Persverklaring: kykNET se hoogtepunte, Maart 2021

  • 0

Die Boekklub
Drama
Dinsdae om 20:00
Met Armand Aucamp, June van Merch, Nicole Holm, Jana Cilliers, Karli Heine, De Klerk Oelofse, Margit Meyer-Rödenbeck, Pierre van Pletzen en Nicole Fortuin.

Pietie Beyers is te sien in die rol van John. Ons het hom in die eerste reeks reeds leer ken, maar hierdie keer verloor hy sy hart op meer as een manier op Merweville.

Gee so ’n bietjie agtergrond oor jouself. Waar het jy grootgeword, skoolgegaan en studeer. Hoekom het jy op drama as ’n loopbaan besluit?

Port Elizabeth gebore en daar gewoon tot net voor skool. Ons trek toe Kaap toe en ek gaan skool by Laerskool en Hoërskool Jan van Riebeeck. Stellenbosch toe om te studeer en voor ek myself voltyds ’n “onafhanklike kontrakteur” begin noem het, was ek vier jaar by ’n advertensiemaatskappy in die Kaap.

Ek het op drama besluit, want toe ek die pad byster raak en wiskunde-olimpiades vir 'n cool image verruil, was dit iets wat my weer aan ’n suiwerder, vierjarige self herinner het.

Hoe het jy die karakter John benader?

Met eerlikheid en noukeurige oorweging.

Wat maak sy rol anders as in die vorige reeks?

Hy't diep spore getrap en uitdagende paaie bewandel. Trauma het sy ego gestroop.

Wat het jy by hom geleer?

Dat jy jou gut eerder as jou kop kan vertrou.

Die boekklub 3 is tydens inperking verfilm. Wat was die grootste uitdagings?

Die verfilmingsdatums wat weens positiewe gevalle ge-juggle moes word. Dankie tog vir ’n uitstekende produksiespan.

Hoekom dink jy het Die boekklub kykers so aangegryp? Dink jy dit gaan met die derde reeks ook gebeur?

Ek hoop so. Ek dink die storie prioritiseer menslikheid. Dit vind raakpunte in wat met die eerste oogopslag na verskille lyk. In Die boekklub is daar plek vir almal.

Hoe lyk die res van die jaar? Enige groot planne of projekte waarvan ons moet weet?

Ek belê baie tyd (en put baie genot) uit my, en ’n vriend van my, Niel Kidd, se podsending So loop hy maar. Ons droom om daarvan die grootste Afrikaanse podcast in die wêreld te maak.

Die Boekklub is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Afgrond
Drama
Woensdae om 20:00
Met Jana Kruger, Kim Cloete, Marguerite van Eeden, Gretchen Ramsden, Kanya Viljoen, Ivan Zimmerman, Maurice Carpede, Wilhelm van der Walt en Stian Bam.

Kanya Viljoen, wat die rol van die begrafnisondernemer Leora speel, is dalk ’n nuweling op TV, maar sy het al diep spore in die teaterwêreld getrap.

Vanwaar kom jy, waar het jy studeer en hoe het jy in die uitvoerende kunste beland?

Ek het in Somerset-Wes grootgeword en het aan die Universiteit van Kaapstad teater en uitvoerende kunste studeer. Die kunste was maar nog altyd ’n baie groot liefde in my lewe. As klein dogtertjie was ek altyd aan die dans of storie-vertel of wêrelde verbeel en dit het in my skooldae al hoe meer ernstig geword. Ek het klassieke ballet, sang, klavier en drama dwarsdeur laerskool en hoërskool geneem en wou nog altyd op een of ander manier in die kunste betrokke wees.

Vertel ons meer van jou karakter, Leora. Hoe het jy onder haar vel ingeklim?

Daar is soveel elemente en streke van Leora wat vir my so bekend voel – haar positiewe uitkyk op die lewe, haar babbelende energie en haar liefde vir ietsie moois is alles eienskappe wat ek so goed ken. Daar was ook elemente wat nie so bekend gevoel het nie, maar dit was ’n lekker uitdaging om aan te pak.

