
Magda Louw begin 2 Januarie 2023 op kykNET. Desiré Gardner (veral bekend vir sepierol in Suidooster) is skrywer en hoofkarakter. Hannes van Wyk speel teenoor haar. Die reeks is die uitvloeisel van gelyknaminge kykNET-storiefilm.
Wanneer die nuwe kykNET-komediereeks Magda Louw vroeg in Januarie 2023 op kykNET begin, beloof dit om ’n skatkis van vars en unieke Afrikaanse televisiehumor te wees.
Magda Louw vertel die storie van Magda en haar man Erhard, wat deelneem aan ’n werklikheidsreeks, waar ’n kameraspan hulle volg om hul dag tot dag lewe - met ’n paar onverwagse kinkels en kabels – te dokumenteer.
Die reeks is op die gelyknamige kykNET-storiefilm gebaseer en die draaiboek is deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol vertolk, geskryf.
Desiré, wat veral bekend is vir haar sepierol as Carmen in Suidooster, het aanvanklik Magda Louw as ’n eenvrou-verhoogproduksie geskep en dit is in 2021 as ’n storiefilm ontwikkel.
Die gesoute akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk is as Erhard te sien, terwyl die rolle van Magda se dogter Gertrude en seun Baltus onderskeidelik deur Cintaine Schutte en Bennie Fourie vertolk word. Gershwin Mias is die kameraman Shaun, wat die Louws rondvolg en wat diep in Magda se hart kruip.

Ander bekende akteurs wat verskynings maak, is Shimmy Isaacs, André Weideman, Margit Meyer-Rödenbeck, Wynand Kotze, Elzet Nel en Mandri Sutherland.
Volgens Desiré is Magda Louw ’n “tong-in-die-kies” en “knop-in-die-keel” kykie op die onvermydelike dinge in die lewe, soos oudword, tyd en die feit dat ons niks kan doen om dit waarmee Vader Tyd woeker te keer nie.
“Dit gee ook ’n blik op die uitdagings wat ma-wees bied, huweliksprobleme, hoe om jou lewenspad saam met een mens te stap, menopouse, die uitdagings van die middeljare, jaloesie en Botoks.”
Desiré sê om Magda te speel, is een van die lekkerste ondervindinge van haar loopbaan.
“Ek het dit so geniet om ’n karakter, wat ek al so lank ken, te speel en ook om te sien hoe my mede-akteurs lewe gee aan die ander karakters wat ek op papier vasgepen het,” vertel sy.
“Maak nie saak wat jy doen nie, hoe mooi jy oudword, hoe gesond jy leef of hoe baie ons van mekaar verskil nie, die een ding is seker: ons almal word oud. En ons is almal net tydelik hier, terwyl ons almal sukkel om elke oomblik te waardeer en werklik te ervaar.”
Kykers kan ook uitsien na ’n insetsel op Bravo! op Sondag 4 Desember vir ’n eksklusiewe kykie agter die skerms en om te sien hoe Desiré en Hannes vir hul karakters “verouder” word.
MAGDA LOUW BEGIN OP MAANDAG 2 JANUARIE 2023 OM 20:00 OP KYKNET (KANAAL 144 OP DSTV) VIR 13 EPISODES.
- Foto’s: Gys Loubser


Kommentaar
Lank laas so lekker gelag en gehuil. Julle kan werklik trots wees op Magda Louw. En die akteurs was briljant! Trots Suid-Afrikaans.
Ek was histeries! Absoluut briljant!
Ek het die storiefilm al twee keer gekyk, en lag elke keer só lekker, want ek 'sien' myself as ek Magda so sien. Ek kan nie wag om Bennie en Cintaine ook te sien in die storie nie. Hulle is albei uitstekende akteurs!
Dis 'n tonic om elke week dié reeks te kyk, mis dit nie, maar nou loop dit ten einde. Ag nee, dis goeie vermaak. Kan daar nie asb 'n opvolg wees nie. GROOT ASB. En baie dankie. Lekker skryf.
Hierdie reeks was uitstaande. So getrou aan die werklikheid. Ons kon lag en huil, onsself herken en gereeld hoop ons word nie so nie! Goed gedaan! Reeks 2 asb!
Voorwaar 'n reeks om op trots te wees. Beslis 'n hoogtepunt van ons week. Ons kon saam met julle lag en huil. So getrou aan elkeen van ons se lewenspad. Die karakters het diep in ons harte ingekruip. Asb, ons sal 'n tweede reeks so geniet.