
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ken erelidmaatskap toe aan die internasionaal gerekende wetenskaplike, Oppel Greeff, vir sy waardevolle bydrae om Afrikaans se status as ’n mediese wetenskapstaal op nasionale en internasionale gebied te bevorder.
Erelidmaatskap is die hoogste toekenning van die SA Akademie wat bekend is vir sy gesogte toekennings wat ’n prestasiekultuur in Afrikaans bevorder. Erelidmaatskap kan toegeken word op grond van een of meer van die volgende lewenslange prestasies:
- Erkenning van buitengewone dienste aan Suid-Afrika; en/ of
- dienste aan die Afrikaanse taal; en/ of
- dienste aan die Akademie met betrekking tot sy hoofdoelstelling, nl. die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die gebruik en gehalte van Afrikaans.
Greeff ontvang op 11 Oktober 2023 erelidmaatskap op die volgende gronde:
Diens aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap:
- Greeff begin sy loopbaan in 1973 as algemene praktisyn en is aktief betrokke in die gemeenskap as voorsitter van die Junior Rapportryersbeweging in Lyttelton en in 1978 verkies tot die Rapportryersraad.
- In die sewentigerjare stel hy ’n beurs in vir joernalistiek by die RAU (nou Universiteit van Johannesburg), asook ’n beurs vir teologiestudente by die Universiteit van Pretoria en die Esther Greeff Musiekbeurs. Hy befonds die Janetta Strauss Beurs en die SA Akademiebeurs, albei vir verdienstelike studente in die Departement Afrikaans by UP.
- Greeff het ’n noue verbintenis met die SA Noodhulpliga (SANL) in Lyttelton en dien sedert 1987 as president van die SANL, ’n posisie wat hy tans nog beklee.
- Sy betrokkenheid by die kunste lei tot die bou van die Centurion Teater, die eerste teater wat die Afrikaanse uitvoerende kunste in Pretoria bevorder.
- Hy stig in 1993 die uitgewersmaatskappy Medpharm Publikasies wat tans die grootste mediese uitgewer in Suid-Afrika is en 13 spesialisvaktydskrifte op die gebied van gesondheidsorg. Hy is tans voorsitter van die direksie van Medpharm.
Diens aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans:
- Oppel Greeff is reeds vir 45 jaar ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was geruime tyd aktief betrokke by die afdeling Geneeskunde van die SA Akademie.
- Hy dien van 2013 tot 2023 in die Akademieraad, die hoogste besluitnemingsliggaam van hierdie organisasie, en is van 2020 tot 2023 voorsitter.
- Greeff lewer ’n belangrike bydrae om ’n sterk prestasiekultuur in Afrikaans uit te bou met jaarlikse borgskappe vir die beste wetenskaplike artikels in die SA Akademie se twee geakkrediteerde vaktydskrifte, nl die Douw Greeffprys vir SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie en die Jacques van der Elstprys vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe.
Buitengewone dienste aan Suid-Afrika:
Greeff is ’n wêrelddeskundige op die gebied van geneesmiddelontwikkeling en dien tans in verskeie direksies van gesondheidsorgmaatskappye in Suid-Afrika, die VSA en Indië. Hy is ook sedert 2016 die voorsitter van Cytespace Research Private Limited – ’n posisie wat hy tans nog beklee.

