Die Hiddingh-Currie-toekenning 2018 is pas aan Chris Swanepoel toegeken vir sy nuwe Afrikaanse vertaling van Thomas Mofolo se klassieke roman Chaka. Die toekenning het plaasgevind op 8 Maart tydens Unisa se jaarlikse Navorsing- en Innovasie-funksie, waar o.m. erkenning gegee word aan personeel se jaarlikse graderingsverdienstes by die Nasionale Navorsingsstigting (NRF). Die Hiddingh-Currie word jaarliks deur die Publikasiekomitee van die Senaat van Unisa op grond van ’n werk se akademiese en/of artistieke verdienste gemaak, asook die mate waarin die werk tot ’n dieper begrip en ontwikkeling van die dissipline bydra of ’n spesifieke leemte in die samelewing vul. Al die boeke wat die voorafgaande jaar by Unisa Press verskyn het, word vir die Toekenning in aanmerking geneem (met die uitsondering van teksboeke). Benewens ’n taalkundig- en geo-politieke hersiening van die 1974-weergawe, sluit die nuwe vertaling ook ’n oudioboek op CD in. Die leser is Antjie Krog. Hiermee word die verhaal so te sê aan die mondelinge tradisie terugbesorg, waaraan Mofolo se oorspronklike Sesotho-teks sterk herinner.
Die Hiddingh-Currie Gedenkfonds het tot stand gekom toe die Raad van Unisa in 1933 besluit het om die opbrengs van die verkoop van die ou universiteitsgebou in Koningin Victoriastraat, Kaapstad, vir die beloning van vakkundigheid en publikasie opsy te sit. Dr William Hiddingh was ’n bekende Kaapse advokaat, en Sir Donald Currie ’n opvoedkundige en sportliefhebber wat elkeen £25 000-00 tot die oprigting van die oorsponklike gebou bygedra het. Die Raad het besluit om hulle name aan die Fonds te koppel ter erkenning vir hul bydrae. Die toekenning bedra jaarliks R20 000-00. Daar is vanjaar besluit om twee afsonderlike toekennings te maak. Die tweede toekenning het gegaan aan Vusimuzi Mncube en Clive Harber vir hul werk Violence in schools: South Africa in an international context. Unisa Press-boeke wat die Hiddingh Currie-toekenning verower, se outeurs verdien ook dadelik tantieme aangesien die tweede deel van die toekenning behels dat die volle produksiekoste van elke wenboek gedelg word.

