Netwerk24 en Rapport het pas besluit om die borgskap vir die Hertzogprys en die Eugène Maraisprys wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word, te verhoog. Die borge vir hierdie twee vlagskippryse van die Akademie sal in die toekoms as borgskappe van Netwerk24/Rapport met groot dankbaarheid erken word. Die Hertzogprys is voorheen bekostig uit die opbrengs van ’n skenking in 1914 van £1 200 deur een van die grootste kampvegters vir Afrikaans, JBM Hertzog na wie die prys vernoem is. Sedert 1978 word, afgesien van die prysgeld, ook ’n 18 karaat goue penning met ’n beeltenis van JBM Hertzog se gesig aan die voorkant, aan die wenner oorhandig. Reeds in 1994 het Rapport as borg vir die Hertzoprys, sowel as die Eugène Maraisprys toegetree.
Die grootste impak van hierdie verhoogde borgskap is by die Eugène Maraisprys, wat voortaan R50 000 sal bedra. Die borgskap vir die Hertzogprys is verhoog tot R100 000, met die totale waarde van die prys steeds R125 000. Saam met die geldprys ontvang die wenner ook ’n 18-karaat- goue penning.
Met hierdie verhoogde borgskappe maak Netwerk24 en Rapport dit vir die Akademie moontlik om van die Akademiefondse wat vanjaar aan hierdie twee pryse toegeken is, anders aan te wend vir die verdere bevordering van Afrikaans. Die moontlikheid om ’n afsonderlike Poortprys vir leerders van Afrikaans as eerste addisionele taal in te stel, word byvoorbeeld tans ondersoek. Die Poortkompetisie is ingestel om senior hoërskoolleerders (graad 10, 11 en 12) aan te moedig om skeppende werk (poësie, drama en kortverhale) in Afrikaans te skryf. Netwerk24 en Rapport se verhoogde borgskap het dus gevolge wat uitkring, en wat dit vir die Akademie moontlik maak om ’n ander groep leerders te bereik en hulle kreatiewe vermoë in en liefde vir Afrikaans aan te wakker.
Die Hertzogprys word reeds sedert 1916 toeken en die eerste ontvanger van die prys was Totius vir Trekkerswee. Jochem van Bruggen was die tweede ontvanger en het die prys in 1917 ontvang vir Teleurgestel. Die prys roteer jaarliks tussen poësie, prosa en drama en is vanjaar toegeken aan Nicola Hanekom vir haar drama Mirre en aalwyn wat in 2023 by Protea verskyn het. Sy het die Hertzogprys ook in 2021 ontvang vir In glas.
Nicola Hanekom by ontvangs van die Hertzogprys vir Drama op 20 September 2024 in Pretoria. Vlnr: Ilse Feinauer (voorsitter van die SA Akademie), Nicola Hanekom en Thys Human (voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie)

Die Eugène Maraisprys is in 1961 ingestel en het aanvanklik bekendgestaan as ’n “Aanmoedigingsprys” en later as ’n “Debuutprys”. Tans word die prys toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans. Die prys word jaarliks afwisselend vir prosa en vir poësie/drama toegeken. Die eerste ontvanger van die prys was Audrey Blignault in 1961 vir In klein maat, Die vrolike lied en haar bydrae tot Die dammetjie. Die tweede ontvanger van hierdie prys was André P. Brink vir Caesar in 1963. Vanjaar se ontvanger was die jong digter en dramaturg Pieter Odendaal vir sy digbundel Ontaard wat in 2023 by NB Uitgewers verskyn het.

Pieter Odendaal by ontvangs van die Eugène Maraisprys vir Poësie op 20 September 2024 in Pretoria.

