Persverklaring: RSG Radioteater, Gebakte pere deur Karin du Toit op Donderdagaand 9 April om 20:00

  • 0

Agter Christopher van der Westhuizen, JJ Roberts, Dihan Keun, voor Lelia Etsebeth, Izel Bezuidenhout, Marina Coetzee, Gretha Brazelle

Karen du Toit is as gesamentlike naaswenner aangewys in RSG se 2025 radiodramaskryfkompetisie, in samewerking met ATKV. Haar radiodrama, Gebakte pere, word uitgesaai op 9 April om 20:00.  Die regisseur is Lelia Etsebeth met Christopher van der Westhuizen, Dihan Keun, JJ Roberts, Izel Bezuidenhoud, Marina Coetzee en Gretha Brazelle in die rolverdeling.

Om met gebakte pere te sit klink nie te erg nie. Dit klink soos ‘n klein probleem. ’n Probleem wat nie groter kan wees as ‘n vrug nie. As die sogenaamde klein probleem egter dag en nag huil en skree vir skynbaar geen rede nie en sy oppassers skielik geen slaap inkry nie, hul klasse misloop en skaars kans kry om te eet of te stort, blyk ‘n klein Peertjie ‘n yslike probleem te wees. Die karakters in Gebakte pere word gedwing om hul uitdagings in die oë staar.

Die storie

Marnus se eerste dag op universiteit kon nie met ’n groter skok begin het nie. Emma daag ná maande se stilswye skielik by die woonstelblok, waarin hy sal tuisgaan, op met die nuus dat hy die pa van ’n kind is. Sy laat die baba in die drie woonstelmaats se sorg en sê sy het die fopspeen in haar motor vergeet. Sy kies wel die hasepad. Vyf dae lank het die drie probeer huishou met klein Peertjie, en uiteindelik bel Adriaan sy tante Magda om te vertel van Marnus se gebakte pere. Magda kom haal die kind en vier jaar later, by die gradeplegtigheid, is dit duidelik dat Marnus en Emma versoen is en met Magda se hulp, die trotse ouers van die 4-jarige Nathan is.

Van die regisseur, Lelia Etsebeth 

Elke karakter gaan op ‘n reistog van selfondersoek vol laagte- en hoogtepunte. As regisseur wou ek hierdie reistog reflekteer in die klankbaan van die stuk. Ek het veral gefokus op die hoofkarakter, Marnus, se emosionele ontwikkeling. Die verhaal skop af met Marnus wat opgewonde is om sy studentelewe in Potchefstroom te begin. Gegewe dat die hoofkarakters hedendaagse studente is maar die teikengehoor tradisioneel ouer is, was my eie uitdaging as regisseur om musiek te kies waarby beide ‘n jong gehoor en ‘n senior gehoor aanklank sal vind. Gebakte pere is ‘n verhaal wat die hele familie laat lag en huil en net so is die klankbaan ontwerp vir die hele familie.

*

Gebakte pere, deur Karin du Toit, Donderdagaand 9 April in Radioteater om 20:00 op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top