Persverklaring: RSG Radioteater met klassieke genot te kus en te keur op Donderdag 11 Junie

  • 0

Foto deur G.C. van Pixabay

RSG Radioteater bied Donderdag nie net een nie, maar twee radiodramas aan.  Frank en Gladys deur Tom Stoppard, vertaal deur Roy Niemann, kan gehoor word op RSG Donderdagaand 11 Junie om 8 uur. Nog ’n klassieke radiodrama, Amadeus, deur Sir Peter Shaffer, vertaal en verwerk vir radio deur Nerina Ferreira, sal eksklusief op potgooi beskikbaar wees as deel van die klassieke aanbod.

Frank en Gladys, ’n klassieke argiefradiodrama deur Tom Stoppard, is deur wyle Margot Luyt regisseer. Roy Niemann, wat ook ’n rol in die radiodrama vertolk, het gesorg vir die vertaling. Frank skakel die telefoondiens wat die korrekte tyd aandui, maar herken dadelik die vrouestem aan die ander kant van die lyn. Dis sy oorlede vrou, Gladys! Hy besluit om die gebou wat hierdie diens lewer, binne te vaar en te eis dat die Owerhede sy vrou vrylaat.

Die spelers is Lourens Cillié, Leona Rich, Dawie Ackerman, Trudie du Plessis, Louw Verwey, Kitty Albertyn, Amanda Muller, Paul Malherbe, Limpie Basson, Christine Liebenberg, Johan Rademan en Roy Niemann. Roy Niemann het dit ook vertaal en Margot Luyt het die regie behartig.

Frank en Gladys deur Tom Stoppard is Donderdagaand 11 Junie te hoor in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG APP, SABC Plus en is ook beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die Britse dramaturg Sir Peter Shaffer se geboorte 100 jaar gelede word op Donderdag 11 Junie herdenk met ’n eksklusiewe potgooi van sy meesterwerk Amadeus. Sir Peter is 15 Mei 1926 gebore en Wolfgang Amadeus Mozart is 270 jaar terug gebore op 27 Januarie 1756. Amadeus is spesiaal vir die radio vertaal en verwerk deur Nerina Ferreira. Margot Luyt het ook dié regie meesterlik behartig.

Uit die vele samesweringsteorieë oor Wolfgang Amadeus Mozart se dood is die weergawe wat die komponis Antonio Salieri impliseer bekend vanweë die drama Amadeus. Mozart het van kindsbeen af musieklesse ontvang onder leiding van sy pa Leopold. Wolfgang het as kind regoor Europa al naam gemaak as ’n musikale wonderkind. In die konteks van die storie was Antonio Salieri nie so gelukkig in sy kinderjare nie. Sy droom om eendag te dien met musiek was ’n ernstige gebedsaak. In ’n oomblik van weerloosheid lê Salieri ’n eed af om te dien met musiek en sy hele lewe daaraan te wy. Sy gebed kom tot vervulling toe hy as hofkomponis vir die Keiser van Oostenryk aangestel word. Sy posisie en status word egter bedreig met Mozart se aankoms in Wene.

Wat volg is ’n orkestrale tweestryd met romantiese liefde, ego’s, operas, simfonieë en concerto’s. Mozart is oorweldig deur sy sukses en die uitspattige lewe in Wene, maar die lewenskoste in dié keiserlike stad eis sy tol. Hy wend hom tot sy goeie vriend Salieri om hulp – met noodlottige gevolge in die lang termyn. Intussen behaal Mozart die een groot sukses na die ander en Salieri moet elke musieknoot in die stryd werp om sy aansien te behou.

’n Onvanpaste besoek deur Mozart se vrou, Constanze, is net die geleentheid wat Salieri nodig het om Mozart in onguns by die keiser te bring te. Die nuus van ’n nuwe kontroversiële opera waaraan Mozart werk, raak bekend en Salieri besluit om die hof en die keiser daarmee te beïnvloed. Salieri woon die eerste opvoering van Die huwelik van Figaro by en vind die werk onverbeterlik. Sy jaloesie dryf hom tot breekpunt en hy begin glo dat Mozart die musikale uitverkorene is en nie hy nie. Salieri sweer sy vroeëre eed af en besluit dat hy hom daarvoor gaan beywer om Mozart se ondergang te bewerkstellig.

Musiek was eens Salieri grootste liefde en nou word dit sy grootste wapen. Toe Mozart se vader onverwags sterf, tref dit hom diep en ’n donker en somber tyd breek aan. Salieri sien die geleentheid as ’n metode om die uitverkorene tot ’n val te bring. Shaffer bring die storie tot ’n meesterlike einde met ’n duidelike wenner en verloorder met musiek wat eeue al gehoor word van een en stilte van die ander.

Die verhaal is nie op die werklikheid gebaseer nie. Wolfgang Amadeus Mozart se dood bly ’n groot raaisel. Sir Peter Shaffer het Amadeus vir die teater geskryf en is vir die eerste keer in 1979 opgevoer. Dit het groot sukses behaal in verskeie lande regoor die wêreld. Sir Peter het saam met die rolprentregisseur Milos Forman die toneelstuk verwerk in ’n draaiboek wat in 1984 die lig gesien het as die fliek Amadeus.

André Rossouw vertolk Salieri en die gevierde verhoogregisseur Marthinus Basson is Mozart. Ander spelers is Shirley Ellis, Dawid Minnaar, Herman Pretorius, Paul Malherbe, Pieter Cilliers, Dawie Ackerman, Johan Rademan, Jan Lombard en Pieter Bredenkamp. Albie van Schalkwyk het die klavesimbel bespeel en saam met Charmaine Ferreira opgetree as musiekadviseur. Margot Luyt het die regie behartig.

Amadeus deur Sir Peter Shaffer en vertaal en verwerk vir radio deur Nerina Ferreira met regie deur Margot Luyt, is Donderdag 11 Junie eksklusief beskikbaar as potgooi op rsg.co.za, die RSG APP, SABC PLUS en Spotify.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top