
Rian Terblanche, Izel Bezuidenhout, Heidi Mollentze, Erin Patience en Johny Klein; voor is Pietie Beyers
Lyne wat kruis deur Wilmi Wheeler, is die derdeplekwenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.
Luisteraars word uitgenooi om iets te ervaar wat dalk in ons eie woonbuurte ook voorkom. Lyne wat kruis is nie net iets besonders nie, maar bied sosiale bewustheid en ook uiteindelik ’n moontlike roete na hulp. Die regisseur, Pietie Beyers, het musiek gaan soek in die uithoeke van ons bestaan, om aan te sluit by Wheeler se kragtige teks, ’n ongelooflike ensemble, en die puik tegniese span. Beleef hierdie uur van betekenis. Dit is Lyne wat kruis.
Janine is 19, vol twyfel en vars in die grootmenswêreld. Haar eerste werk – in ’n oproepsentrum vir ’n versekeringsmaatskappy – voel eerder soos ’n daaglikse toets wat sy net nie kan slaag nie. Twee maande in en sy het nog nie ’n enkele polis verkoop nie.
Lindsay, ’n meer ervare kollega, gooi vir haar ’n reddingsboei: ’n lys van kliënte wat aanlyn oor lewensversekering navraag gedoen het. Heel bo aan die lys: Maggie Grove. Janine verwag nog ’n standaardoproep, nog ’n ongemaklike of ongeskikte “nee dankie”, maar wat sy kry, is iets heel anders.
Maggie is ’n ouer vrou vasgevang in ’n toksiese huwelik en met elke gesprek trek sy Janine al dieper in haar wêreld in. Wat begin as ’n poging om darem een polis te verkoop, verander in ’n onverwagse vriendskap.
Dit is Lyne wat kruis deur Wilmi Wheeler met Pietie Beyers as die regisseur, en Izel Bezuidenhout, Heidi Mollentze, Erin Patience, Johny Klein en Rian Terblanche in die rolverdeling.
Skakel in op Donderdagaand 17 April om 20:00 op RSG of rsg.co.za, ook beskikbaar as potgooi en op Spotify.
Sien ook: https://www.rsgplus.org/donderdagaand-luister-na-lyne-wat-kruis/
Van die skrywer: Wilmi Wheeler
Een van die belangrikste lesse wat ek in 2019 by die RSG Slypskool geleer het, is om te skryf oor iets wat jy ken. Nie net omdat dit geloofwaardigheid gee nie, maar omdat jy dan die klein besonderhede kan vasvang wat ’n storie eg laat voel. Ná universiteit het ek vir ’n rukkie by ’n oproepsentrum gewerk. So, ek weet hoe dit voel om ’n kopstuk aan te sit en met ’n onnatuurlike opgewekte stem mense te probeer oortuig om iets te koop wat hulle glad nie wou hê nie. Ek weet hoe kollegas in hierdie kantore mekaar bemoedig en saam hul oë rol vir moeilike kliënte. Ek ken daardie mure met opgeplakte motivational quotes en rympies wat niemand eintlik inspireer nie.
Maar net omdat ek oor iets skryf wat ek ken, beteken dit nie ek hou dit vervelig en alledaags nie. Ek hou daarvan om dit met ’n ekstreme scenario te kombineer – om te vra: Wat is iets dramaties wat in hierdie situasie kan gebeur? En dan vat my verbeelding dit verder. In hierdie geval het ek begin met ’n konsep waarmee baie mense sal kan vereenselwig: ’n jongmens wat sukkel om by haar eerste werk aan te pas. Maar wat as, in haar desperate poging om suksesvol te wees, haar telefoonlyn kruis met iemand anders s’n en sy in ’n heel ander wêreld getrek word? Wat as ’n gewone verkoopsoproep haar in ’n situasie plaas waarvoor sy glad nie voorbereid is nie? En wat as dit nie net haar werk raak nie, maar haar hele lewe verander?
En dit is toe hoe Lyne wat kruis gebore is...

