
Musikant Jan Blohm se solo-uitstalling “’n Ver-Ander” open op Saterdag 28 Januarie 2023 om 11:00 by die Breytenbach Galery in Wellington.
Die woordspel in die titel dui op die verander(ing) in die sanger se lewe oor die jare heen, en die ver-ander wat hy graag wil raak.

Hy skep reeds kuns vanaf ’n baie jong ouderdom. Sy sangloopbaan, waarvoor die meeste mense hom ken, was ’n toevalligheid wat ontstaan het in sy dae in die Lugmag. Tien jaar gelede het die SAMA-wenner egter weer begin kuns maak.
Sy geestelike beleweniswêreld en toenemende skep van abstrakte kuns het ook ’n groot rol begin speel in sy kreatiewe lewe as kunstenaar, asook sy siening oor die lewe. Vandaar die wegbeweeg na meer abstrakte uitbeeldings in sowel sy skilderye as beeldhouwerke.

Die uitstalling se titel is juis daarom ’n uitbeelding van hoe hy voel oor veranderinge in sy lewe oor die afgelope jare, en die ver pad wat hy al daarmee gekom het.
“Hierdie verandering voel soos iemand heel anders,” verduidelik hy.

Hy sê dit dui op die abstrakte visie van hierdie ver ander wat jy graag wil raak en word. Volgens Jan besef hy net hoe die proses hom stroop van ego, en dat hy voel asof hy toenemend meer homself raak. “Amper Boeddhisties,” voeg hy by.
Hierdie besonderse solo-uitstalling open Saterdag 28 Januarie 2023 om 11h00 by die Breytenbach Galery in Wellington. Die venue is goed gepas, aangesien talle van Jan se gewildste liedjies, soos “Groen Trui” en “Breyten se Brief” geskryf is in verwysing na Breyten Breytenbach. Die Breytenbach Galery het sy tuiste in die Breytenbachsentrum, ’n kultuursentrum op Wellington wat ingerig is in Breytenbach se eertydse familiewoning.
Vir navrae of om bywoning te bevestig, kontak galery@breytenbachsentrum.co.za / 083 415 0002.

