Persverklaring: Nuwe ruimte, nuwe uitdagings wag op SASNEV

  • 0

Kultuurbaken in Pinelands verhuis vanjaar

Een van die Wes-Kaap se bekendste taal-en-kultuurbakens, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV), gaan later vanjaar moet verhuis nadat hul eiendom in Pinelands verkoop is.

Sedert 1997 dien SASNEV (voorheen Huis der Nederlanden) as ’n gewilde en inklusiewe kennis- en onthaalruimte vir talle groot taal- en ander akademiese geeste, asook die breë publiek. Dié dinamiese en unieke onafhanklike sentrum by Sentraalplein waar die kulturele belange van Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika byeenkom, is hoofsaaklik gerig op Suid-Afrikaners met die doel om gedeelde taal- en ander kulturele ervarings te bewerkstellig en uit te wissel. In 2025 was hulle in die nuus danksy hul sukses om die digter Ingrid Jonker se volledige fisieke argief terug te bring na Suid-Afrika nadat dit vir jare in Nederland was.

Volgens die uitvoerende hoof, Eureka Barnard, staan hulle nou voor ’n opwindende uitdaging om ’n nuwe ruimte te vind waar hul idees, kulturele uitruiling en samesyn sal voortleef. “Daar is verskeie instellings wat daagliks, weekliks en maandeliks SASNEV se perseel gebruik,” sê sy, verwysende na onder meer die uitgebreide Nederlandse Bibliotheek Kaapstad, Orde van den Prince, afdeling Kaap de Goede Hoop en die Stigting VOC.

“Die hoop beskaam nie dat ’n afgeskaalde biblioteek en BiblionefSA (’n boekskenking-organisasie sonder winsbejag) saam met ons kan trek nie. Ons sal ook graag ’n tuiste wil bly vir sommige van die verenigings wat tans deel van die SASNEV-familie is.” Dit sluit in die Fotografiese Vereniging van Kaapstad, die Wewersgilde van Kaapstad, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (Wes-Kaap) en die Inheemse Bolle-vereniging wat almal van die oudste verenigings in die land is. Die grootste uitdaging vir die bestuur is tans om ’n ruimte te vind vir die boeke en natuurlik ook vir Thibertha, SASNEV se sjarmante viervoetige katprinses.

Volgens Jan Mutton, voorsitter van SASNEV en oud-ambassadeur van België, bly die instelling se kernbeleid onveranderd. “Ons sal bloot ons bestaande visie en programme moet aanpas aan ’n ander ruimte. Daarbenewens sal ons sekerlik probeer om ’n tuiste te bly vir die argiewe van die kulturele organisasies wat tans aan ons verbonde is. Ook gaan ons volstoom voort om Suid-Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge byeen te bring met projekte wat die kulturele lewe in Nederland en Vlaandere weerspieël.”

Barnard beklemtoon die bande met die Neerlandistiek ter plaatse en in die buiteland is baie belangrik vir SASNEV. “Veral die universiteite van Kaapstad, Wes-Kaapland en Stellenbosch, die Vlaamse Verteenwoordiging in Suid-Afrika asook die Belgiese en Nederlandse konsulate in Kaapstad speel ’n groot rol.” 

Die huidige perseel was voorheen die NG Kerk Pinelands se kerksaal, maar die kerk het steeds toegang tot die ruimte gehad en onder meer die gewilde Vintage- en Kuiermarkte aangebied. Naas die biblioteek, het die gereelde kultuurgeleenthede, taalbesprekings en selfs kos vanuit die Lae Lande duisende Suid-Afrikaners en buitelanders na die instelling gelok.

“Met die trek na ’n nuwe ruimte is dit ook ’n afsluiting van wat mens sou kon noem ’n glansryke era in ons bestaan,” meen Barnard. “Ons hoop wel dat ons ’n plek in die omgewing van die huidige gebou kan vind om te bly skitter, kontinuïteit te verseker en toeganklik te bly vir ons getroue publiek.”

Vriende van SASNEV, of belangstellendes, kan gerus van hulle laat hoor indien hulle weet van ’n geskikte ruimte, voeg Barnard by. Sien sasnev.co.za vir meer oor die instelling, e-pos info@sasnev.co.za of skakel 021 531 5831.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top