Persverklaring: Wenners – vyfde studentesimposium vir sosiale en geesteswetenskappe

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 15 en 16 Februarie 2024 die vyfde Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe in hibriede formaat aangebied. In totaal het 28 aanbieders hul referate/plakkate aangebied.

Die SA Akademie kondig graag die referaatwenners en die wenners van die pryse vir nuutskeppings aan:

Referaatwenners 
  • Eersteprys R3000 van ATKV, jaarinskrywing vir aanlyn WAT, R500 geskenbewys van Aristata

Anneke van Heerden, UP: Pedagogiese stryde rondom Skoolgeskiedenis in Suid-Afrika, 1961-1994. 

  • Tweede prys R1500 van ATKV, jaarinskrywing vir aanlyn WAT, R250 geskenkbewys van Aristata

Jané de Wet, NMU: Braaivleis, boerewors en iets met ’n ysie – identiteitsformasies en die oplewing van Afrikanertrots in onlangse (2019 – 2023) poplirieke. 

  • Derde prys R1500 van ATKV, jaarinskrywing vir aanlyn WAT, R250 geskenkbewys van Aristata

Anzel van Rensburg, NWU: ’n Kunsgeskiedkundig-antropologiese perspektief op dood en geweld in natuurhistoriese museum. 

Nuutskeppings

Pharos Aanlyn: jaarinskrywings

  • Anzel van Rensburg, NWU 

Wandelonderhoud 

Wandelonderhoude verwys na onderhoude waar die navorser saam met die deelnemer stap, terwyl hulle gesels op ’n spesifieke plek, waar die onderhoud opgeneem en later getranskribeer word en waar ’n kamera gebruik word om foto’s te neem om in verdere onderhoude te gebruik of as addisionele data (De Leon & Cohen, 2005). Clark en Emmel (2010) het die “deelnemende wandelonderhoud” ontwikkel waar die navorsingsdeelnemer die navorser op ’n wandelstap neem in ’n ruimte wat verband hou met die navorsing.

  • Kruger Uys, UP 

Edusemiotiek 

Edusemiotiek is ’n interdissiplinêre veld wat die studie van die semiotiese prosesse en betekenisse in die opvoedkunde ondersoek. Dit fokus op die manier waarop tekens, simbole, taal en ander semiotiese sisteme gebruik word om kennis oor te dra, leer te fasiliteer, en opvoedkundige ervarings te verstaan. Edusemiotiek ondersoek hoe semiotiek (die proses van betekenis skepping deur middel van tekens) toegepas word in 'n opvoedkundige kontekste. 

  • Rudi van Rensburg, UV 

Gemeensin 

Die woord, gemeensin, word voorgestel as ʼn vertaling van die begrip sensus communis. Die sensus communis word dikwels vertaal met die begrip ‘gesonde verstand’ [common sense (Eng.); bon sens (Frans)]. Dit is egter ʼn verwarring van die betekenis van die sensus communis wat gesetel is in die gemeenskap en nie die individu nie, soos geïmpliseer word met die gesonde verstand. 

Die organiseerders van die simposium het uitstekende terugvoer van die beoordeelaars ontvang wat bevestig het dat navorsing in Afrikaans aan universiteite ʼn waardevolle bydrae lewer tot die hoër funksies van Afrikaans en ʼn besonderse bydrae lewer tot die uitbreiding van Afrikaanse vaktaal. Iedere van die aanbiedings was deeglik en professioneel aangebied, en die studente was grootliks uitstekend voorbereid.  

Die SA Akademie se hartlike dank gaan aan die borge van die wenpryse.

Vir enige navrae oor die studentesimposium en die wenners stuur asseblief ’n e-pos aan die SA Akademie by akademie@akademie.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top