
Die swartmerrie keer terug na KKNK 2025. (Foto: © Ryan Dammert)
Die swartmerrie, ’n plekspesifieke drama deur die KKNK se Karoo Kaarte-span, is vir drie kykNET Fiësta-pryse benoem.
Dié Oudtshoorn-produksie is benoem as beste feesproduksie, Theo Witbooi as beste akteur en Neil Coppen en Tiffany Saterdaght vir beste nuutgeskepte teks. Oudtshoorn se verroeste treinspoor en verlate perron skets die agtergrond vir die verhoog, met Witbooi, Chantell Phillipus en Jermaine Bruintjies wat die aangrypende verhaal van Simon “Tjoekepaf” Baadjies vertel.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, sê die KKNK én Oudtshoorn is ongelooflik trots daarop dat stories uit dié Klein Karoo-dorp weereens nasionale erkenning by die kykNET Fiëstas kry. “In 2024 het Karoo Kaarte ook verskeie benoemings vir kykNET Fiëstas ontvang en ons is trots daarop dat hierdie grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram van die KKNK, wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry, steeds nasionaal erken word. Ons is ook opgewonde vir die terugkeer van Die swartmerrie na die KKNK hierdie jaar, om sodoende ’n geleentheid aan meer feesgangers te bied om dit te sien.”
Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op 31 Maart.
’n Reeks ander benoemdes vir die 2025 kykNET Fiëstas, wat sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by kunstefeeste te sien was vereer, is ook op pad na die KKNK in 2025.
Speelgoed van glas, die vertaalde drama van Tennessee Williams se The Glass Menagerie, met Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn en Mark Elderkin, is benoem vir vier Fiëstas: beste ensemble, beste feesproduksie, Nico Scheepers vir beste regie en Van der Merwe vir beste aktrise.
Stinkhout, met teks, regie en stelontwerp deur Philip Rademeyer, is ook vir vier Fiëstas benoem. Frank Opperman en Wilhelm van der Walt deel die verhoog in hierdie drama, benoem vir beste feesproduksie, Rademeyer vir beste prestasie in ontwerp, asook beste nuutgeskepte teks en Opperman as beste akteur.
Bekroonde teatermaker Christo Davids se Laaitie mettie biscuits met Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson is benoem vir drie Fiëstas. Davids is benoem vir beste nuutgeskepte teks en Dyson in beide die kategorieë vir beste akteur én beste opkomende kunstenaar.
Kruispad, of die legende van die goue vis met Edwin van der Walt, Carla Smith, Eben Genis en Beer Adriaanse is benoem vir beste ensemble en regisseur Marthinus Basson vir beste regie.
Nico Scheepers is benoem vir beste verwerking of vertaling van ’n teks vir ’n Begin, ’n drama met akteurspaar Cintaine Schutte en Carel Nel op die verhoog.
Onder musiekproduksies is -LOOS, met Joanie Combrink en Laurinda Hofmeyr, benoem in die kategorie vir beste musiekgedrewe teater. Frieda van den Heever se Spoorsny is benoem vir beste kontemporêre musiekproduksie. Vir die KKNK deel sy die verhoog met kitaarmaestro, Mauritz Lotz.
Saam met Die swartmerrie, is verskeie produksies wat in 2024 by die KKNK geopen het, benoem. Die stoele, Eugène Ionesco se tragi-klug, het twee benoemings ontvang: Nerina Ferreira (postuum) vir beste verwerking of vertaling van ’n teks en Chris van Niekerk as beste akteur. Johann Slabbert is benoem vir beste nuutgeskepte teks vir Vier Panado’s en ’n Chardonnay en dié produksie, met Elzabé Zietsman en Tony Bentel op die verhoog, is ook benoem as beste musiekgedrewe teater. Colbert Mashile, feeskunstenaar van KKNK 2024, se uitstalling The Dreams of Yonder, Untethered, is benoem vir beste prestasie in visuele kuns.
Carmen Botma, sameroeper van die paneel, sê 2024 was ’n wonderlike jaar van stories vertel en emosies opwek. “Of ’n feesganger hulself in die gehoor van ’n buitelugmusiek-konsert bevind het of te staan gekom het voor ’n kunswerk, verskuilde gevoelens beleef het tydens ’n teaterstuk, sitplek ingeneem het by ’n paneelbespreking of hulle oë kon toemaak tydens ’n musiekuitvoering – dis te danke aan kunstenaars dat feesgangers kon toegang kry tot ’n ander wêreld, kon ontsnap van die werklikheid of hulle kon vereenselwig met die skeppende kuns voor hulle. Daarvoor sê almal van ons op die paneel dankie.”
Vanjaar se Fiëstas-toekenningsgeleentheid is op 27 Februarie by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad.
KKNK 2025 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.