
Wilma Stockenström word vanjaar 90.
Om hierdie groot figuur in die Afrikaanse letterkunde te gedenk, word ’n feesviering die komende naweek (5 en 6 Augustus) op haar geboortedorp, Napier, gehou.
Daar word ’n skryfskool onder leiding van Bernard Odendaal aangebied, Ronel Foster lewer ’n geleentheidsrede, en daar is ’n lekker verskeidenheid boekbekendstellings, gesprekgeleenthede, musiekuitvoerings en aktiwiteite. Daar word interessante werksessies aangebied, byvoorbeeld oor byeboerdery, daar is staptogte in die pragtige fynbos rondom die dorp, en natuurlik geleentheid om Napier se restaurante, galerye en natuurskoon te geniet.
Die bekende straat “tussen die kerk en die hotel” word ook die Saterdagoggend na Wilma Stockenström vernoem.
Meer inligting en die volledige program is op die Facebook-blad “Napier-Ekspedisie” beskikbaar. Die plaaslike organiseerders sien uit daarna om almal op Napier te verwelkom om hierdie digter, romansier, tweemalige Hertzogpryswenner en aktrise te gedenk!


