Persverklaring: RSG Radioteater se Desembersterre deur Helena Hugo

  • 0

Estel de Beer, Botha Enslin, Lizelle Pike, Sean Brebnor, Mia-Anne O'Kennedy, Rian Terblanche en Dihan Keun (Foto verskaf)

Glanspaartjies en die leefwêreld van bekendes is nie altyd maanskyn en rose nie. In Desembersterre wat op 13 November uitgesaai word,  het Helena Hugo haar ervaring as aktrise en skrywer vervat in ‘n pittige komedie wat juis die wel en weë van die voorbladgesigte ontbloot.

Die lewens van bekende sepiesterre prikkel die verbeelding van Jan Alleman. Voorblaaie vertel die stories van hul lewens agter die kameras. Deesdae neem sterre die storie in hul eie hande en deel hul lewens op sosiale media. Beide die platforms vertel steeds net geselekteerde en soms gepoetste weergawes van dit wat die sterre en die vervaardigers met ons wil deel. Desembersterre bied ‘n humoristiese kyk op die regte lewens van ‘n paar sepiesterre en ons leer meer oor hul persoonlike en professionele uitdagings.

Oor die skrywer: Helena Hugo

Sy sê: “Ek het my CV gaan raadpleeg en met 'n skok besef dat ek my eerste radiotekste al in 1978 geskryf het!”

"Atlantis", 'n vervolgverhaal van 15 episodes was vir Iris Bester se Jongspanateljee.

Daarna het sy verskeie boekverwerkings gedoen voordat sy haar eie stories vir volwassenes begin skryf en opgevoer het. Sy is nogal trots is op haar  ATKV-veertjie vir "Swane".

Hugo sê “radiodrama as genre fassineer my geweldig en ek is dankbaar dat ek steeds my bydrae kan lewer.”

Desembersterre is geskoei op 'n komiese liefdesverhaaltjie wat Helena 'n paar jaar gelede geskryf het. Dit is gebaseer op haar eie ervaring van die toneelwêreld, die wel en weë van akteurs, aktrises en ja, gewilde sepiespelers. Agter die skerms is hulle ook maar net gewone mense wat hopelik soms vir hulself  kan lag.

Oor die regisseur: Estel de Beer

Sy sê: “Ek het besluit om die karakters, selfs wanneer hulle nie op die kassie is nie, ietwat as karikature uit te beeld. Nie omdat akteurs in die regte lewe altyd so is nie, maar omdat die publiek soms vergeet dat akteurs ook net gewone mense is. Helena se spitsvondig skryfstyl en dialoog in die drama het juis ruimte geskep vir die interpretasie. Ons leun werklik in die drama in.”

Desembersterre het talle musiekbrûe. Dit spreek ook tot die wêreld van die vermaaklikheidsindustrie waar musiek ‘n groot rol speel in die vervaardiging van produksies. Daar is deur die hele drama van instrumentale musiek gebruik gemaak sodat die enigste dialoog die van die akteurs is, juis omdat die kollig altyd op hulle val. Die liedjies is egter nie lukraak gekies nie en musiekliefhebbers wat die liedjies herken sal verstaan hoe die lirieke (wat jy in jou gedagtes kan saamsing) by spesifieke tonele inpas.

Die drama is ‘n soos hulle in Engels sê “a slice of life”.

 Estel sê “dit is so tipies ‘n geval waar die lewe gebeur terwyl ons besig is om toekomsplanne te maak. Dis in hierdie gewone oomblikke, die moeilike besluite en die draaie van die lewe wanneer daar soms magiese ontmoetings plaasvind. Die vraag is of ons ingesteldheid van so aard is dat ons hierdie wonderlike oomblikke in die lewe kan sien vir die draaipunte wat dit is. Of snel ons so van een droom na ‘n volgende dat ons hierdie oomblikke nie kans gee om wortel te skiet in ons lewens nie?”

Uitsaaityd

Desembersterre deur Helena Hugo met Lizelle Pike, Dihan Keun, Botha Enslin, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor en Rian Terblanche in die rolverdeling. Estel de Beer het die regie behartig. Skakel in op 13 November om 20:00 op RSG of rsg.co.za. Beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top