Persverklaring: Pastoral Ornaments – uitstalling deur Pauline Gutter

  • 0

Vanaf 9 Februarie tot 30 Maart 2025 by Glen Carlou Gallery, Glen Calrou Vineyards, Simondium Road, Stellenbosch.

Die bekroonde kunstenaar Pauline Gutter se nuwe uitstalling wat tans te Glen Carlou wynlandgoed besigtig kan word, is ’n reisjoernaal van eerstehandse lewenservaringe.

Die uitstalling kan volgens Gutter in ’n paar hoofstukke opgdeel word.

Die SAFFCA-kunstenaarsverblyf te Lion Sands: Gedurende die winter van 2024 het Pauline die voorreg gehad om op uitnodiging van SAFFCA vir vyf weke ’n kunstenaars-residensie op die privaatreservaat, Lion Sands, by te woon. Die reservaat is geleë op die oewer van die Krokodilrivier; die ideale ruimte vir enige kunstenaar om is sy/haar kreatiewe energie te verdiep en ononderbroke op die onmiddellike omgewing te fokus. Eerstehandse kennismakings met die diere in hulle natuurlike habitat het Gutter geïnspireer om die ongerepte skoonheid en geesdrif in ’n reeks houtskooltekeninge vas te vang.

Besonderse tonele het haar pad tydens daaglikse besigtigingstoere gekruis: Een daarvan was die intense struweling en tentoonstelling van bravade tussen twee njalabulle. Met hare uitgepof, rûe styfgespan soos boë, hoof vooroor gebuig en strekkende bene word die opponent stadig opgemeet.

Nog ’n onvergeetlike ontmoeting wat Gutter geïnspireer het, was dié met ’n luiperdmannetjie wat rustig en berekend bly wag het op die geringste beweging van ’n opgekrulde ietermagog om uit sy beskermende posisie te onstpan. Terwyl hierdie tafereel tussen jagter en prooi besig was om te ontvou, het ’n opportunistiese hiëna vir ’n oomblik gedink hy gaan daarin slaag om die luiperd se prooi weg te rokkel. Die luiperd, aanvanklik rustend, verrys dan grasieus en gaan onverwags oor in ongeëwenaarde aksie. Om konflik met een van die Groot Vyf te vermy, het die hiëna besluit om eerder die hasepad te kies.

’n Reusetrop migrerende buffels wat soos een organisme oor die vlaktes beweeg word ook treffend deur Pauline verewig. Een van haar grootste belewenisse was om op “Hilda se rots” die omgewing te bestudeer en in my tekenboek te verewig.

In haar kreatiewe reis as kunstenaar was daar nog altyd ’n sterk verbintenis met die tradisie van portretskepping. Vir Gutter is dit belangrik dat haar portrette persoonlikhede vasvang, stories vertel, en die energie van die onderwerp (hetsy mens of dier) uitstraal. Die uniekheid van elke karakter en die rigting waarin lewenservaring dryf moet deur die kyker ervaar word. Tydens die kunstenaarsverblyf te Lion Sands het sy besef dat elke dier se unieke karaktereienskappe en wyse van wees, nes dié van mense verskil. ’n Goeie voorbeeld hiervan is te bespeur in haar portret van ’n luiperdwyfie genaamd Rocky Ridge. Een van die wyfie se opvallendste karaktereienskappe is haar fyn bou en reuse-oë. Hierdie werk is opgebou uit verskeie houtskoollae van handgemaakte pigment pastelle en later is ink bygevoeg om die kolle en die pels te laat vibreer.

Hierdie nuwe versameling van Pauline se werk is tans vir die eerste keer op uitstalling vir die publiek. Pauline wil SAFFCA en die MORE Family Collection hartlik bedank vir die geleentheid en blootstelling om hierdie unieke nuwe wêreld te ervaar en deel te maak van haar kuns. Die houtskoolwerke is by die Ivory Lodge studio/galery geskep. Die olieskilderye, wat later daaruit voortgevloei het, is by Pauline se studio op die oewer van die Taaiboschsspruit, omring deur die ooptes van die Vrystaatse vlaktes, geskilder. Alles ’n weerspieëling van die aardse okerkleure van die beskermde biome wat sy graag bestudeer.

Daar is een steenlitografie wat by die Universiteit van die Vrystaat gedruk is: Jackalberry & Shangaan. Hierdie enorme jakkalsbessie, wat toeriste by die ingang van Lion Sands begroet, word geskat om sowat 800 jaar oud te wees. Dié werk was met vrye beweging geskep en in ’n spieëlbeeld van die oorspronklike onderwerp. Die eindresultaat was dus baie onvoorspelbaar; die finale uitbeelding eers sigbaar wanneer die eerste druk van die steen afgetrek word. Dit resoneer vir haar die kennismaking van die werkspan, ’n span van bykans tweehonderd-en-tagtig mense wat in harmonie saamleef en werk om aan hul families te voorsien. En die onderrig-projekte by verskeie skole in die omgewing, wat op ’n etiese manier simbioties baat uit hierdie bron van inspirasie.

Die reuse- (majestueuse) bobbejaan: Hierdie portret van ’n reusebobbejaanmannetjie getitled, Soul of the Ape, vernoem na die boek deur Eugene Marais, het spontaan uit die kreatiewe onderbewuste gevloei en is dan ook die heel laaste werk in die reeks wat Gutter voltooi het voor haar vertrek na die Suide.

Die skildery is ’n metafoor vir die huidige omstandighede van die wêreld waarin ons leef: Dit verbeeld die magtelose stil kreet van die natuur versus die selfsugtige uitlatings deur individue wat aanhou wette maak wat die ewewig en balans nog verder versteur.

“’n Onbewustelike aanvoeling miskien van die onlangse Ray Gun mannetjie wat baie vrae gewek het. Vir my, veral omdat daar soveel mense is wat honger lei,” sê Pauline.

Die Drakensbergwoude: Watervalle en woude. Ritmiese bewegings van skaduwees en mosagtige mikrowoude. ’n Sagte dekmantel en ontdekkingstog.

Pastoral Ornaments word tot 30 Maart by die Glen Carlou Gallery uitgestal in die hoofgallery, waar Janine Allen se New World en Keagan Larkin se Conflict and Currency ook tans besigtig kan word. Navrae: Christa Swart gallery@glencarlou.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top