
PEN Afrikaans kondig graag aan dat ’n nuwe bestuur, insluitend ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter, op 8 Oktober tydens die organisasie se algemene jaarvergadering verkies is. Dié ledevergadering, wat aanlyn plaasgevind het, het vir Mercy Kannemeyer en Bibi Burger elk met ’n volstrekte meerderheidstem tot onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van PEN Afrikaans verkies.
“Dit is ’n ongelooflike voorreg en eer om as voorsitter verkies te word,” sê Kannemeyer. “Dit is ’n groot taak – en een wat ek nie ligtelik opneem nie. My opregte dank aan die lede wat hulle vertroue in my plaas. Ek sien uit na ’n termyn vol aksie, en toegewydheid tot die woord in al sy vorme.”
“Ek besef ek is jonk – ek word amper 31 – maar ek het baie by die uittredende voorsitter, prof. Bernard Odendaal, geleer in my termyn as ondervoorsitter. Ek sien uit daarna om die werk voort te sit! En met hierdie bestuur aan my sy voorsien ek net hoe ons van krag tot krag gaan.”
Bibi Burger sê die volgende oor haar verkiesing tot ondervoorsitter: “PEN Afrikaans doen fantastiese werk vir Afrikaanse literatuur en vir literatuur in die algemeen, so dit is vir my 'n groot eer om as ondervoorsitter verkies te word. Ek is dankbaar en opgewonde om saam met die res van die bestuur te werk.”
Die ander verkose bestuurslede is (alfabeties):
Annie Olivier
Candice Jantjies
Erla Diedericks
Fiona van Kerwel
Izak de Vries
Michèle Meyer
Ruchelle Lombard
Shawna-Leze Meiring
Die bestuur dien vir ’n termyn van twee jaar waarná daar weer ’n bestuursverkiesing sal plaasvind.
Die uittredende bestuur en voorsitter, Bernard Odendaal, is tydens die jaarvergadering bedank vir hul toegewyde en impakryke diens aan PEN Afrikaans. “Dit was vir my niks minder as ’n eer en ’n voorreg om langer as ’n dekade op die bestuur van PEN Afrikaans te kon dien nie – die afgelope vier jaar in die voorsitterstoel,” het Odendaal tydens die vergadering gesê. “Ek is oortuig daarvan dat die huidige bestuurslede wat hulle bereid verklaar het om voort te dien, sowel as die lede wat hulle beskikbaar verklaar het om tot die bestuur toe te tree, die trotse PEN Afrikaans-vaandel met kundigheid en toewyding die toekoms in sal dra.”


Kommentaar
Veels geluk aan die verkosenes tot die bestuur - en seënwense vir die belangrike taak!