Hierdie is jou eerste groot TV-rol. Wat was vir jou die grootste uitdagings? En vreugdes?

Daar was soveel vreugdes dwarsdeur die hele proses van Afgrond, maar ‘n hoogtepunt is die span mense saam met wie ek kon werk. Van die regisseur, Corné van Rooyen, wat so ’n sagte hand gehad het, en die kinematograaf, Sunél Haasbroek, wat dikwels ’n beeld so mooi kon vasvang, tot die kostuum- en grimeerspan, wat elke oggend grappies vertel het. Die spoed waarteen ’n mens moet werk, was iets waaraan ek gewoond moes raak, maar ek dink ek het dit darem teen die einde baasgeraak.

Jou wortels lê stewig geplant in die teater – nie net as skrywer nie, maar ook as regisseur. Sal teater altyd jou eerste liefde bly?

Dit is ’n baie moeilike vraag. Ek dink teater sal altyd my fondasie bly en dit het my soveel oor myself en oor die kuns van stories vertel geleer. Daarom sal ek altyd by teater betrokke wil bly. Dit gesê, is ek net so opgewonde oor film en televisie en al die ander maniere waarop ’n mens kan speel en skep.

Jy was een van vyf opkomende skrywers wat in 2019 gekies is vir die Jakes Gerwel Stigting se mentorprogram. Wat beteken so ’n program vir jong skrywers?

Die Jakes Gerwel-skrywersresidensie was ’n ongelooflike geleentheid waar ek so baie geleer het. Dit was so ’n groot voorreg om my alledaagse omgewing te verlaat en om vir ’n maand lank ’n toneelstuk te ontwikkel en te skryf. Dit het ’n fokus rondom die werk toegelaat, wat nie altyd moontlik is as jy ’n jonger skrywer is nie. Ek dink daar is beslis meer sulke programme nodig, wat kosbare tyd aan kunstenaars kan bied.

Hoe lyk die res van jou jaar? Waaraan werk jy en wat hoop jy kom oor jou pad?

Met die pandemie is alle planne ’n bietjie holderstebolder, maar ek is tans besig om produksies as deel van die Baxter Teater se Zabalaza-fees te fasiliteer. Ek berei ook voor om klas te gee aan die Universiteit van Kaapstad en Act Cape Town. Hopelik is daar ook binnekort ’n teaterstuk of twee by die feeste.

Afgrond is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Boer Soek ’n Vrou
Realiteit
Donderdag om 20:00
Met Marciel Hopkins as aanbieder

Dinge begin stadig maar seker in ’n rigting beweeg op elkeen van die boere se plase.

11 Maart

Twee vroue bly oor en dis tyd vir die familie-en-vriende-braai. Hoeveel invloed gaan dié kuier op die boer se finale besluit hê?

18 Maart

Die laaste dag op die plaas breek aan. Die boer moet sy keuse maak en dit is die vroue se laaste kans om sy hart te wen.

25 Maart

Die groot oomblik: Die boer moet sy finale keuse maak, maar is albei die vroue gretig om die nuutgevonde verhouding voort te sit? Die liefde kan tog so onvoorspelbaar wees.

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Die 11de kykNET Fiëstas
Teatertoekennings
Sondag 7 Maart om 20:00
Met De Klerk Oelofse as aanbieder

Anders, maar nogsteeds glansryk en inspirerend. Dít is hoe vanjaar se Fiësta-toekennings beskryf kan word.

Ten spyte van die uitdagings van die beperkings as gevolg van Covid-19 het kreatiwitiet geseëvier om die uitvoerende kunste en gehore bymekaar te bring. Die 11de kykNET Fiëstas vind plaas om hierdie werk te vereer.

Vanjaar se Fiësta-toennings, wat vir die elfde keer uitgedeel word, is as gevolg van die pandemie nie ’n lewendige uitsending voor ’n groot gehoor soos in die verlede nie, maar wel net so opwindend soos vorige jare. Die toekenningsgeleentheid is die afgelope naweek verfilm en word op Sondag 7 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

“Wat doen die muse as hy by ‘n fees aankom en daar gaan niks aan nie? Die ligte is af en alles is toe onder lakens en stof,” sê die regisseur van vanjaar se Fiëstas, Hennie van Greunen. “Wel, hy begin met ‘n noot op die ou klavier wat eenkant staan. As hy hierdie twee koorde bymekaar inprop, gaan doer êrens ‘n verhooglig aan.”

