
Hier kom ons!
30 September tot 9 Oktober 2022
Aardklop vang weer spoed en hierdie jaar wip ons op met ’n opwindende nuwe vennoot, Momentum Beleggings.
Na die sukses van Aardklop se Opwipfees in 2021, bou ons voort op hierdie grensverskuiwende model. Feesgangers vanaf Gauteng, asook die Noordwes Provinsie gaan kan feesvier op hulle voorstoep. Hou by, want Aardklop gaan draai in Potchefstroom, Pretoria én Linden, Johannesburg!
Aardklop se doelwit is om die kunste te bevorder en om feesgangers te bly verras en vermaak.
“Dit is vir ons wonderlik om hierdie gedeelde visie te vind by Momentum Beleggings. Saam, glo ons in die verruiming van ons kunste- en kultuurlandskap. In ’n veranderende wêreld, moet ons nie net volhou met die pas nie, maar ook voortdurend groei en vernuwe. Dit is heerlik om die entoesiasme vanaf bestaande en nuwe vennote te ervaar. Teaters, skole en kerke gooi hulle deure vir ons oop. Die Linden-gemeenskap, waar ons vir die eerste keer gaan opwip, se ontvanklikheid en geesdrif is vir ons verblydend en opwindend. Die geliefde Frank Opperman, oudinwoner van Linden, is dié projek se entoesiastiese ambassadeur.”
– Alexa Strachan: Hoof uitvoerende beampte, Aardklop.
“Dit is vir Momentum Beleggings ’n vreugde en voorreg om deel te wees van Aardklop en om die kunste in Suid-Afrika te ondersteun. Saam met ons, is beleggings persoonlik en niks is méér persoonlik as om die kunste in lewende lywe te geniet nie. Die opwindende nuwe opwipmodel van Aardklop en vernuwing is so reg in ons kraal van innoverende denke. Ons glo in die krag van vennootskappe met finansiële adviseurs om Suid-Afrikaners te help om hul beleggingsdoelwitte te behaal, en sien uit na ’n lang en vrugtevolle vennootskap met Aardklop.”
– Fränzo Friedrich: Hoof van bemarking, Momentum Beleggings
Die volledige program sal later bekendgemaak word, maar feesgangers kan by voorbaat uitsien na splinternuwe produksies met van ons land se grootste name en gewildste kunstenaars: Nataniël, Sandra Prinsloo, Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm, Antoinette Kellermann, Frank Opperman, Charl du Plessis, Ockie Vermeulen, en vele meer. Die immergewilde boeke- en aktuele gesprekke maak ook ’n terugkeer, en ons 2022 kykNET Fiëstas-bekroonde kurator, Dineke van der Walt, staan weer aan stuur van die visuele kunste.
Hou ons platforms dop vir meer inligting, want… Hier kom ons!
Aardklop Nasionale Kunstefees:
- Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees @aardklop
- Twitter: Aardklop Kunstefees @Aardklopfees
- Instagram: aardklopkunstefees

