
Deon Lotz, Leon van Nierop, Ria Smit en Rico Immelman
Liesbet bring drie treinentoesiaste bymekaar.
Die akteur Deon Lotz, wat as kelner in sy jongdae diens gedoen het op stoomtreine, die byklanke-operateur Frikkie Wallis, wat langs ’n treinspoor grootgeword het, en Leon van Nierop wat ook langs ’n treinspoor mens geword het en ’n paar keer as kind nog in stoomlokomotiewe gery het. Hy het ook as student tussen Johannesburg en Stellenbosch op sulke treine in die vroeg sewentigs gery, ses mense per kompartement! Dit was vir Leon tragies om te sien hoe mooi stasies verval het en spoorstawe gesteel word.
Met Liesbet (die naam van ’n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word die herinneringe van vergange se dae teruggebring, wanneer ’n ou stoker, Absolom, deur ’n hotelgroep aangesê word om ’n lokomotief te restoureer en toeriste gereeld met ’n stoomtrein na ’n stasie te vervoer waar ’n hotel pas gebou is.
Hy ontmoet ’n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ’n lewensveranderende invloed op mekaar.
Deon Lotz vertolk die rol van die stoker en nuweling Rico Immelman is die seun. Dis ’n unieke reis waar twee mense in 2025 terugreis na die verlede en weer mens word.
Die idee is gebore toe Leon die boek Op die spoorweg deur David Williams gelees het waarin vertel word hoe jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ’n tradisie en kom in die drama voor.
Boonop het Leon die kans gehad om die gesoute Deon Lotz ’n Noord-Kaapse aksent te gee en hom teenoor die 17-jarige Rico Immelman van TV se Spooksoekers te plaas. Daardie kombinasie stemme het nuwe lewe aan die teks gegee; ook Frikkie Wallis se treinbyklanke, waarvan hy sommige self moes vervaardig.
Leon het ook iemand ontmoet wat aan disleksie ly en eerstehands kon beskryf hoe moeilik dit is om die letters agtermekaar te plaas. Letters en spoorstawe ontmoet in hierdie drama.
Leon van Nierop het ook die regie van Liesbet behartig en beskryf dit as die moeilikste tegniese produksie wat hy nog onderneem het. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit.
Liesbet deur Leon van Nierop, Donderdagaand 25 Junie in Radioteater om 20:00 op RSG, of rsg.co.za en die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

