Persverklaring: NALN word 50!

  • 0

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), wat hom toewy aan die behoud en bevordering van Afrikaanse woordkuns, is vanjaar ’n halfeeu oud.

Talle boekbekendstellings en ander gebeure deur die loop van 2023 kenmerk dié mylpaal, sê Wyno Simes, kurator.

Die 50ste verjaardagviering bereik ’n hoogtepunt in Maart met die feesrede, bekendstelling van die Volksblad-redakteurskamer en ’n inligtingsessie oor NALN en die gebou se geskiedenis.

  • Prof. Bernard Odendaal, oudhoof van die Atkv-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, lewer die feesrede op Donderdag 9 Maart om 18:00.
  • Die bekendstelling van die Volksblad-redakteurskamer is op Vrydag 10 Maart om 18:00.

  • Leana Lategan, voormalige hoofvakkundige beampte van NALN, praat op Saterdag 11 Maart om 10:00 oor die geskiedenis van NALN. Kobus du Preez, ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se departement argitektuur, sal daarna praat oor die geskiedenis van die gebou wat in 1877 voltooi is. As die Ou Goewermentsgebou was dit die regeringsetel van die ou Vrystaatse Republiek en het die Vrystaatse Volksraad aanvanklik in die Derde Raadsaal hier vergader.

As sentrale argief vir materiaal en inligting oor die omvangryke geskiedenis en ontwikkeling van letterkunde, musiek en drama in Afrikaans, is NALN ’n skatkamer vol kleinode. Dit is ook die bewaarplek van die werk van Afrikaanse skrywers. NALN is in 1973 deur die Vrystaatse provinsiale regering gestig.

Die Vriende van NALN, wat ’n onontbeerlike bydrae lewer, help ook die feesvieringe moontlik maak. Netwerk24 help met die bekendstelling van die redakteurskamer wat voorverlede jaar van die ou Volksblad-gebou hierheen geskuif en in 2022 ingerig is.

  • Op 16 Maart sal prof. Jerzy Koch van Pole sy digbundel Polkadraai (Turksvy Publikasies, 2022) by NALN bekend stel.
  • Op 11 Mei word ’n gesprek met die Hertzogpryswenner Johan Myburg oor sy bundel Narreskip (Protea Boekhuis, 2022) gevoer.
  • Op 18 Mei word ’n musiekkonsert met Afrikaanse liedere aangebied.

Die geleenthede kan gratis bygewoon word.

Bevestig bywoning vooraf by Annelien Diedericks by annelien.naln@gmail.com vir praktiese reëlings.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top