Persverklaring: RSG Radioteater se Meeu-rus deur Jana Nortier op Donderdagaand 2 April om 20:00

  • 0

Francois van Rensburg, Ryno Hattingh, JD Labuschagne, Juanita de Villiers, Christine Voorendyk, voor Dipalesa Motau, De Waal Stemmet, Kim Cloete, Stephanie Baartman, en Christelle Webb-Joubert

Die seisoen begin op Donderdag 2 April met die derdeplekwenner in die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV, Meeu-rus, deur Jana Nortier. Jana het vir lank die rol van Sussie vertolk in die sepie, Villa Rosa. Sy het veral bekendheid verwerf met die Wimpy-advertensie, waarin haar karakter gesê het: “Ag Henry, I love it when you talk foreign.” Dis die eerste keer, sover ons weet, dat daar twee regisseurs aan een drama gewerk het. Christelle Webb-Joubert en Juanita de Villiers is ’n gedugte span. “Weens my swak sig is Juanita nie net my ekstra paar oë nie, maar sy het regtig ’n wonderlike gawe as dit by redigering kom. Ons vul mekaar aan en het oor die algemeen dieselfde visie,” verduidelik Christelle.

“Ons poog om die drama so eerlik en eg as moontlik te laat klink. Gelukkig is daar niks fout met Christelle se gehoor nie,” lag Juanita.

Juanita de Villiers, Ryno Hattingh, en Christelle Webb-Joubert

Dawid de Kock se dood het heelwat vrae laat ontstaan in die gemoedere van sy seun, Hein, sy dogter, Elna en sy buite-egtelike seun, Stefan, aan wie die familieplaas, Meeu-rus, bemaak is. Wanneer die boedelbeampte, Landi Arendse, haar verskyning maak, raak die geheime al hoe meer tergend en die vraagtekens al hoe groter. Simon Moses, Ou Loes se man, het 30 jaar tevore verdwyn, en Landi erken dat sy Simon se dogter is. Sy glo haar pa is vermoor. Op ’n kasset word skokonthullings ontdek wat alle onsekerhede uit die weg ruim.

Christine Voorendyk, Francois van Rensburg, Stephanie Baartman en De Waal Stemmet

Christelle Webb-Joubert is die regisseur en Juanita de Villiers is haar regterhand. Die bekende akteur en hartebreker van jare gelede, Ryno Hattingh, is vir die eerste keer in jare weer te hoor in radioteater. Kim Cloete keer ook terug na radioteater saam met De Waal Stemmet, Stephanie Baartman, Christine Voorendyk en Francois van Rensburg in die rolverdeling.

Meeu-rus, deur Jana Nortier, Donderdagaand 2 April in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top