RSG skop Donderdag 1 Oktober sy splinternuwe radiodramaseisoen af – ’n kragtige versameling van 14 uiteenlopende dramas wat opspraakwekkende temas, alledaagse uitdagings én tong‑in‑die‑kies stories aanpak. Die seisoen bied alles van familiegeheime, verlies, kinderontvoering, identiteit en geestesgesondheid, tot humor, nostalgie, futuristiese spanning en Kersfees‑betowering.
Die nuwe seisoen begin op Donderdag 1 Oktober en Radioteater word daarna elke Donderdagaand om 20:00 op RSG uitgesaai.
Die reeks bring van die mees bekroonde skrywers en regisseurs in Afrikaanse radio saam, met bekende name soos Herschelle Benjamin, Henriëtta Gryffenberg, Philip Rademeyer, Eben Cruywagen, Christien Neser, Sophia van Taak, Marius de Bruyn, Madeleine Venter, Almé Hugo, Maria Vos en Johan Rademan.
Op die rolverdeling verskyn ’n hele rits bekroonde gunstelingakteurs sowel as kraakvars nuwe talent uit die jonger generasie – ’n seisoen wat die volle spektrum van Afrikaanse stemme vier.
Die radioteater seisoen open met, Joshlin – meer as ’n naam, geskryf deur Herschelle Benjamin en deur Henriëtta Gryffenberg vir die radio verwerk. ’n Ma word tydens ’n vreemde hofsaak in die hof van openbare mening met die verdwyning van haar elfjarige seun gekonfronteer. Die verhaal ondersoek kinderuitbuiting, mensehandel en die wyse waarop ’n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare oordeel oorgeneem kan word. Dit word op 1 Oktober uitgesaai.
Op 8 Oktober volg Morné Malan se Tuimelduif. ’n Tweelingbroer en -suster van Mosselbaai word ná jare herenig om hul ma se sewentigste verjaardag te vier. Progressiewe Alzheimer se siekte, en onverwerkte verlies dwing die Van Rensburg-gesin om moeilike waarhede in die oë te kyk. Dit is ’n verhaal oor wat dit beteken om mekaar werklik nodig te hê.
Niel Steenkamp se Pieter se pa bring op 15 Oktober ’n ligter blik op die verlede. Herman is verheug dat sy dogter met Pieter wil trou, maar wanneer sy vrou foto's van meisies uit Herman se jong dae ontdek, moet hy vinnig verduidelik waarom elkeen van dié romantiese afsprake op ’n fiasko uitgeloop het. Dit is ’n humoristiese verhaal oor die dinge waaroor ’n mens jare later uiteindelik kan lag.
Op 22 en 29 Oktober word die tweedelige Stinkhout uitgesaai. Philip Rademeyer se verhaal is deur Eben Cruywagen vir die radio verwerk. Ná sy broer se skielike dood keer Louw terug na die kleinhoewe waar hy grootgeword het en word hy met sy pa, Gert, herenig. Ou wonde word oopgekrap, terwyl ’n enorme witstinkhoutboom as stille getuie staan van alles wat oor dekades op dié familiegrond gebeur het. Dit is ’n aangrypende verhaal oor ’n pa en seun wat mekaar probeer vind terwyl hulle rekenskap van die verlede gee. Cruywagen is vroeër vanjaar oorlede, en Stinkhout was die laaste teks wat hy vir RSG verwerk het. Die uitsending daarvan is daarom ook ’n besondere viering van sy werk en sy kosbare nalatenskap aan die Afrikaanse radio.
Marius de Bruyn se Seeskulp volg op 5 November. Eleanor, ’n letterkundedosent wat met ’n terminale breingewas gediagnoseer is, ontmoet Jonathan, ’n eksentrieke jong student wat ’n boek skryf. Namate ’n komplekse vriendskap tussen hulle ontwikkel, rig Eleanor ’n vreemde versoek aan hom – een wat albei se lewens vir altyd kan verander.
In Die oorlogklavier deur Christien Neser word luisteraars op 12 November op ’n reis deur tyd geneem. ’n Klavier wat al meer as ’n eeu in die Swanepoel-gesin se huis staan, word die sleutel tot ’n verhaal uit die Anglo-Boereoorlog. Die skoolgaande James ontdek ’n geskiedenis van sterk vroue, slim planne, oorlewing en liefde oor kontinente heen... En uiteindelik ook die oorsprong van sy eie naam en rooi hare.
