Persverklaring: Nuwe Akademieraad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) kondig met genoeë die samestelling van die nuut verkose Akademieraad aan.

Die pas afgelope Akademieraadsverkiesing is die eerste wat ooreenkomstig die SA Akademie se nuwe Akte van Oprigting, wat op 22 April 2026 aanvaar is, en die hersiene verkiesingsprosedures gehou is. Die nuwe bedeling maak voorsiening vir agt verkose Akademieraadslede: vier uit die Afdeling Geesteswetenskappe en Kunste en vier uit die Afdeling Natuurwetenskappe en Tegnologie. Die hoof- uitvoerende beampte dien voorts as ’n Akademieraadslid met stemreg. Die Akademieraad kan, waar daar ’n behoefte aan bepaalde kundigheid ontstaan, verdere Akademielede koöpteer.

Die verkiesingsproses is daarop gerig om die integriteit, onafhanklikheid en deursigtigheid van die verkiesing te verseker. Nominasies is direk by die SA Akademie se eksterne ouditeur, MVB Audit & Advisory, ingedien en deur die ouditeur nagegaan. Stemgeregtigde Akademielede het gedurende September elektronies gestem. Die stemme is direk deur die ouditeur ontvang, geverifieer en getel.

Die volgende lede is tot die Akademieraad verkies:

Afdeling Geesteswetenskappe en Kunste

  • Jaco Deacon – Uitvoerende hoof van FEDSAS; regsgeleerde en onderwysleier met kundigheid in onderwysreg, arbeidsreg, skoolbeheer, onderwysbeleid en korporatiewe bestuur.
  • Helena van Coller – Professor in administratiefreg aan Rhodes Universiteit; spesialiseer in administratiefreg, godsdiens en die reg, en die publiekregtelike funksionering van geloofsinstellings.
  • Theo du Plessis – Emeritus professor in taalbestuur en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat; deskundige in taalbeleid en -beplanning, taalregte, meertaligheid en taal-in-onderwys.
  • Tobie van Dyk – Professor in toegepaste linguistiek aan die Noordwes-Universiteit en hoof van hoëronderwyssektorondersteuning by SADiLaR; spesialiseer in akademiese geletterdheid, taaltoetsing, taalbeplanning, meertaligheid, digitale taalhulpbronne en generatiewe KI.

Afdeling Natuurwetenskappe en Tegnologie

  • Marena Manley – Professor in voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch; internasionaal erkende navorser in voedsel- en graanwetenskap, naby-infrarooi spektroskopie en hiperspektrale beeldvorming.
  • Oppel Greeff – Kliniese farmakoloog, akademikus en gesondheidsorgondernemer met ’n lang verbintenis aan die Universiteit van Pretoria; kundige in kliniese farmakologie, geneesmiddelontwikkeling en die farmaseutiese bedryf.
  • Hannes Rautenbach – Meteoroloog en klimaatwetenskaplike, voormalige professor aan die Universiteit van Pretoria en voormalige dekaan by Akademia; spesialiseer in weerkunde, klimaatsverandering, atmosferiese wetenskappe en omgewingsnavorsing.
  • Laurette Pretorius – Emeritus professor in rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika en buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch; spesialiseer in natuurliketaal-verwerking, taaltegnologie, digitale taalhulpbronne en die ontwikkeling van hulpbronskaars tale.

Gekoöpteerde Akademieraadslid

  • Rudolph Botha – Geoktrooieerde rekenmeester en ouditeur met uitgebreide ervaring in finansiële bestuur, oudit, risikobestuur en korporatiewe beheer. Hy is die stigter van die ouditeurspraktyk PR Botha & Company Inc. en het verskeie jare as voorsitter van die SA Akademie se Oudit- en Risikobestuurskomitee gedien.

Die nuwe Akademieraad het ná die bekendmaking van die verkiesingsuitslag gekonstitueer en Marena Manley as voorsitter en Tobie van Dyk as ondervoorsitter verkies, waarna Rudolph Botha as Akademieraadslid gekoöpteer is.

Die Akademieraad is die bestuursliggaam van die SA Akademie en is verantwoordelik vir die strategiese rigting en behoorlike korporatiewe bestuur van die organisasie. Die nuwe Akademieraad dien tot die Algemene Jaarvergadering in April 2029 en verteenwoordig die geesteswetenskappe, kunste, natuurwetenskappe en tegnologie in ’n multidissiplinêre samestelling.

Die SA Akademie wens die nuwe Akademieraadslede geluk en sien uit na hul leiding en diens.

Annelise de Vries
Hoof- uitvoerende beampte
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Webtuiste: https://www.akademie.co.za/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top