Persverklaring: Pret met nuwe limeriekeveldtog

  • 0

Foto: verskaf

Die ATKV stel vandeesweek ’n splinternuwe limeriekeveldtog op sosiale media bekend. Dit volg op die gewilde idioomveldtog wat mense weer gewys het hoe prettig en pittig Afrikaans kan wees. Dié veldtog het ons ook herinner aan die verskeidenheid idiome wat in Afrikaans bestaan en aan al die idiome waarvan ons al vergeet het!

Die nuwe limeriekeveldtog is nes die idioomveldtog die breinkind van die aktrises Cindy Swanepoel en Anél Wood.

Anél sê die nuwe veldtog is daarop gemik om mense aan limerieke te herinner of hulle opnuut daarvan bewus te maak.

“Ons het daarvan op skool geleer, maar as jy van limerieke praat, sal die meeste volwassenes vra wat ’n limeriek is. ’n Mens vergeet maar daarvan soos die jare aanstap. Tog is limerieke so prettig om te lees en selfs te skryf en ons wil graag mense se aandag daarop vestig.”

Anél sê dat hulle met die nuwe veldtog ook ander taalverskynsels oorweeg het, maar hulle het limerieke vir ’n rede gekies.

“Limerieke het vir ons soveel stories gegee om mee te speel. Elke limeriek is ’n humoristiese of satiriese rympie met karakters en plekke wat ons met kleurryke dekor, kostuums, stem en karakterisering lewe kan gee. Ons kon dus baie lekker speel en as’t ware ’n wêreldjie vir elke limeriek bou.”

Volgens Anél is só ’n taalveldtog besonder waardevol omdat mense opnuut kan besef hoe kreatief, speels en kleurryk Afrikaans in eie reg is.

“Deur mense aan te spoor om hul eie limerieke te skryf, kan hulle ook die taal kreatief toepas en verken. As ’n mens eers met Afrikaans begin speel, sal jy verbaas wees hoe maklik dit is om interessante stories en grappies op te tower!” vertel Anél.

Limeriekemeester deel lesse

Aktrise Cindy Swanepoel noem dat daar ses weke lank elke week ’n uitbeelding van ’n limeriek op die ATKV se sosialemediaprofiele gaan verskyn. Die gehoor leer oor die verloop van die ses weke meer oor die limeriek se ritme, metrum, rym en vorm, en stuur dan weekliks reël vir reël hul beste pogings in. Die persoon wat die beste plaasvervanger vir ’n weggelate reël uit een van die limeriekemeester, Philip de Vos, se bestaande limerieke kan skryf, wen Philip se jongste boek, Die tantes van Atlantis. Uiteindelik word die sosialemediagehoor genooi om hul eie, nuwe, oorspronklike limeriek te skryf en in te stuur en só ’n kans te staan om ’n limeriekeboekgeskenkpak los te slaan.

“Ons het met die veldtog besef dat baie mense nie weet wat ’n limeriek is en wat dit behels nie. Limerieke het byvoorbeeld ’n sekere struktuur, rympatroon, ritme en dies meer. Dis baie interessant. Party limerieke is lekker lig en snaaks en ander kan weer nogal donker wees. Anél het ook haar hand aan een gewaag en ’n limeriek vir een van die uitbeeldings geskryf,” gesels Cindy.

Hulle wou nie net limerieke uitbeeld nie, maar mense ook meer van die limeriek en sy bou leer en daarom het hulle vir Philip de Vos genader, sê sy.

“Anél beskryf vir Philip as die Roald Dahl van Afrikaans en hy het vir ons wenke vir die skryf van limerieke gegee en ons het ook van sy limerieke vir uitbeelding gebruik.”

Philip noem dat ’n limeriek dalk eenvoudig lyk, maar jy moet eintlik verkieslik weke lank daaraan skaaf totdat jy weet dit is perfek. Daar is baie meer elemente daaraan as wat mense dalk besef ...

“Ek hoop die veldtog kweek by veral kinders ’n liefde of belangstelling in poësie en wakker hul kreatiwiteit aan,” sê Philip.

Hy vertel ook dat ons nie vreeslik baie limerieke in Afrikaanse digkuns sien nie, maar daar is wel goeie limerieke wat deur C.J. Langenhoven, Ellen Botha en De Wet Hugo geskryf is. Daar is dus beslis ruimte vir nog meesters van die Afrikaanse limeriek. 

’n Veldtog wat verras

Die wenspan vir hierdie veldtog het uit Cindy en Anél, André Badenhorst en Chris dos Santos, met Alan Sayers as videograaf, bestaan. Cindy vertel dat dit weereens heerlik was om saam met ’n span te werk wat hul beste lewer en wat tot die beste kreatiewe produk verbind is.  

Akteur Botha Enslin, wat in die idioomveldtog gesig gewys het, word ook weer in die limeriekeveldtog gesien.

“Dis vir my baie lekker om weer deel van ’n ATKV-veldtog te wees. Kyk, ek is net ingeroep om ’n komiese element te verskaf, maar Cindy en Anél is die meesterbreine en het wonderlike werk gedoen om die konsepte uit te dink. Die veldtog wys net weer hoeveel maniere daar is om Afrikaans op ’n lekker en kreatiewe vlak te gebruik en vir mense te wys dat idiome en limerieke nie net goed is wat jy op skool leer en dan vergeet nie. Dis ’n kreatiewe manier om jou taal in te kleur.”

Botha glo dat die limeriekeveldtog mense selfs meer as die idioomveldtog gaan verras.

“Anél en Cindy het werklik uit die boks gedink en soveel elemente gebruik dat dit multidimensioneel is. Dis iets wonderliks en mense gaan dit baie geniet!”

Botha sê hy hoop mense besef taal is nie net iets wat jy gebruik om gesprekke te voer of inligting in te neem en te deel nie, maar dis ook iets waarmee jy jou kreatiewe kant en identiteit kan wys.

Hou die ATKV se sosialemediablaaie hierdie Oktober op Instagram en Facebook dop om seker te maak dat jy nie die weeklikse limeriek misloop nie.

Wil jy ’n stuiwer in die armbeurs gooi en bydra tot die ATKV se veldtogte en projekte? Sluit vandag nog by die ATKV aan en vier jou liefde vir Afrikaans.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top