Die Afrikaanse Taalraad nooi lede en die algemene publiek uit om kandidate vir die Kokertoekennings van 2024 te benoem. Die doel van die Kokers is om erkenning te gee aan mense wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het. Hierdie jaar se wenners sal einde November op die Taalraad se sosialemediaplatforms aangekondig word.
Bekendes wat in die verlede Kokertoekennings ontvang het, sluit in Adam Small, Ton Vosloo, Marlene le Roux, Cerneels Lourens, Refentse Morake, Sandra Prinsloo, Shaleen Surtie-Richards, Suzie Matlhola, Sue Pyler, Barron Hufkie, Mariëtta Kruger en Marlie Coetzee.
Die Kokers word in drie kategorieë toegeken:
- Kategorie 1: Kokers vir besondere prestasie
- Kategorie 2: Spesiale Kokers vir ’n lewenslange bydrae tot Afrikaans
- Kategorie 3: Jeugtoekennings
- Kategorie 4: Beste onderwyser
Kategorie 1: Kokers vir besondere prestasie
Kokers word hier toegeken aan mense wat ’n wesentlike bydrae tot een of meer van die volgende drie subkategorieë gemaak het:
- Bevordering van Afrikaans
- Beskerming van Afrikaans
- Bemagtiging deur Afrikaans
Die drie wenkandidate het gewoonlik ’n lang betrokkenheid by Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap. U kan een persoon per subkategorie of dieselfde persoon vir meer as een subkategorie nomineer. Kandidate kan egter nie terselfdertyd in meer as een kategorie wen nie.
Kategorie 2: Spesiale Kokertoekennings vir ’n lewenslange bydrae tot Afrikaans
Toekennings in hierdie kategorie is gemik op afgetredenes of mense aan die einde van hulle loopbaan. U kan tot twee kandidate nomineer en hoef vir hierdie kategorie geen subkategorie te spesifiseer nie.
Kategorie 3: Jeugtoekennings
Hierdie toekennings word as aansporingsprys verstaan en is veral gemik op jong mense wat Afrikaans op nuwe maniere bedink en besig – en entoesiasme vir die taal onder ander jeugdiges kweek. Die maksimum ouderdom vir die jeugtoekennings is 35 jaar.
Kategorie 4: Spesiale toekenning vir beste onderwyser
Hierdie toekenning is vir onderwysers wat leerders deur Afrikaans bemagtig en daardeur hul kanse op sukses verhoog.
Kies van die finaliste
Die Taalraad kies die finaliste op grond van die inligting wat deur die nomineerders verskaf word of andersins deur die Taalraad bekom is. Die Taalraad se keuse is finaal en die wenners word gedurende die Kokergeleentheid bekendgemaak.
Nominasie van kandidate
Gebruik asseblief die nominasievorm om u kandidaat/e te nomineer. Stuur asseblief die voltooide nominasievorms voor of op 25 Oktober 2024 aan die Taalraad se sekretariaat by marekyn@afrikaansetaalraad.co.za.