Die SA Akademie wag nominasies in vir die Akademiepryse wat in 2026 vir toekenning oorweeg word.
Die finale sluitingsdatum vir nominasies is 15 Februarie 2026 tensy anders vermeld word.
Klik hier om die nominasievorm af te laai.
Graag vestig ons u aandag op die Akademiepryse wat gedurende 2026 vir toekenning oorweeg word. Volledig gemotiveerde voorstelle vir enigeen van hierdie pryse word ingewag. Die volgende geld ten opsigte van die voorstelle:
|
Nominasies moet verkieslik in Afrikaans wees en moet deur die nomineerder en ’n sekondant onderteken wees. Die nominasie moet duidelik motiveer waarom die bepaalde kandidaat/instansie vir die bepaalde bekroning voorgestel word. Daar moet ook duidelik aangetoon word watter spesifieke publikasies/bydraes as bekroningswaardig beskou word. Die nominasie moet gesteun word deur die nuutste curriculum vitae en publikasielys van die kandidaat, indien van toepassing. Die grootste mate van vertroulikheid moet gehandhaaf word. Onder geen omstandighede mag die kandidaat bewus wees dat hy/sy vir ’n prys genomineer word nie. Daar mag geen verwagtinge by potensiële kandidate geskep word wat vir die betrokke kandidaat en vir die SA Akademie groot verleentheid kan veroorsaak nie. By die toekenning van pryse is die Akademieraad se besluit finaal. In die geval van ’n nominasie wat nie suksesvol was nie, sal geen korrespondensie of gesprekke ná die toekenning gevoer word nie. |
Reglemente vir die onderskeie pryse is op aanvraag beskikbaar.
Stuur ’n e-pos na stefan@akademie.co.za vir meer inligting.
Geesteswetenskappe
Stalsprys
Die Stalsprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op die gebied van die geesteswetenskappe en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word. Die prys word toegeken vir die volgende:
- ’n Hoogstaande publikasie of ’n reeks sodanige publikasies wat wetenskaplike werk van die hoogste gehalte verteenwoordig;
- Individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte.
Indien die werk van ’n kandidaat wie se wetenskaplike werk grootliks in Engels of ’n ander taal gelewer is, moet bewys gelewer kan word van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou: studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.
Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2026 kan ’n prys in een van die volgende vakgroepe toegeken word:
Kategorie A: antropologie, sosiologie, politieke wetenskappe, kommunikasiekunde, joernalistiek
Kategorie B: geskiedenis, argeologie, erfenisstudies, museumkunde, biblioteek- en inligtingkunde
Markus Viljoenmedalje vir Joernalistieke Prestasie
Die Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek word driejaarliks toegeken vir betekenisvolle hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante, tydskrifte, vir televisie of radio. Die medalje kan slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.
Protea Boekhuistoekenning vir beste M-verhandeling in Geskiedenis of Kultuurgeskiedenis in Afrikaans
Die prys word jaarliks toegeken en roteer tussen ’n ongepubliseerde magisterverhandeling, ongepubliseerde doktorale proefskrif en ’n gepubliseerde boek in Afrikaans. Werke uit enige akademiese dissipline kom in aanmerking, mits dit ’n duidelike historiese of kultuurhistoriese benadering toon.
In 2026 kan die prys toegeken word vir die beste magisterverhandeling (verhandelinge van persone wat in die voorafgaande drie jaar ’n graad ontvang het, kom in aanmerking).
Sluitingsdatum vir nominasies vir hierdie prys: 20 Januarie 2026
Erepenning vir Geesteswetenskappe
Die Erepenning vir Geesteswetenskappe word toegeken vir 'n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.
Jacques van der Elstprys
Die prys word toegeken vir die beste artikel wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is.
Natuurwetenskappe
MT Steynprys vir Natuurwetenskappe
Die prys word beskou as die topprys vir natuurwetenskap en tegnologie en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die prys word jaarliks toegeken aan ’n persoon vir hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) en wat ’n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.
Dit sal ook ’n sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou: studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.
Havengaprys
Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word.
Die belangrikste vereiste by die beoordeling van kandidate is hoëgehalte navorsings-publikasies.
Dit sal ook ’n sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou: studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.
Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2026 kan die volgende vakgebiede in aanmerking kom vir die prys: Navorsing op lewende materiaal, die mens uitgesluit, bv in die landbou-, biologiese, veeartsenykundige wetenskappe, ensovoorts).
Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie van die SA Akademie
Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.
Die erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.
Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (dierkundige wetenskappe)
Die prys kan jaarliks toegeken word aan studente wat reeds ’n MSc-graad verwerf het in die voorafgaande twee jaar vir die beste verhandeling ingedien by ’n Suid-Afrikaanse universiteit, om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe.
Die verhandeling moet ’n bydrae tot wetenskaplike kennis lewer en moet bewys van oorspronklike navorsing lewer.
Elke universiteit word tot die insending van een verhandeling beperk. Verhandelinge in elektroniese formaat word aanvaar.
Douw Greeffprys
Die prys word toegeken vir die beste artikel wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is.
Kunste
SA Akademieprys vir Drama
Die prys is een van die toppryse van die Akademie op die gebied van die kunste en word toegeken vir ’n betekenisvolle bydrae tot drama in Afrikaans en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon vir sy/haar lewenswerk toegeken word.
Die prys word driejaarliks toegeken vir dramawerk in Afrikaans in die wydste sin: Radiodrama; toneel- en verhoogkuns; rolprent en TV (akteurs, regisseurs, vervaardigers, ensovoorts).
Deleen Bekkerprys vir die beste rolprentdraaiboek in Afrikaans
Die prys kan jaarliks toegeken word en in 2026 kom rolprent-draaiboeke in Afrikaans aan die beurt:
Rolprent-draaiboeke wat in die voorafgaande drie jaar vertoon is, kom in aanmerking vir die toekenning.
Benewens die Deleen Bekkerprys kan ook twee aanmoedigingspryse vir ’n rolprentdraaiboek in Afrikaans toegeken word.
Letterkunde (slegs uitgewers kan werke voorlê)
Hertzogprys vir Poësie
Die prys is beperk tot oorspronklike bellettristiese werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir prosa, poësie en drama in dié volgorde. In 2026 kom poësie aan die beurt.
Eugène Maraisprys vir Poësie/Drama
Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir ’n eerste of tweede bellettristiese Afrikaanse werk van ’n skrywer in enige genre.
SA Akademieprys vir Vertaalde Werk
Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir vertalings in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal.
By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne die eie letterkunde geniet én op die juistheid en gehalte van die vertaling.
LW Hiemstraprys vir Niefiksie
Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie.
POORT-prys
Die prys word toegeken aan wenners van die POORT-kompetisie.


