Persverklaring: Opening van die Louwhuis maak deure oop in die groter museumlandskap

  • 1

Die Louwhuis maak op 21 November 2026 weer amptelik sy deure oop. Die afgelope paar jaar is gewoel en gewerfskaf om hierdie huis as ’n literêre museum in te rig. Dit is nie maar net nog ’n museum wat toeriste op hulle reis deur die Karoo sal besoek of toevallig sal ontdek as hulle eintlik na die sterre wil gaan kyk nie. Hulle ontdek as’t ware ook die letterkundige sterre se komvandaan in Sutherland.

Volgens Matilda Burden, kultuurhistorikus, museumkundige, erfeniskonsultant en emeritus professor van die Universiteit Stellenbosch, is erfenis deesdae weer ’n gonswoord en kan hierdie museum potensieel ’n groot rol binne die groter museumlandskap in Suid-Afrika speel. Museums speel veral ’n groot rol as dit by opvoeding en bewaring kom, en dit is veral belangrik om te weet dat hierdie bewaring nie net oor die tasbare gaan nie, maar ook die nietasbare. Hulle bewaar onder meer ook ons taal (en dit is nie net waar van Afrikaans nie), volkstaal, letterkunde, stories, liedjies en volksgeloof. Dit het in die stad begin verdwyn, maar dit het nog op die platteland behoue gebly. En dit is wat museums ook moet bewaar.

Bernard Odendaal, letterkundige en emeritus professor van die Noordwes-Universiteit, sluit by Burden aan en brei verder uit. “Wêreldwyd dien museums deesdae tot meer as net plekke van bewaring en navorsing. Literêre museums word vergaderplekke vir skrywersverenigings, leeskringe, boekbekendstellings, letterkundekongresse, skryfskole en allerlei ander kultuurbedrywighede. Dit laat die skeidslyne tussen elitêre en populêre skryfwerkbelangstellings vervaag, en hulle word plekke waar taalliefhebbers en boekwurms vriende maak. Hulle dien as demokratiseringsinstasies om gemeenskapsbetrokkenheid en besoekersinteraksie te bevorder.”

“Museums gaan nie net oor die ou dae en hoe mense in die ou dae gelewe het nie. Dit help ons verstaan wie ons is en word ’n anker wat stabiliteit in die gemeenskap bring,” sê Burden. “Erfenis kan soos sport help om jongmense as’t ware uit die kwaad te hou.”

Volgens tannie Rykie Louw, voormalige opsiener van die Louwhuis en oudhoërskoolonderwyser van Sutherland, het die grootmense nie altyd geweet wat die belang van die Louwhuis op die dorp is nie. Sy het altyd seker gemaak om die leerlinge deur die huis te vat toe sy nog skoolgehou het. Louw verwys opgewonde na die nuwe tegnologie en opnames wat nou in die huis ingespan gaan word en sê dat sy as Afrikaansonderwyser sommer self die Louw-broers se gedigte aan die besoekers voorgedra het. Vir haar bly dit besonders dat jy by die huis in die digters se voetspore kan loop en die duiwehokke en perdestal kan sien. “Jy kan daar loop en beleef wat hulle moes beleef.”

Die Louwhuis is nie net die bewaring van ons literêre erfenis nie, maar kan ook as inspirasie dien vir ander museums op die platteland. Volgens Burden is daar goeie museums op die platteland en hulle rol is ongelooflik belangrik, maar dit is verouderd en nie noodwendig met kundigheid ingerig nie.

“Ons moet ook nie die mense van die platteland onderskat nie. Die platteland het juwele opgelewer,” sê Burden. Sy voeg by dat hierdie mense as rolmodelle kan dien. Die museum kan ook as inspirasie vir ander dorpe en museums op die platteland dien dat waar daar ’n wil is daar ook ’n weg is. “Geld moet nie as verskoning gebruik word nie.” Dit beteken egter nie dat daar nie geldelike ondersteuning is nie. Sonder die Rupert Historiese Huise Stigting, die Jannie Mouton Stigting, mense soos Ton Vosloo en die ATKV sou dit nie moontlik gewees het nie. Maatskappye en organisasies speel ’n groot rol as die wil en harde werk daar is.

Odendaal meen dat die museum in die literêre wêreld onontbeerlik is. Dit is belangrik dat die leef- en denkwêreld van die Louw-broers, WEG en NP van Wyk Louw, vir besoekers op hierdie wyse toeganklik gemaak word. “Hulle het baanbrekers- asook leiersrolle gespeel in een van die heel belangrikste vernuwingsfases in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, naamlik dié van die Dertigers. Sentraal in die strewes van dié Dertigers was dat hulle nie dig- en ander skryfwerk wou skep wat maar weer in die tradisionele nasionalistiese vorm van vóór die 1930’s gegiet was nie. Die beste wyse waarop die Afrikaanse literatuur deur hulle gedien kon word, so het hulle geglo, was die opheffing daarvan tot internasionale estetiese standaarde – en daardie ideaal het hulle klinkend verwerklik.”

Odendaal meen voorts dat om soveel fasette van hulle lewens en skrywersloopbane as moontlik te bewaar, sonder meer van Afrikaanse én Suid-Afrikaanse kulturele belang is. Soos ’n Belgiese historikus (Henri Pirenne) die noodsaak van kulturele bewaringsplekke soos museums verwoord het (hier vertaald weergegee): “Goeie geskiedskrywing staan op twee pilare – deeglike navorsing en ’n goeie verbeelding. As daar nie bewaring van dokumente en artefakte is nie, gaan ons nie goeie navorsing kan doen nie, en gaan ons goeie verbeelding ons niks help om die verlede getrou te konstrueer en te verstaan nie.”

Met die Louwhuis en -museum word ruimte geskep om ook ander skrywers uit die Roggeveldse omgewing as net die Louw-broers se literêre bydraes te bewaar en te vier – ja, selfs dié van hulle kinders en kleinkinders.

Die Louwhuis- en museum word amptelik op 21 November 2026 om 10:30 vir 11:00 geopen. RSVP by admin@louwhuis.co.za voor 6 November 2026 indien jy letterkundige sterre se komvandaan in Sutherland wil kom ontdek. Die plekke is beperk, RSVP dus so spoedig moontlik.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top