
Die volgehoue aanvalle op joernaliste wat vanuit Gasa verslag doen, kom neer op die mees ekstreme vorm van sensuur en die bestuur van PEN Afrikaans veroordeel dit ten sterkste. Hierdie joernaliste se stemme word met geweld stilgemaak en op hierdie wyse word die getuies wat eerstehands nuus oor die voortslepende volksmoord in Gasa waarneem en rugbaar maak, sistematies verwyder en vernietig.
The Guardian berig dat, volgens Gasa se mediakantoor, 237 joernaliste sedert Oktober 2023 daar gedood is, terwyl die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste, ’n onafhanklike Amerikaanse organisasie, met ’n getal van 186 gevalle joernaliste werk.
In die mees onlangse voorval is vyf joernaliste van die media-organisasie Al Jazeera op Sondag 10 Augustus dood in ’n aanval op die tent vir joernaliste by die hoofingang van die Al-Shifa-hospitaal in Gasa. Die Israelse weemag het bevestig dat hy die joernalis, Anas al-Sharif geteiken het, en beweer dat hy die hoof van ’n Hamas-terreursel was; ’n bewering wat ten sterkste deur Al Jazeera ontken word en waarvoor geen bewyse verskaf is nie.
Dit is in die openbare belang dat joernaliste vrylik en veilig oor oorloë en konflikte moet kan verslag doen. Om joernaliste doelbewus te teiken, is nie net ’n skokkende en onaanvaarbare aanval op die betrokke individu nie, maar ’n ernstige inbreukmaking op persvryheid, uitdrukkingsvryheid, universele menseregte én internasionale humanitêre reg wat vir joernaliste se beskerming in oorlogsones voorsiening maak.
Die doelbewuste aanvalle op joernaliste is ’n klad op die naam van diegene wat dit magtig. PEN Afrikaans veroordeel dit ten sterkste.

