Op 18 Junie 2020 word die vyftigste herdenking gevier van die afsterwe van NP Van Wyk Louw – ’n man wat deur vele kenners beskou word as die grootste digter wat Suid-Afrika land nog opgelewer het. Daar was groot planne vir hierdie dag, maar die pandemie wat die hele wêreld in paniek gedompel het, het dit in die wiele gery.
Een van die beplande projekte vir die geleentheid is ’n nuwe boek wat op hierdie dag bekendgestel sou word, maar wat nou later sal verskyn. ’n Interessante feit is dat Van Wyk Louw se lewe ook deur epidemies geraak was. In 1918 het hy en sy broers die groot griep-epidemie oorleef waarin meer as 300 000 mense dood is, deur op hulle familieplaas afgesonder te word.

Die Louw familie, Sutherland: Moltke en Poppie met Kobus (agter links) en Van Wyk Louw, Bismarck (sit voor, regs) en Gladstone (weg) sit op haar skoot.
Wyle Ampie Muller, Van Wyk Louw se gewese skoonseun en intieme vriend, en Ampie se vrou, Beverley Roos-Muller, het jare gelede ’n spesiale projek aangepak om die 50ste herdenking van Louw se sterfdag te vier. Hulle het digters, skrywers, kunstenaars en ander bekende persoonlikhede genader om hulle herinneringe aan Van Wyk Louw op skrif te stel ten einde ’n gedenkboek te publiseer.
Finansiële steun van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hulle in staat gestel om onder andere in Sutherland – waar Van Wyk Louw gebore is – en Amsterdam – waar hy studeer het – navorsing te doen.
Die uitgelese groep wat bydraes tot die gedenkboek gelewer het, sluit name in soos JM Coetzee, Antjie Krog, Adam Small, Marlene Dumas, Joan Hambidge, Katinka Heyns, Koos Kombuis, Diana Ferrus en Ton Vosloo.
Ampie Muller se bydrae gee ons ’n blik op die digter se privaatlewe in die tyd toe Louw se oudste dogter, voor haar vroeë dood aan kanker, met Ampie getroud was. Beverley Roos-Muller se bydraes sluit ’n hoofstuk in oor die digter se “kleurvolle erfenis”, gebaseer op die jarelange navorsing van Van Wyk Louw se oudste kleinkind, Anneke Muller.
- Die mens agter die woord – So onthou ons NP van Wyk Louw verskyn later vanjaar by Hemel & See Boeke.


Kommentaar
Sien uit!