
Die Sanctuary Boekfees, Klerksdorp, is ’n familiefees. Verlede jaar het skrywers en lesers saam aan tafel gesit tydens ’n gala-aand, hierdie jaar kry lesers die geleentheid om saam met skrywers te braai na afloop van Martelize Brink se gesprek oor haar boek Oor die kole.
Hannes Barnard, Christelle van Rooyen-Wessels, René van Zyl, Pierre du Plessis en KyknetTV/Radio Kansel se Esté Geldenhuys open die Sanctuary Boekfees om 10h30, op Saterdag 29 Oktober.
Geldenhuys is nie die enigste mediapersoonlikheid wat die fees bywoon nie. Ilse Salzwedel is in gesprek met Lindie Stander van Binnelanders en Johannes de Villiers. Susan Cilliers, skrywer van die blitsverkopers Huis van Gruwels en Die Stella-moorde, gaan met die ware-misdaadskrywers Charné Kemp, Julian Jansen en Ben Booysen gesels. AJ Opperman gesels met die krimi-skrywers Sidney Gilroy, Marie Lotz en Dibi Breytenbach.
Ander gesprekke om na uit te sien, is Kirby van der Merwe, Madelein Rust, Tom Dreyer, Michèle Meyer en Marida Fitzpatrick, om maar ’n paar te noem.
Die jeugskrywers, soos Joha van Dyk, Cecilia Steyn en Fanie Viljoen, gaan saam met leerlinge kuier. Heelwat van die leerlinge is betrokke by Sunel Combrink se skryfkursus, wat die Sanctuary Boekfees geborg het om in die jeug te belê.
Daarmee saam kondig die Sanctuary Boekfees die wenners van hul jeugverhaalskryfkompetisie aan. Die top-10-wenners kry elkeen ’n mentor wat hul help aan hul verhale skaaf. Gilroy, Barnard, Breytenbach en van Rooyen-Wessels was almal verlede jaar mentors.
Die ATKV-Klerksdorp-tak stel ook drie nuwe pryse bekend.
Die hoogtepunt van die Sanctuary Boekfees is die aankondiging dat die roman waaraan 22 van die land se voorste skrywers uit verskillende genres elkeen ’n hoofstuk geskryf het, vir publikasie goedgekeur is.
Vir meer inligting, kontak Stefaans Coetzee per e-pos, of klik op hierdie skakel: https://www.shack2sanctuary.co.za/boekfees-2022/.

