Persverklaring: RSG Radioteater se Daar leef mense daar, ’n huldeblyk aan Athol Fugard

  • 1

Dié drama, Daar leef mense daar (2012), word op 6 November weer uitgesaai as huldeblyk aan die bekroonde dramaturg Athol Fugard wat vroeg in 2025 oorlede is.  Fugard was alom bekend as dramaturg van protesteater. Die toneelstuk is vir die eerste keer in 1968 in Suid-Afrika opgevoer. Met Daar leef mense daar (People are living there) beeld hy in die tragikomedie ’n middeljarige vrou, Millie, uit wat vasgevang is tussen haar verlange na betekenis en die harde werklikheid van haar eensaamheid.  Die toneelstuk is vertaal deur Marko van der Colff en vir die radio verwerk en regisseer deur Margo Luyt.

Die radiodrama speel af in ’n vervalle losieshuis in Johannesburg met ’n paar karakters wat elkeen hulle eie storie het om te vertel. Millie, die middeljarige eienares van die losieshuis, wat afgesonder en onvergenoegd voel, probeer te vergeefs die aandag van ’n lang verlore kennis trek. Sy beraam planne om vir die buitewêreld te wys dat haar lewe en haar huis nog ’n plek is waar mense kan leef.

Die loseerders in haar huis word opgekommandeer om haar met hierdie planne by te staan. Don is ’n filosoof van aard wat sy intellektuele vermoë laat geld deur gedurig Millie se geestestoestand te analiseer. Shorty, ’n ongeskoolde posbode, loseer saam met sy vrou Sissy by Millie. Op die vooraand van haar verjaarsdag besluit sy om ’n partytjie saam met haar loseerders te hou in ’n poging om te bevestig dat “mense daar woon”, dat hul lewens betekenis het ten spyte van hul onbekendheid en eensaamheid. Soos die aand ontvou, verander die partytjie in ’n rou, emosionele konfrontasie oor mislukking, veroudering en die behoefte aan menslike verbintenis.

Marko van der Colff het dit vertaal in Afrikaans. Margot Luyt het die drama vir die radio verwerk en die regie behartig. In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick.

Daar leef mense daar deur Athol Fugard word op 6 November om 20:00 op RSG en op rsg.co.za uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op rsg.co.za as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

  • 1

Kommentaar

  • Louisa Mercer

    Ontsettend geniet 👏👏👏 Baie dankie.
    Die "sound effect", by klanke en akteurs was uit die boonste gestaltes, ek, Afrikaans en my Engelse man het dit so geniet. Jy kan letterlik die karrakters in jou gedagtes sien afspeel. Ons het dit so geniet 👏👏👏

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top