Groot name in die vermaakbedryf is vanjaar deel van die produksie: Joshua na die reën, Antoinette Kellerman, De Klerk Oelofse, Corlea Botha, Elandré, Jemma Kahn, Anna Davel, Richard September en Charlton George asook opkomende sterre soos die danser DfeatSA, die sanger Kyle Seconna, die aktrise en sangeres Devonecia Swartz en die jong stemme van Phoebe Maxaji, Mia Dippenaar en Wanda Jacobs.

Soos gewoonlik gaan daar ook drie legendes vereer word met lewensbydrae-toekennings. Hierdie toekennings gaan vanjaar aan die veelsydige akteur, filmmaker en radioman Nic de Jager, die sanger en akteur Terry Fortune en die legendariese fotograaf Bob Martin.

Benewens toekennings in twaalf kategorieë wat toneel, musiek, kuns en dans insluit, is daar ook vanjaar vir die eerste keer drie Sinjatuur-toekennings wat toegeken gaan word. Dié toekennings gaan aan kunstenaars wat tot nou toe uitsonderlik presteer in hulle loopbane. Soos met die Blou Fiësta, die toekenning wat gaan aan ’n uitsonderlike prestasie op die feeste program, word die wenners van die Sinjatuur toekennings eers die aand van die uitsending bekend gemaak.

Skakel Sondag 7 Maart 20:00 in vir die 11de kykNET Fiëstas op kykNET (DStv-kanaal 144).


kykNET Storiefilms

Alomtjom
Televisiefilm
Vrydag 12 Maart om 21:00
Met Luan Jacoobs, Lindie Jordaan, Louis Minaar en Francois Jacobs.
Regisseur – Freddy Louw

Dis 2021. Die toekoms is hier en die apokalipse het aangebreek.

Tussen sosiale media, internetverslawing en die pandemie het mense se sosiale vaardighede verdwyn en is die meeste mense te bang of te lui om vriende te maak. Behalwe Andries, ’n kontrakwerker wat spog dat hy met enige iemand kan vriende maak.

*Kyk hier na die lokprent.

Alomtjom is Vrydag 12 Maart om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

***

Die Smaak van Saffraan
Televisiefilm
Sondag 14 Maart om 20:00
Met Vilje Maritz, Monique Rockman, Gustav Gerdener, Magda Beukes en John-Henry Opperman.
Regisseur – Sallas de Jager

Nadat hy sy vrou en dogter verloor het, dwaal ’n boer, Rudi van Rooyen, deur sy lewe, verloor sy geloof en skryf sy vriende af.

’n Jong predikant, Riaan Gericke, pleit by Rudi om by ’n ondersteuningsgroep aan te sluit omdat ’n vrou in dié groep, Kimberley Adams, ’n soorgelyke trauma ervaar het.

Die Smaak van Saffraan is Sondag 14 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Op Straat
Televisiefilm
Vrydag 19 Maart om 21:00
Met Amalia Uys, André Odendaal, Izel Bezuidenhout, Wilhelm van der Walt en Grant Swansby
Regisseur – Nicola Hanekom

’n Blik op die lewe van haweloses en die hartroerende verhaal van ’n familie wat lank gelede uitmekaar geskeur is.

Dis ook ’n storie oor vergifnis en medemenslikheid.

Op Straat is Vrydag 19 Maart om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Die Begin
Televisiefilm
Sondag 21 Maart om 20:00
Met Ansu Visser, Wilhelm van der Walt, Augusta Zietsman, Beer Adriaanse, Hanli Rolfes, Louis Minnaar en Mila Guy
Regisseur – Mila Guy

Die aartappelgereg is gaar, die familie is op pad en die ring is Pinterest-perfek. Jan-Hendrik is 32 jaar oud, gelukkig, verlief en reg om die volgende stap te neem. Bea is 28, gelukkig en verlief, maar ... Daar is altyd ’n maar.

