
Dit is vir die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aangenaam om die aanstelling aan te kondig van die nuwe voorsitter en twee nuwe lede van die Letterkundekommissie wat pas deur die Raad bekragtig is. Die nuwe voorsitter is Willie Burger van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria en die nuwe lede is die bekende skrywers Valda Jansen en Bettina Wyngaard.
Die Letterkundekommissie vir die termyn van September 2022 tot September 2025 is soos volg saamgestel:
Prof Willie Burger (voorsitter)
Dr Marni Bonthuys
Prof Marius Crous
Prof Thys Human
Me Valda Jansen
Dr Amanda Marais
Prof Hein Viljoen
Prof Andries Visagie
Me Bettina Wyngaard
Die SA Akademie is verheug dat twee bekroonde skrywers met ’n besondere kennis van die Afrikaanse literatuur en wat aktief aan die literêre wêreld deelneem, beskikbaar is om in die Letterkundekommissie te dien. Valda Jansen se roman, Hy kom met die skoenlappers, verskyn in 2016, maar van haar gedigte is reeds in 1989 opgeneem in I Qabane Labantu, ’n versamelbundel van versetpoësie met Ampie Coetzee en Hein Willemse as redakteurs, en daarna ook in 1990 in die versamelbundel Optog. Van haar gedigte verskyn ook in Groot verseboek. Bettina Wyngaard se debuut, Troos vir die gebrokenes, is in 2010 met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon. Sy publiseer ook vier fiksieboeke waaronder die misdaadromans Vuilspel en Slaafs. Sy skryf vir LitNet en is ook ondervoorsitter van die Andrew Murrayprysfonds.
Die Raad het ook veranderinge aan die Letterkundekommissie se reglement goedgekeur wat kontinuïteit in die samestelling sal bewerkstellig sonder dat die kommissie se werksaamhede benadeel word. Dit is gedoen deur beperkings te plaas op die tydperke wat kommissielede mag dien, en ook op die termyne van voorsitters. ’n Verdere wysiging is aangebring in die reglement van die gesogte Eugène Maraisprys met ’n bepaling dat hierdie prys voortaan om die beurt aan prosa in een jaar en poësie/drama die volgende jaar toegeken word vir werk wat gedurende die vorige twee jaar gepubliseer is.

