
Panyaza Lesufi. Foto: whohowwhen.com
Mnr. Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, se uitsprake oor onderwys in Afrikaans en sy opmerking dat ’n mens aan leerlinge ’n ondiens bewys deur hulle in Afrikaans te laat studeer, getuig van onkunde oor skolestelsels en moedertaalonderrig. So sê die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns by monde van die hoof- uitvoerende beampte, dr. Dionē Prinsloo. Mnr. Lesufi se vooroordeel teen Afrikaans kom al van ver en is strydig met die uitspraak van die nuutverkose president, mnr. Cyril Ramaphosa, se toespraak gister in die Parlement waarin hy
beklemtoon dat die Regering daar is om die belange van ALLE Suid-Afrikaners te bevorder en dus nie net die belange van een politieke party, die ANC, nie.
Dat meer as 7 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaanse moedertaalsprekers is of Afrikaans as tweedetaalsprekers elders en in die werksplek besig, is blykbaar nie vir mnr. Lesufi belangrik nie. Hy heg belang aan ’n koloniale taal wat vir ’n handjievol Suid-Afrikaners ’n moedertaal is en wat hoogs waarskynlik ook vir mnr. Lesufi ’n aangeleerde taal en nie sy moedertaal is nie.
Die belangrike posisie wat hy beklee, moet mnr. Lesufi eerder gebruik om gehalte-onderrig te bevorder, ongeag die taal waarin dit geskied. Die skreiende tekort aan skole behoort vir hom ’n prioriteit te wees, eerder as om politiek en die belange van sy eie politieke party te bevorder.
Dat Afrikaans ’n belangrike bydrae lewer tot gehalte-onderrig en die land se intellektuele kapitaal is bewys deur ’n onlangse studie van prof. Flip Smit, bekende demograaf, wat aangetoon het dat Afrikaanse onderwys slegs 10,6 persent van die nasionale onderwyssektor uitmaak, maar dat hierdie klein sektor 31,9 persent gelewer het van die totale aantal leerlinge wat wiskunde in 2016 met onderskeiding geslaag het.
Mnr. Lesufi moet ook seker maak van sy ongenuanseerde stelling dat daar nie meer Afrikaanse universiteite bestaan nie. Die Afrikaanse tersiêre sektor is nie dood nie, het dr. Prinsloo gesê. Die inisiatiewe rondom die stigting van private Afrikaanse tersiêre instellings, byvoorbeeld ’n geakkrediteerde instelling soos Akademia, neem die plek in van die huidige bedeling waarin die tradisionele universiteite ’n kniebuiging vir Engels as onderrig- en wetenskapstaal gemaak het.


Kommentaar
As sewe miljoen Afrikaanse moedertaalsprekers nie belangrik is nie, is moedertaalonderrig tog tot leerders se voordeel. Engels is 'n koloniale taal wat 'n minderheid se moedertaal is. Mnr Lesufi moet hom liewer besig hou om te sorg dat die gehalte van onderrig verbeter (in watter taal ook al) en dat daar voldoende skole is vir leerders. Geriewe soos toilette moet prioriteit gemaak word.