*Kyk hier na die lokprent.

Die Begin is Sondag 21 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Woke
Televisiefilm
Sondag 28 Maart om 20:00
Met Deon Lotz, Jo da Silva, Natasha van der Merwe en Gideon Lombard.
Regisseur – Sanet Olivier

In 1993 het Charles Nieuwenhuizen, net soos die res van die wêreld, gretig op die nuwe Suid-Afrika gewag, maar ’n tragiese voorval by die werk het hom vir 27 jaar in ’n koma laat beland. Hy word in 2020 wakker in ’n wêreld wat hom heeltemal dronkslaan.

Woke is Sondag 28 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


kykNET Sepies

Binnelanders
Sepie
Weeksdae om 19:30

Maart is ’n besige maand in die gange van Binneland Kliniek – en nie net omdat Elise Kruger weer terug is om die nuutste apparaat van haar maatskappy te smous nie. Elise het nou maar die manier om mense verkeerd op te vryf. Verlede keer het sy vir Annelize goed die harnas ingejaag het, maar hierdie keer kom sy teen haar grootste teenstander tot op datum te staan: Annetjie Strauss.

Annetjie, die selfaangestelde waghond van At Koster, gaan beslis nie Elise se storietjies en onverwagse besoeke verder duld nie. Sy ken al die truuks van mediese reps. Gooi nou nog ’n waardevolle horlosie (wat 'n Koster-erfstuk is!) in hierdie kruitvat en jy het ’n plofbare situasie wat dalk net tot 'n nuwe vriendskap – of gedugte vyandskap – kan lei.

Tracy Smit gaan haar storie moet ken wanneer At Koster sy vendetta teen haar verder voer. Hy stel Tracy voor ’n verskriklike besluit en hy motiveer dit met ’n gulde geleentheid en 'n asemrowende som geld. Is Tracy meer uitgeslape as At? En gaan sy haar stem dik maak teen hierdie man wat almal en alles met sy ystervuis regeer?

Louis en Naomi is in die sewende hemel noudat hulle nie meer nodig het om te redekawel oor ’n anonieme of ’n bekende skenker nie. En nou het hulle nog ’n huisie in die oog en dis ’n aantreklik proposisie. Kort voor lank is daar egter ’n hindernis of twee in die pad. Joline Hofmeyer is dalk die perfekte kandidaat om die biologiese somme te laat klop, maar gaan sy kan inpas by wat Naomi verwag? En gaan Louis die storms van huiskoop kan trotseer sonder om iemand te vermoor?

Binneland Kliniek en Southern Hope het nog nooit geskrik vir ’n bietjie kompetisie nie, maar met Chiron wat in almal se nekke blaas en na almal se hakskene byt, is dit ’n hele nuwe speletjie. Die groot vraag is: Gaan daar 'n samesmelting wees of nie?

Gaan die twee hospitale se raadslede rondom ’n tafel kan sit en die ding uitpraat? Of is dit 'n tevergeefse poging wat hier aangewend word?

Daar het heelwat tyd verloop vandat Maya die laaste keer so bietjie met die liefde getango het. ’n Mens moet seker vergewe en vergeet, maar kan Maya dit met haar hele hart doen? Om sake te vererger is haar pa ook weer in die omtrek en Faf is ’n jakkals wat van hare maar nie van snare verander nie. Gaan Maya ooit geluk kan vind? Of is sy nou maar vir ’n leeftyd gestraf met die Gosslin-naam? En gaan sy ooit uitvind wie en wat Faf regtig is?

Hou vas jou matras, want Maart is besig – en nie net omdat ons nog nie weet wie almal lewend van Nigerië gaan terugkeer nie ...

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Suidooster
Sepie
Weeksdae om 18:30

Dit is nie ’n maklike tyd vir die Samsodiens nie. Hulle geluk oor Carmen en Rhafiek se babanuus is van korte duur, want daar is komplikasies. Die spanning loop hoog en veroorsaak wrywing tussen Estelle en Mymoena. Dié twee matriarge van die twee families sal die vrede vir die kinders se onthalwe moet probeer bewaar. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Die gemeenskap trek saam om die jong paartjie se laste ligter te maak.

