Persverklaring: Olga Kirsch gehuldig

  • 0

Die digter Olga Kirsch sou op 23 September vanjaar ’n 100 jaar oud word. Om Kirsch se geboortedag te herdenk, bied die Klinkklaar Vokale en Instrumentale Ensemble ’n huldigingskonsert aan waarin nuwe toonsettings van haar gedigte gehoor kan word. In hierdie aanbieding word musiekitems vervleg met brokkies inligting oor Kirsch se lewe. Dit vind plaas op 22 Oktober om 18:00 by NALN.

Olga Kirsch debuteer op twintigjarige ouderdom met Die soeklig (1944) en daarmee word sy, naas Elisabeth Eybers, slegs die tweede vroulike digter in Afrikaans. In 1948 het Olga besluit om na die pasgestigte staat Israel te emigreer. In Israel het sy haar toekomstige eggenoot, Joseph Gillis, ontmoet. Tydens haar verblyf in Israel het nog sewe bundels die lig gesien. Kirsch het in die 1990’s ’n kwaadaardige breingewas ontwikkel. Sy is op 5 Junie 1997 in die ouderdom van 72 jaar in Rehovot in Israel oorlede.

’n Deurlopende tema in Klinkklaar se huldiging van Kirsch is die sogenaamde “gespletenheid” in haar lewe: die deel word van ’n nuwe kultuur terwyl sy steeds die wortels van ’n ander land in haar gedra het. Ironies genoeg is haar skeppende vermoë juis daardeur bevestig. Hierdie dualisme vind ook uitdrukking in sommige van die toonsettings, deurdat Joodse melodieë vervleg word met musiek wat nuut gekomponeer is.

Al die toonsettings is deur Joanita Erasmus-Alt gedoen. Dit word uitgevoer deur die Klinkklaar Vokale en Instrumentale Ensemble. Die groep bestaan uit 15 vroue wat hulle  ̶  deur hul sang  ̶  beywer vir die bevordering van Afrikaanse poësie. Aangesien die meeste van die groeplede ook musiekinstrumente bespeel, word alle instrumentale begeleidings deur die lede self gedoen.

Kirsch se Suid-Afrikaanse herkoms word aan die begin van die produksie “verklank” met ’n overture waarin Suid-Afrikaanse volkswysies vervleg met musiek wat later in die aanbieding gehoor kan word. Daarna volg toonsettings van onder andere die gedigte “Derhalwe wil ek met en oor jou gesels”, “Wanneer jy weg is”, “Oktober 1973” (in aansluiting by die verwysing na Brahms in hierdie gedig, kan ’n gedeelte uit die Brahms-Requiem in die toonsetting gehoor word), “Epilogue II” (’n gedig wat Kirsch ná die afsterwe van haar kleindogter geskryf het), “My lewe sal gesplete bly”, “Hoe het dit skielik laat geword?” en ten slotte Joan Hambidge se gedig oor Olga Kirsch (waarin sy Kirsch se poësie met “hunkerende, ylende melodieë” vergelyk). Hierdie atmosfeer waarna Hambidge verwys, is ook deurlopend hoorbaar in die toonsettings. Chaim Beneven-Botha, ’n Suid-Afrikaner wat tydens Kirsch se siekbed gedigte vir haar voorgelees het, het in ’n artikel in De Kat (Junie 1998) vertel van Kirsch se emosie by die aanhoor van Elisabeth Eybers se poësie. Daarom word ’n toonsetting van Eybers se “Uitsig op die kade” by die program ingesluit. Om toestemming te kry om die gekose Kirsch-gedigte te toonset, het Joanita (met behulp van Kirsch se biograaf, Egonne Roth) kontak gemaak met Olga se dogter, Ada Zohar, wat in Jerusalem woon.

RSVP: joanitaerasmusalt@gmail.com of annelien.naln@gmail.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top