Persverklaring: Nzimande versoek om inheemse tale op ’n meer inklusiewe wyse te hanteer

  • 0

“Blade Nzimande se belofte dat die taalbeleidsraamwerk vir hoëronderwysinstellings aangepas sal word om Afrikaans en die Khoi- en Santale as inheems te definieer, is ’n stap in die regte rigting maar verander min vir Afrikaans.” So sê Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Gaan die aangepaste taalbeleidsraamwerk, soos die Grondwet verlang, Afrikaans saam met al die ander amptelike tale op ’n gelyke basis behandel, of nie? Dit is wat die ATR wil weet. Nzimande se kommentaar oor historiese bevoorregting skep egter die vermoede ’n ander meganisme sal gevind word om Afrikaans as “reeds ontwikkelde” akademiese taal steeds van die beleid uit te sluit.

In sy huidige vorm sorg die taalbeleidsraamwerk onder meer daarvoor dat Afrikaans geen toegang het tot voordele soos monitering en ondersteuning deur die departement van hoëronderwys nie. Dié uitsluiting plaas Afrikaans in ’n kwynende niemandsland sonder monitering of ondersteuning. Dit maak die beleid “blind” vir Afrikaans en waarborg so te sê die verdere afskaling daarvan aan die enkele instellings waar dit nog steeds gebruik word.

Die regverdiging hiervan dat Afrikaans “reeds ontwikkel” is en dus geen voordele behoort te geniet nie, maak taalkundig geen sin nie. Die mees ontwikkelde akademiese terminologie en woordelyse beteken immers min indien die betrokke taal nie ook akademies gebruik word nie.

Die effek van die minister en sy departement se hardvogtige uitsluiting van Afrikaans dra direk by tot die vernietiging van ’n kosbare bate en hulpbron sonder om daarmee enigiets vir die ander amptelike tale te bereik. Dit stel tale en hulle sprekers ook teen mekaar op en dien as uitstekende voorbeeld van ’n irrasionele politiek.

Die Afrikaanse Taalraad hoop die minister ontdek ’n bereidwilligheid om in gesprek met die Afrikaanse gemeenskap te tree, eerder as om ons pogings om in gesprek te tree te ignoreer. Ons hoop ook hy vind dit in hom om ons amptelike en inheemse tale op ’n meer inklusiewe wyse te hanteer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top