Intussen slaan Siya 'n nuwe blaadjie om en raak betrokke by die kerk, maar sy geduld word getoets wanneer Joy noodgedwonge by hom moet aansluit. En sy kom met bagasie. Wanneer Joy se pa onverwags begin uitreik, is daar vrae rondom haar grootwordjare en haar verhouding met haar ouers. Sy het nie veel tyd om haar kant van die storie te vertel voordat Gino, haar pa, uiteindelik opdaag nie. Siya se gemeenskapsdiens strek binnekort verder as net die sopkombuis wanneer Gino met alle mag en krag by sy dogter probeer uitkom. Niemand het ’n bril nodig om te sien Gino is moeilikheid nie, maar iemand soos Siya verstaan bitter goed almal verdien 'n tweede kans. Of is dit soms naïef om so te dink?

Trouklokke lui vir Imraan en Kaashifa, maar as dit van Kaashifa afhang, word daardie trouklokke van die duurste koper gemaak – sy erf groot geld by haar oorle’ ouma Rabia en kry die bevlieging om ’n ordentlike troue aanmekaar te slaan. Maar wanneer sy besef hoeveel werk 'n ordentlike troue op so ’n skaal verg, haal sy nog geld uit sodat iemand anders dit namens haar kan reël. Arme Imraan moet haar in toom probeer hou, maar niks bring ’n mens se kop vinniger uit die wolke as ’n bietjie tragedie nie. Kaashifa en Imraan gaan dalk trou, maar nie heeltemal soos Kaashifa wil nie.

En is daar dalk iets aan die broei tussen die lewenslange vriende Bridgette en Chris? En wat op aarde maak ’n mens as jy op daardie ouderdom in ’n liefdesdriehoek verstrengel raak? Want daar's nog iemand wat op Chris verlief raak.

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

***

Getroud met Rugby
Sepie
Weeksdae om 18:00

Bibi twyfel oor haar en Jordan se verhouding. Reitz neem ’n paar aahangers op ’n besigtigingstoer van die stadion. Liam is ongelukkig oor Candice se soentoneel. Renate nooi Lulu vir ’n ongemaklike braai. Buks sê sy gedig vir Nesie op en Reitz rig ’n moeilike versoek aan Amanda.

Renate deel groot nuus met Simon. Bibi sukkel om Jordan te vergewe. Daar is ’n kans dat Jana gevind is. Bart is agterdogtig oor die insident met Reitz, en Amanda ontvang skokkende nuus. Renate en Simon kry die toetsresultate waarop hulle gewag het.

Dit word bevestig dat Jana lewend gevind is. Buks probeer Nesie oorreed om hom te vergewe. Schalk probeer Jana help om haar geheue te herwin. Lulu vind uit wat Renate se geheim is. Schalk en Jana herleef hul eerste ontmoeting. Liam probeer om dinge tussen hom en Candice reg te maak. Jana word geteister deur terugflitse en begin om ondersoek in te stel na Pottie se huurkontrak. Bibi is hartgebroke oor Jordan. Almal sit hulle beste voetjie voor vir die Legs for Africa-kompetisie en Lulu ontvang ’n ongemaklike versoek.

Getroud met Rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)


kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Arendsvlei
Telenovela
Maandae tot Donderdae om 19:30

Die drama is weer volop in die Vlei vandeesmaand. Wendy (Rehane Abrahams) is terug met ’n bang en is bang vir niemand nie. Sy en suster Dotty (Ilse Klink) is besig om planne te beraam wat die gemeenskap kan verwoes. ’n Leerling van Hoërskool Arendsvlei verdwyn voor almal se oë en ’n mens kan nie as anders as om te wonder of Wendy iets daarmee te doen het nie.

En wie het gesê Februarie is die enigste maand van liefde? ’n Onverwagse verlowing bring weer lig in die dokter vir Arendsvlei se mense. Niks wat ’n spesiale aand met vriende en familie nie kan regruk nie. Kry maar die sneesdoekies reg – hierdie jaar hou ons weer troue in die Vlei.

