekom het, sodat ons dit saam kon lees. Onderwys het nie vir my begin toe ek skool toe gegaan het nie. Dit het by die huis begin waar ons voor die radio na al die verskeidenheid musiekgenres geluister het, in ’n gemeenskap wat nie altyd die regte woorde gehad het nie, maar my nooit een keer onwelkom in ’n kamer laat voel het nie.

Ek deel dit omdat ek dink dit bevat die antwoord op iets veel groter as my eie storie. As ’n plattelandse gemeenskap, met min hulpbronne, sonder die taal van gestremdheidsregte, sonder beleidsdokumente, ’n manier kon vind om vir een klein gestremde dogtertjie te sorg,  dan kan ons sekerlik, as ’n land met al ons instellings en al ons rykdom van kultuur, ’n manier vind om vir mekaar met empatie om te gee.

Want dit is die vraag wat tans voor ons lê. Ons is ’n jong demokrasie. Ons is maar net meer as dertig jaar oud, en ek dink nie ons het naastenby genoeg gedoen om mense van verskillende agtergronde bymekaar te bring nie, om mekaar se kultuur, ons tale, ons godsdienste, ons lewenswyses werklik te verstaan. Terwyl ons nader kom aan die munisipale verkiesings in November, hoor ek hoe ons steeds meestal oor swart, bruin en wit praat. En ek wil  maar eerlik vra: kan ons nie eerder fokus op wat ons werklik in hierdie land bymekaar bring nie, sodat ons die geweldige armoede en skokkende werkloosheid ter wille van ons kinders kan bekamp?

Dit is waar ek glo die kunste ’n verantwoordelikheid dra wat veel verder as vermaak strek.

Artscape is ’n regeringsinstelling, maar dit was nooit bedoel om net ’n gebou te wees nie.

Dit is ’n bymekaarkomplek. Dit is een van die min ruimtes wat oorbly waar Suid-Afrikaners van verskillende rasse, wat andersins nooit buite ’n werkplek sou ontmoet nie, langs mekaar in die donker sit, dieselfde storie op die verhoog sien ontvou, en dan tydens pouse saam in die voorportaal staan en eenvoudig gesels. Ons juig dieselfde kind se talent toe. Ons word deur dieselfde stem geraak. Kuns word ’n kommunikasietaal wat nie diskrimineer nie – dit dra nie die aggressie wat ons soms op ons sportvelde sien nie, waar skares skree en mekaar aanval. Wat op ons verhoë gebeur, en in die sitplekke voor dit en in die ingangsportale, is ’n stiller betowering – iets magies. En ek glo dit dra by, opvoering vir opvoering, tot die vorming van ’n Suid-Afrikaanse identiteit waarin ons almal onsself kan herken.

Vanjaar op 19 Mei het ons die Artscape gebou se 55ste herdenkingsjaar geloods. Intussen het gemeenskappe en teatergangers van alle agtergronde het in hul duisende na die feesviering, meesterklasse, beroepsdag vir hoërskoolleerlinge, feeste en die vele produksies gestroom, want dit is nou ’n plek vir almal. Toe die gebou in 1971 geopen het as die Nico Malan teater, was dit net toeganklik vir wit Suid-Afrikaners. Die reis van ’n teater vir ’n uitgesoekte minderheid, tot ’n plek waar gemeenskappe van diverse agtergronde omarm word en tuis voel, is ’n reis wat steeds voortgaan.

In my eie ervaring met die bestuur van ’n nasionale uitvoerende kunsteinstelling het ek gesien hoe die kunste en die burgerlike samelewing saam gesprekke kan oopmaak oor identiteit, gestremdheid en uitsluiting wat ’n politieke debat nie altyd kan bereik nie. Regeringsinstansies soos teaters en ander kulturele ruimtes behoort ruimtes te wees waar kritiese debatte oor die samelewing moet plaasvind. Dit behoort die denkprosesse van ons samelewing te vorm. Die kunste behoort die middel te wees waarmee die samelewing hul aspirasies uitdruk, hulself kan voorstel hoe die toekoms moet lyk. En vermaak en die verskuiwing van identiteit en die ontwikkeling van kultuur behoort die kern van hierdie kulturele sentrums te wees.

Daardie oortuiging is hoekom Artscape se transformasie so belangrik vir my was en nog steeds is. Hierdie gebou het sy lewe begin as die Nico Malan-teater, gebou om slegs in die artistieke behoeftes van wit Suid-Afrikaners te voorsien. In 1974 moes die dramaturg dr. Adam Small aansoek doen vir ’n spesiale permit bloot om die openingsaand van sy eie toneelstuk by te woon. Daardie geskiedenis is deel van die struktuur van hierdie gebou, en ons doen nie voor asof dit nooit gebeur het nie. Maar vandag het hierdie selfde gebou die enigste teater in Suid-Afrika geword wat kunstenaars en gehore met gestremdhede hoofstroom deur middel van ’n Loop-gehoorstelsel, tasbare tapyt vir gesiggestremdes, rolstoeltoegang en ’n voorportaalspan wat elke jaar opgelei word om elke besoeker, gestremd of nie, dieselfde teaterervaring te gee. 

’n Toeganklike gebou ondersteun die burgerregte van mense met gestremdhede en voorkom dat hulle ook binne die gebou gemarginaliseer word. Dit beklemtoon wat gestremde mense voel: ’n trots wat soms ontbreek as gevolg van die sosiale stigma wat steeds oorheersend is. Die uitvoerende kunste kan sodoende ’n ruimte vir uitdrukking oopmaak en terselfdertyd beelde van trots en krag skep, in teenstelling met idees van persone met gestremdhede se hulpeloosheid en afhanklikheid. 

