Persverklaring: RSG Radioteater, Broodlyn op Donderdagaand 12 Junie om 20:00

  • 0

Agter: Hein Poole, Karli Heine, Angelo Bergh, André Samuels, Lee Roodt; voor: Ingrid Vraagom en Chloè van Rooyen

As kind het Franklyn die besluit gemaak om nooit weer onder die broodlyn te lewe nie. Hy sal self bepaal waar die broodlyn lê, maar regverdig die doel altyd die middele? As enkelouer het hy nog altyd sy seuns eerste geplaas, maar die twee het hulle eie agendas. En hoe gemaak as jou gesag skielik bevraagteken word, jou naastes jou verraai, en dit lyk asof jy nie eers op jou eie geheue kan staatmaak nie? Hierdie vrae maal in Franklyn se kop.

Die rolverdeling is as volg, André Samuels, Hein Poole, Angelo Bergh, Ingrid Vraagom, Lee Roodt en Karli Heine.

Regie is behartig deur Chloè van Rooyen wat hiermee debuteer as regisseur.

Chloè van Rooyen oor Broodlyn:

Broodlyn was oorspronklik ’n teaterstuk wat verwerk is na ’n radiodrama. Dit het gesorg vir ’n teks met baie lae en komplekse karakters. Die storie is ook ’n belangrike een wat temas aanspreek soos vaderskap, verlies, die belang van ’n gemeenskap en die soeke na identiteit.  Al loop die spanning hoog, is daar oomblikke waar die musiek en liedjies verligting bring en die Klopse se musiek die wêreld verder inkleur. 

Dit was my eerste keer in die regisseurstoel, en ek is hals oor kop verlief. Ek het nie besef dat ek dit so baie sou geniet nie. Dit het ook gehelp dat die span fantasties was. Hulle was ’n fees om mee te werk. ’n Jong akteur soos Angelo Bergh, wat ’n natuurlike talent het, wat bereid is om te leer en aanwysings goed vat, is ’n regisseur se droom. Veterane soos André Samuels, wat met sy jare se kennis nog steeds ruimte gelaat het vir my om hom te stuur, Karli Heine wat gereed was om ’n  hand by te sit waar ook al dit nodig was, Ingrid Vraagom wat jou met een word aan haar lippe laat hang en Lee Roodt wat gaaf genoeg was om sy musikale talente met ons te deel. Ek was skrikkerig om die skrywer ook in die ateljee te hê, maar Hein Poole het gesorg dat daar altyd ’n gelag was. Natuurlik was Cassi Lowers daar om die los idees wat ek in my kop gehad het te realiseer. Ons het gelag, gedans en gesing. Ons het magic gemaak. 

Daar was oomblikke waar ek myself tussen die akteurs bevind het, want ek dink beter as ek langs jou staan. Ek wou myself keer om nie te veel in die ateljee te gaan nie, maar wie het gesê ’n regisseur kan nie tussen die geselskap wees nie?

Van die skrywer, Hein Poole:

Die inspirasie vir Broodlyn het gekom vanuit ’n gemeenskap van vegters. Daar is ’n stigma van vaders wat nie help om hulle kinders groot te maak nie. Die grootmaak berus op die mammas terwyl baie vaders afwesig is. Daar is beslis uitsonderings, soos Franklyn: vaders wat hulle kosbare tyd en laaste geld aan hulle kinders spandeer. Die Engels gesegde “it takes a village to raise a child”  is gepas, en dit is wat ’n vaderfiguur help doen, bloed of nie bloed nie.

Die ondersteuning van gemeenskapsaktiwiteite, soos die gewilde klopsekultuur, is ’n goeie voorbeeld van hoe om ’n positiewe invloed te skep. Die talente van die plaaslike gemeenskap skep. Waar “deddies” aan die stuur van die leisels is, verloop die kinders se ontwikkeling, opheffing en grootword seepglad. Die trots in “deddies” se monde, laat die ore tuit. Dis die mooi van verhoudings tussen ’n vader en ’n kind, wat grootmaak en grootword, of toelaat om te laat groot wees.

Hulle sê mos: “Buig die boompie terwyl jy kan.”

Grootmens kan jy wees, maar kind sal jy altyd bly in liefde. Moenie terugpraat nie, respekteer. Doen jou kinderlike plig met verantwoordelikheid. ’n Vader se hartklop voel gelukkig as hy vir sy kind brood en botter op die tafel sit. In kleiner gemeenskappe is dit tradisie om te deel wat ook al jy kan, maak nie saak van die hoeveelheid nie. “Die een hand was die ander hand.”

Die magiese element is wanneer ’n “deddie” die hoof aan tafel is, die brood breek en met sy familie deel.

***

Broodlyn deur Hein Poole, Donderdagaand 12 Junie om 8 uur op RSG, of rsg.co.za, asook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top