
Skyn ’n lig oor jou storie!
Prysgeld ter waarde van R80 000 is op die spel.
Sluitingsdatum: 30 Junie 2027
Die LAPA-Jeugromankompetisie lok elke twee jaar van ons land se bekendste en gewildste skrywers vanuit alle genres en ouderdomsgroepe. Met verhoogde prysgeld vir die volgende kompetisie, hoop ons om sommer ’n hele klomp nuwe storievertellers aan te spoor om die pen op te neem en kreatief te raak. Dalk is dit die begin van jou éie roemryke skrywersloopbaan...
Jy het ’n jaar lank tyd om seker te maak jy kom in aanmerking vir een van die drie pryse ter waarde van R80 000. Die algehele wenner ontvang R40 000 vir die wenboek, en die twee naaswenners ontvang elk R20 000. Selfs skrywers wat nie in die topdrie eindig nie, staan steeds ’n kans om gepubliseer te word.
LAPA nooi graag alle skrywers en voornemende skrywers uit om die liggies en lampies aan te skakel – laat die lig oor jou storie skyn!
Inskrywings sluit 30 Junie 2027. Besoek www.lapa.co.za vir meer inligting. Maak seker jy bestudeer die kompetisiereëls goed.
Kompetisiereëls
- Die verhaal moet in Afrikaans geskryf wees en gemik wees op lesers tussen 11 en 18 jaar oud. Om die proses vir jouself te vergemaklik kan jy gerus die volgende riglyne volg om die verhaal te struktureer:
- Jeugromans vir jonger tieners (11-13 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 20 000 en 25 000 woorde lank. Voorbeelde is die Thomas@-reeks deur Carina Diedericks-Hugo, ʼn Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs en Die seun met die swaeltjie deur Fanie Viljoen.
- Tienerfiksie (13-15 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 30 000 en 40 000 woorde lank. Voorbeelde is Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen, Die Tusseninners deur Zelda Bezuidenhout en Dit het alles begin by ’n hond deur Annelie Ferreira.
- Jongvolwassenefiksie (15-18 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is nie langer as 45 000 woorde nie. Voorbeelde is Die fluisteraar deur Jacolet van den Berg en Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen.
- Die beoordelingsproses vind as volg plaas:
- Wanneer die kompetisie gesluit is, word ʼn kortlys van manuskripte saamgestel. Die kortlys word aan drie onafhanklike, anonieme beoordelaars gestuur. Die manuskripte word ook blind beoordeel – alle inligting oor die skrywer word uit die manuskrip verwyder.
- Beoordelaars sal ʼn wenmanuskrip en twee naaswenners aankondig. Die algehele wenner sal die prysgeld van R40 000 wen.
- Alle inskrywings moet die deelnemer se oorspronklike, ongepubliseerde werk wees. Ons raai nie die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) vir skryfwerk aan nie (m.a.w. dat ’n KI-program die skryfwerk doen nie). Maak asseblief melding daarvan as KI in die skryfproses gebruik is.
- Deelnemers gee aan LAPA die eerste opsie om enige van die inskrywings te publiseer. Geen ingeskrewe verhaal mag elders voorgelê word of wees vir moontlike publikasie nie. LAPA sal ná afloop van die kompetisie skriftelik met alle deelnemers in verbinding tree om te bevestig of hul verhale gepubliseer word al dan nie.
- Die prysgeld is as volg:
- Prys vir merkwaardige jeugverhaal: R40 000
- Naaswenner: R20 000
- Naaswenner: R20 000
- Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Indien die gehalte van die inskrywings nie na die beoordelaars en LAPA Uitgewers se mening voldoende is nie, word die reg voorbehou om geen pryse toe te ken nie.
- Die volgende inligting moet op die heel eerste bladsy van die voorlegging verskyn en enige inskrywing kan gediskwalifiseer word indien dit nie daarop verskyn nie:
- Die skrywer se naam en van
- Titel van die manuskrip
- Lengte (aantal woorde) van manuskrip
- E-posadres
- Telefoonnommer
- Indien daar onder ’n skuilnaam geskryf word, moet die skrywer se volle naam en van ook op die heel eerste bladsy van die manuskrip aangebring word.
- Die deelnemer se naam, of skuilnaam, moet op die eerste bladsy verskyn, maar dit mag nêrens elders op die manuskrip verskyn nie. Sou dit iewers anders verskyn, kan die manuskrip summier gediskwalifiseer word.
- Inskrywings moet op genommerde A4-bladsye getik wees, slegs aan een kant van die bladsy, in dubbelspasiëring en in ’n maklik leesbare lettertipe (soos Arial of Times New Roman).
- Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 Junie 2027. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
- Wenners sal op die laatste in April 2028 bekendgemaak word.
- Werknemers van Penguin Random House Suid-Afrika en LAPA Uitgewers mag nie deelneem nie.
- LAPA Uitgewers aanvaar geen aanspreeklikheid vir verlore manuskripte nie. Dit is altyd raadsaam om ’n afskrif van ’n manuskrip te hou.
- Deur in te skryf onderneem jy dat jy al die reëls gelees en aanvaar het.
- Inskrywings kan op die volgende manier voorgelê word:
Stuur dit aan lapacompetitions@penguinrandomhouse.co.za met JEUGROMANKOMPETISIE en jou manuskrip se naam as onderwerp.

