
Die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie 2025
(Digdebute met ’n ISBN)
Digters of hul uitgewers word uitgenooi om in te skryf vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie van 2025.
- Die prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die prys word slegs vir ’n werk met ’n ISBN toegeken wat gedurende die twee jaar voor die jaar van beoordeling verskyn het. Byvoorbeeld: Vir die 2025 Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie kom bundels in aanmerking wat in 2023 en 2024 gepubliseer is.
- Geen gesamentlike toekenning mag gemaak word nie (met ander woorde: die prys kan nie gedeel word nie) en ’n digter kan slegs een maal vir die prys in aanmerking kom.
- Slegs debuutbundels wat deur Suid-Afrikaanse uitgewers gepubliseer word, kom in aanmerking vir die Ingrid Jonker-prys.
- Slegs digters met Suid-Afrikaanse burgerskap, of digters met óf permanente verblyfreg óf vlugtelingstatus wat in Suid-Afrika woon en werk, sal vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.
- ’n Digter wat reeds ’n bundel in Afrikaans gepubliseer het, kan nie daarna ’n Engelse bundel voorlê nie, en omgekeerd. Vertalings sal ook nie vir die prys in aanmerking kom nie. Indien ’n skrywer egter reeds boeke in ander genres (prosa of drama) gepubliseer het en dan ’n eerste Afrikaanse of Engelse digbundel die lig laat sien, kan hy/sy wel vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.
- ’n Bundel wat gedigte/tekste in Engels en Afrikaans bevat, mag wel voorgelê word. Die uitgewer sal egter in so ’n geval moet besluit of die bundel vir die Afrikaanse of Engelse prys voorgelê word – ’n bundel kan net een keer voorgelê word.
Voltooi asb die aangehegte inskrywingsvorm en besorg dit saam met drie eksemplare (nie PDF-weergawes) van die digdebuut wat in die jare 2023 of 2024 verskyn het en volgens die reglement vir die Ingrid Jonker-prys in aanmerking kom, aan:
Die Ingrid Jonker-pryskomitee
c/o Marius Crous
Main Building Office 4-401
South Campus
Nelson Mandela University
Gqeberha
Tel. 041-504 3791 / 2227
Stuur dit asseblief per koerier.
E-pos asseblief ook die inskrywingsvorm aan die sameroeper van die komitee, Marius Crous, by: marius.crous@mandela.ac.za.
Die sluitingsdatum vir voorleggings is 15 Julie 2025. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.