Arendsvlei is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

***

Tussen Ons
Geselsprogramme
Maandae tot Donderdae om 17:30
Met Tracey Lange, Kay Karriem, Zelda la Grange, Ingrid Jones, Success Lekabe en Dr. Darren Green as aanbieders

8 Maart

Ricky Schroeder slaan balle saam met die professionele gholfspeler Cassidy Williams en gesels met haar oor vroue in gholf. Die dames praat oor toksiese manlikheid en Mnr. Suid-Afrika 2019, Heinrich Gabler, gesels oor sy kinderjare in die kinderhuis.

9 Maart

In Tussen ons – medies deel die alopesielyer Inge Palvie haar verhaal van hartseer en hoop. Die dermatoloog Dokter Suretha Kannenberg gesels oor velprobleme. 10 Maart

Die Suidooster-ster Jawaahier Petersen kom kuier en praat oor kinders op sosiale media. Die dames gesels oor dankbaarheid.

11 Maart

Tammy-Ann Fortuin deel haar lewe in Los Angeles, die filmmaker Deidré Jantjies gesels oor haar bekroonde kortfilm en Early B sing sy splinternuwe liedjie.

15 Maart Die dames gesels oor hulle verhoudings met geld en kos wat onbekostigbaar geraak het. 16 Maart

Dr. Darren Green gesels in Tussen ons – medies met voetkundige Mainke Greeff oor interessante voetfeite en algemene voetkwale. Ewan Strydom wys hoe jy jou arms van pap na Popeye kan transformeer.

17 Maart

Aunty Betty gesels oor die WhatsApp-nuus. ABSA se hoof van veiligheid, Sandro Bucchianeri, praat oor kubersekuriteit en die dames bespreek toksiese werkplekke. 18 Maart

Micaela Kleinsmith en Tye Platinum lewer roerende vertonings. Een van die skrywers agter Suidooster, Ryan Pedro, kuier saam met die digter Shirmoney Rhode by Tracey Lange.

Tussen Ons is Maandae tot Donderdae om 17:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).


kykNET NOU! (DStv-kanaal 146)

Classics 2017
Konsert
Sondag 21 Maart 2021 om 12:00

Dié konsert-ervaring bring van die grootste klassieke-, pop- en rockliedjies op ’n simfoniese styl na kykers. Kyk uit vir die kinderster, Amira, Corlea Botha en die Coleske-broers.

Classics wys Sondag 21 Maart 2021 om 12:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).


kykNET Lekker (DStv-kanaal 148)

Op Seer Se Spoor S1
Misdaad
Dinsdae om 21:00
Met Ernusta Maralack as aanbieder

Cameron Wilson (20) van die Kaapse Vlakte is gedoop as ’n “heedendaagse reeksmoordenaar”. Ernusta fokus op Lekitha Moore (18), wat Wilson in 2016 vermoor het deur haar 98 keer te steek.

In 2012 het Attienne Meyer sy eksmeisie Anthea Adams se ouerhuis met ’n petrolbom bestook. Anthea het ontsnap, maar haar ma sowel as Alex, haar en Attienne seun, het in die brand gesterf.

In 2015 het Sheree Prince (18) vir Sandra Malcolm (74) onthoof, haar ledemate afgesny en ook haar ingewande uitgehaal. Ernusta vind uit wat 'n stil meisie van Citrusdal daarna gedryf het.

Op Seer Se Spoor is Dinsdae om 21:00 op kykNET Lekker (DStv-kanaal 148).


FliekNET

Sink
Rolprent
Woensdag 24 Maart om 20:30
Met Anel Alexander, Shoki Mokgapa en Jacques Bessenger

’n Mosambiekse vrou wat in Johannesburg woon en werk moet ’n drastiese besluit neem nadat haar dogter tragies sterf terwyl haar werkgewers na haar omsien.

Sink is Woensdag 24 Maart om 20:30 op fliekNET (DStv-kanaal 149).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top