Persverklaring: SA Akademie wag aansoeke in vir M- en D-beurse vir 2027

  • 0

Grafika verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Aansoeke vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se 2027 magister- en doktorale beursprogram word nou ingewag.

Die beursprogram ondersteun nagraadse navorsing in enige vakrigting, mits die verhandeling of proefskrif oorspronklik in Afrikaans geskryf en vir eksaminering aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit ingedien word. Vertalings uit ander tale kwalifiseer nie vir befondsing nie.

Die SA Akademie stel jaarliks ’n beperkte aantal beurse beskikbaar as deel van die organisasie se verbintenis tot die bevordering van Afrikaans as taal van wetenskap, navorsing en hoër onderwys. Vir 2027 kan magisterstudente vir beurse van tot R75 000 aansoek doen en doktorale studente vir beurse van tot R110 000, onderhewig aan die beskikbaarheid van fondse.

Beurshouers ontvang ook ’n gratis eenjaar-VivA+-subskripsie en toegang tot ’n FutureSharp-kursus.

Aansoekers moet onder meer ’n bewys van registrasie aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit, ’n navorsingsvoorstel of omskrywing van die navorsingsfokus, ’n uiteensetting van die studie se relevansie, ’n aanbeveling van die studieleier of promotor en ’n begroting indien.

Aansoeke sluit op Woensdag 30 September 2026 en uitslae sal op 1 Desember 2026 bekendgemaak word.

Klik hier vir meer inligting en aansoekvorms.

Navrae kan gerig word aan Melanie Rens by melanie@akademie.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top