Sophia van Taak se Halfpad daar word op 19 November uitgesaai. Retha is ’n vrou in haar veertigs wie se senuwees begin uitrafel. Werksdruk en ander mense se verwagtinge laat haar aan haar lewenskeuses twyfel. Dan is daar ook die eise wat sy aan haarself stel. Wanneer sy haarself in ’n emosionele put bevind, moet sy ’n manier vind om weer uit te klim.
Op 26 November volg Madeleine Venter se Kraaines. Terwyl Ronel haar oorlede pa se besittings oppak, ontdek sy ’n brief wat haar wêreld laat kantel. Haar soeke na antwoorde trek haar al dieper in ’n kraaines van familiegeheime en leuens in.
Die oudit deur Almé Hugo word op 3 Desember uitgesaai. Mieke begin haar eerste werk as ’n intern en probeer uit haar ouerhuis ontsnap, al bestaan haar kantoor hoofsaaklik op haar skootrekenaarskerm. Wanneer ’n joernalis antwoorde oor ’n finansiële bedrogsaak begin soek, lek die werkswêreld uit Mieke se rekenaar tot in haar woonstel en dreig dit om haar in te sluk.
Op 10 Desember pak luisteraars Die laaste kilometer saam met Maria Vos aan. Leon, ’n onuitstaanbare sakeman, hardloop halfmarathons in al nege provinsies ten bate van liefdadigheid. Terwyl sy heldedade noukeurig vir sosiale media gedokumenteer word, lyk die werklikheid agter die skerms egter heel anders. In die Noord-Kaapse hitte begin sy sorgvuldig opgeboude beeld en sy skynbaar perfekte lewe uitrafel.
RSG maak op 17 Desember ’n besondere argiefopname van Adam Small se Kanna hy kô hystoe weer hoorbaar. Small sou vanjaar 90 jaar oud geword het. Die drama, wat deur Johan Rademan vir die radio verwerk is, vertel die bekende verhaal van Kanna, Makiet se grootmaakkind, wat die geleentheid kry om deur opvoeding aan die onderdrukking en armoede van Distrik Ses te ontsnap. Vir die mense wat agterbly, word sy moontlike terugkeer ’n simbool van hoop.
Op 24 Desember volg nog ’n argiefhoogtepunt: Die laaste woord deur Lee Doubell, wat vroeër vanjaar oorlede is. RSG bring met dié uitsending hulde aan ’n skrywer wat met ’n besonder visionêre blik na die toekoms gekyk het. Die drama speel af in ’n futuristiese, apokaliptiese wêreld waarin Masjien en Vlees teen mekaar te staan kom. Met kunsmatige intelligensie wat vandag al hoe meer deel van die alledaagse lewe word, is die vrae wat die verhaal stel meer tersaaklik as ooit.
Luisteraars kan op Kersdag uitsien na die spesiale Kersdrama, Die grootste hiervan, deur Hendie Grobbelaar. Issie en Dries, ’n bejaarde egpaar wat tydelik in ’n woonstel woon, ontvang ’n virtuele assistent genaamd VERA as Kersgeskenk van hul uitvinder-dogter. Wanneer ’n verskriklike ramp op Oukersaand plaasvind, word vier mense se geloof en hoop tot die uiterste beproef terwyl VERA skynbaar buite haar programmering begin optree. Sal hulp betyds opdaag?
Die seisoen sluit op 31 Desember op ’n humoristiese noot af met Eugene Pienaar se Drie knape en ’n oujongnooi. Katram van die planeet Uririto, word per ongeluk na die aarde verplaas en beland in die agterplaas van die befoeterde Sarie. Kommunikasieprobleme, twee buitenaardse geregsdienaars en ’n onverwagse herontmoeting met ’n ou skoolkys lei tot ’n reeks skreeusnaakse situasies.
RSG se radioteater is waar Afrikaanse stories, legendes van radio en blinknuwe talent steeds koning kraai. Nooi almal wat jy ken om saam te luister, want niks bring mense bymekaar soos ’n goeie storie nie.
Die beste daarvan vind jy, soos altyd, op RSG.
- Lokprent deur GC van Pixabay