Van ’n eksklusiewe teater vir die min, na ’n plek vir almal. Daardie transformasie het nie per ongeluk gebeur nie. Dit het doelbewuste, soms ongemaklike besluitneming, en die moed van mense in hierdie vertrek vanaand geverg om aan te hou om insluiting te kies wanneer dit makliker sou gewees het om nie te doen nie.

Vanaf Januarie tot Junie vanjaar oor die 500 000 teatergangers oor ons drumpel gehad. Ons praat dus nie net van ’n gehoor nie. Dis ekonomie in aksie! Dit is bo en behalwe die kunstenaars, tegnici, projekbestuurders, bemarkers, vervaardigers, verhoogpersoneel, skoonmakers, sekuriteitswerkers, instandhoudingspanne, administratiewe personeel en gesondheid-en-veilligheidspersoneel wat ons verhoë en ander ruimtes beveilig. Artscape ondersteun ’n verskeidenheid genres  van die uitvoerende kuste, nie net in die gebou nie maar ook deur vennootskappe met kunste-organisasies in verskillende gemeenskappe.  Artscape is dus in werklikheid ook ’n werkverskaffer wat die ekonomie van die Wes-Kaap ondersteun. Gehore beplan hul vakansies rondom gewilde produksies in ons teaters wat weer gastehuise, hotelle, vervoer en toerisme bevoordeel.  ’n Groot produksie skep soms werk vir tot 500 persone wat vir ’n hele maand ’n inkomste daaruit verdien. Ek wil dus beklemtoon hoe belangrik dit is dat die regering en die sakegemeenskap die kunste moet erken as ’n groot rolspeler in die ekosisteem van die ekonomie.

As ’n regeringsinstansie wat befondsing kry van beide die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur en die Wes-Kaapse regering vir instandhouding en sekere projekte, is ons verplig om verantwoording te doen aan die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal. Met alle artistieke produksies moet ons ’n vennootskap bewerkstellig. Ons verhuur ook die verhoë en lokale uit om sodoende te kan verseker kunstenaars verdien ’n salaris. Ons moet dus ’n fyn balans handhaaf tussen vervaardigers en gemeenskappe wat voorheen nooit toegang gehad het nie om inklusiwiteit te verseker. Ons is innig dankbaar vir die finansiële ondersteuning wat ons ontvang van die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur, asook die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap en die Stad Kaapstad.

Ek kan net met trots noem dat met al die burokratiese rompslomp en oor die 400 produksies die afgelope boekjaar, ons weer eens ’n skoon ouditmening van die Ouditeur-Generaal ontvang het. 

Ek wil vanaand hierdie platform ook gebruik om duidelik oor gestremdheid te praat, want ek is ’n gestremde vrou, en ek het geleer dat die enigste pad vorentoe is om die uitdaging direk in die oë te kyk. As jy ’n kind met ’n gestremdheid in Suid-Afrika is, het jy ondersteuning en toegang tot hulpbronne deur spesiale skole, tot ongeveer graad 10. Daarna, vir te veel jongmense, vernou die lewe tot ’n plakkershut of ’n huis, sonder vervoer, en baie beperkte maniere om te sosialiseer of aan te hou groei. As diegene van ons in magsposisies werklik vir daardie kind omgee, sou ons ons begrotings herprioritiseer. Ons sou versorgers vir die kwesbares befonds met dieselfde erns waarmee ons lyfwagte vir politici befonds. Ons sou toegang tot vervoer, fisioterapie en beurse verseker wat verder as graad 10 en verder as hoërskool voortduur.

So my veldtog, en ek sal dit aanhou maak vanaf elke platform wat ek kry, insluitend hierdie een vanaand, is die volgende: die regering moet verder gaan as om bloot ’n 3%-indiensnemingsteiken aan te haal. Laat ons na maatskappye gaan en sê: ons sal julle help om daar te kom. Laat ons ’n fonds afsonder sodat wanneer ’n werkgewer die stap neem om ’n persoon met ’n gestremdheid aan te stel, daar werklike hulpbronne agter daardie besluit staan.

Toe Kapitaalwerke-befondsing beskikbaar geword het, het ons by Artscape gekies om dit te gebruik om ons gebou toeganklik te maak vir persone met elke soort gestremdheid – vir ons gehore, ons kunstenaars en ons eie werknemers. Dit was ’n keuse. Elke instelling in hierdie land het sulke keuses voor hulle met elke begrotingsiklus.

Terwyl ek afsluit, is my oproep aan ons almal in hierdie vertrek vanaand – sakeleiers, media, kulturele leiers, regering – eenvoudig. Laat ons wegbeweeg van dit wat ons verdeel. Laat ons algemene ordentlikheid (common decency) en goedaardigheid kies, en mekaar sien vir wie ons werklik is. Laat ons ons diversiteit omhels as ’n sterkte eerder as ’n bedreiging, en erken hoe ver ons gemeenskappe reeds gereis het, eerder as om vas te klou aan die stereotipes wat ons geërf het. Laat ons vir mekaar omgee, en deur dít te doen, laat ons aanhou bou aan ’n Suid-Afrikaanse identiteit wat ons almal trots kan wees om ons eie te noem.

Baie dankie weereens aan Die Burger, Netwerk24, die Kaapstad Sakekamer en die WesKaapse Afrikaanse Handelsinstituut vir hierdie eer. Ek aanvaar hierdie toekenning namens  soveel gestremde persone wat nog hulpeloos voel omdat daar geen werk of hulpbronne vir hulle is nie – maar ook vir dié gestremde persone wat ten spyte van teenstand, hul merk maak in die lewe. Ek aanvaar dit namens elke kollega by Artscape wat hierdie reis saam met my gestap het, en namens elke Suid-Afrikaner wat nog wag dat hierdie land werklik ’n plek vir almal word.

Dankie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top