Persverklaring: RSG Radioteater se Leniesgif op Donderdagaand 24 April om 20:00

  • 0

Agter: Ronel Geldenhuys, Amor Tredoux, Lochner de Kock, Carel Nel. Voor: Conradie van Heerden, Anene Loots, Talana Rossouw

Leniesgif deur Hendie Grobbelaar is die naaswenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

***

Wat het ’n skrywer, ’n skat en ’n pratende hond gemeen?

Benjamin de Kai is ’n uitgebrande en ontnugterde liefdesverhaalskrywer wat probeer om ’n ernstige roman die lig te laat sien. 

Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, dwing hom om by Leniesgif, haar afgeleë familiehuis langs die Kaapse Suidkus, te gaan werk sodat hy kan fokus en sy manuskrip voltooi.

Leniesgif is egter die woonplek van ’n paar spoke, soos Benjamin tot sy ontsteltenis ontdek. Lenie Kruger, haar stiefdogter Hanna, die bekkige Franse matroos, Thomas, en die pratende hond, Goebbels, het elkeen ’n geheim en ’n versugting om afsluiting.

Dan is daar natuurlik die weggesteekte skat, en hoe pas Benjamin in Dania se slinkse plan?

Hendie Grobbelaar, die skrywer, vertel:

Net buite my dorp, Gouritsmond, kronkel ’n grondpad van 11 kilometer langs die see af in die rigting van Stilbaai. Menige skip en vissersboot het hul laaste rusplek langs hierdie ruwe kuslyn gevind, soos ook die SS Haliartus in 1932 met heelwat “skatte” aan boord. Die skatte was wel in die vorm van blikkieskos, motorbande en algemene ware, maar nietemin skatte wat die plaaslike inwoners baie geniet het.

Langs hierdie grondpad is ’n paar plase met ’n veelkleurige geskiedenis. Een van hulle is die ou murasie op Neliesgift. Die spesifieke stukkie grond is desjare aan die kerk geskenk deur ’n sekere oom Neels – vandaar die naam. Met die jare het die ‘t’ van gift verlore geraak. Die kerk het Neliesgift verkoop. Die nuwe eienaar het hy sy vakansiehuis daar gebou met rotse uit die see. Hy wou ’n vakansieoord ook bou, maar die munisipaliteit het ’n stokkie daarvoor gesteek, aldus ’n familielid.

Vir jare was Neliesgif se murasie die agtergrond van menige huwelikspaartjie se troufoto’s, maar die struktuur het sodanig verbrokkel dat die huidige eienaar dit wys geag het om te sloop.

Soos dit enige ordentlike murasie betaam, het die stories ook geloop van spoke by Neliesgif... Vandag is nog net die naam op die ou klipmuur sigbaar.

My radioverhaal van Leniesgif en sy karakters is totaal fiktief en die naam is ook effens gewysig.

***

Amor Tredoux is die regisseur. Carel Nel is stem wat die rol van Benjamin vertolk. Lochner de Kock, Ronel Geldenhuys, Conradie van Heerden, Talana Rossouw (debuut) en Anene Loots (debuut) voltooi die ensemble.

Skakel Donderdagaand 24 April om 8 uur in op RSG of rsg.co.za, of op potgooi.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top