Persverklaring: kykNET se hoogtepunte, April 2021

  • 0

Die Byl is terug
Drama
Begin Dinsdag 27 April om 20:00
Met Waldemar Schultz, Marvin-Lee Beukes, Lika Berning, Eric Nobbs, Milan Murray en Trudy van Rooy.

Kol. Piet van der Bijl, alombekend as “Die Byl”, en sy span is terug in April vir nog ’n naelbytseisoen van hierdie gewilde reeks.

In die vorige seisoen het Smiley, en veral Adriaan Klopper, ’n skrikbewind van wraak en haat gevoer wat ’n nare letsel op Byl en sy span gelaat het. Hulle moes nie net die verlies van hulle kollegas verwerk nie, maar ook die individuele trauma wat elkeen ervaar het.

Kapt. Lena Maree (Lika Berning) worstel met haar verantwoordelikhede as ma en vrou wat verdwerg word deur dit wat van haar by die werk verwag word. Sers. Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) se herstel van fisiese en sielkundige letsels toets sy jong verhouding met dr. Shani van Rooi (Trudy van Rooy).

Dr. Fritz Barnard (Eric Nobbs) en Nicky van As (Milan Murray) is soos altyd die kompas en anker van die span, maar selfs hulle sukkel om die stukke bymekaar te hou. Byl (Waldemar Schultz) voel verantwoordelik, want sonder hom sou die span nooit die teiken van soveel haat geword het nie.

In die derde seisoen van Die Byl is ál hierdie emosies en gebeure met nuwe rillermoordsake verstrengel.

Die reeks is weer deur Leon Kruger geskryf en is in en om Kaapstad verfilm.

Die Byl begin Dinsdag 27 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Op my Eish!
Realiteit
Begin Donderdag 22 April om 20:00
Met Neels van Jaarsveld en Henre Pretorius as aanbieders

Neels van Jaarsveld, bekend vir sy rolle in Fynskrif, Dwaalster, Waterfront, Binnelanders en vele ander TV-reekse, flieks en verhoogstukke, is op soek na ware liefde en in hierdie nuwe werklikheidsreeks gaan hy dit hopelik kry.

“Ek geniet my werk as akteur, maar ek mis ’n spesiale persoon aan my sy; iemand wat die vreugdes en hartseer van die lewe met my kan deel; iemand met wie ek die gewone dinge kan geniet, wat my kan laat lag en saam met wie ek onthou-oomblikke kan beleef,” sê hy.

Neels het die hulp van sy jare lange vriend Henré Pretorius ingeroep om die leading lady van die volgende hoofstuk in sy lewensfilm te kies. Henré dra meer as een hoed in die reeks – hy is aanbieder, maar ook ’n vriend vir Neels én ’n ondersteuningsnetwerk vir die vroue wat ingeskryf het.

“Hoewel dit altyd Neels se besluit was wie huis toe gestuur word, het Henré ook later in die reeks die vroue beter leer ken om te sien of hulle, in sy opinie, by Neels sal pas,” verduidelik Gideon Eksteen, uitvoerende vervaardiger van die reeks.

Vir Henré het die proses sy en Neels se vriendskap verdiep en dit was vir hom ’n voorreg om deel van dié soektog te wees.

“Deur Neels se proses het ek self baie insig gekry oor hoe ons as mense in liefde geluk probeer vind. Liefde is nie geluk nie. Liefde is ’n byproduk van geluk. Wees gelukkig met jouself en kyk hoe liefde jou vind. Dit het ek voor my oë sien gebeur,” sê Henré.

Op my Eish! skop af op Donderdag 22 April om 20:00 op kykNET (DStv- kanaal 144). Gesels saam op sosiale media deur #OpMyEish te gebruik.


G.I.L
Komedie
Begin Maandag 5 April om 20:00
Met Bennie Fourie, Ashley de Lange, Hendrik Cronjé, Gershwin Mias, Ruan Wessels, Vele Manenje, Michelle Burgers en Frank Opperman.

Barry (Bennie Fourie) en sy unieke span is vanaf April op die kassie te sien in nuwe mokumentêre reeks, G.I.L. (Grobbies Internasionale

Ontmoet vir Barry Wiese – ’n ywerige raakvatter wat dík opgewonde was toe hy ’n pos kry om ’n internasionale lughawe te bestuur. Sy entoesiasme het egter ’n duik gevat toe hy besef dis minder internasionaal as munisipaal en iewers aan die gatkant van Suid-Afrika. Hy is opgeskeep met personeel wie se horisonne nie veel verder as hul skaduwees strek nie, maar hy sál dit, heel moontlik ten alle koste, laat werk.

In die rolverdeling is Bennie Fourie, Ashley de Lange, Hendrik Cronjé, Gershwin Mias, Ruan Wessels, Vele Manenje, Michelle Burgers en Frank Opperman.

G.I.L. begin op Maandag 5 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Weza sluit by die La’t wiel-span aan
Leefstyl
Begin Dinsdag 6 April om 17:30
Met Hannes Visser, Waldo de Waal en Weza Matomane as aanbieders

Die gewilde motorprogram La’t wiel se nuwe seisoen begin in April en daar is ’n opwindende nuwe impakspeler in die aanbiederspan – Weza Matomane.

Gee vir ons ’n bietjie agtergrond: Waar kom jy vandaan en hoe het jy in die TV- wêreld beland?

Ek is van Vanderbijlpark en was op Hoërskool Transvalia. Ek het, onder meer, Cravenweekrugby gespeel saam met Siya Kolisi, Eben Etzebeth en Faf de Klerk. Ná skool is ek na die Universiteit van Pretoria om chemiese ingenieurswese te studeer, maar ek het toe besluit dat ek eerder in die TV- rigting wil gaan. Ek het stemwerk begin doen en die res is geskiedenis.

Het jy nog altyd in motors belanggestel?

Ja, as kind het ek altyd karretjies gehad en daarmee gespeel. Soms het ek karretjies geruil en was daar ’n boksgeveg om daardie klein Mercedes-

Benz te kry. Toe ek groter geword het, was dit ’n ding om oor te spog wanneer jy kon sê: ‘Ma, daai is ’n BMW of daai is ’n Polo’. So ja, dit was nog altyd ’n deel van my lewe vandat ek ’n laaitie was.”

Wat is jou droomkar?

My droomkar is ’n Bentley Continental GT met twee deure en leersitplekke. Dit voel asof dit ’n meesterstuk is. So, as iemand vir my ’n kar wil koop – dis die een!

Stel jy ook in motorsport belang?

Ja, veral internasionale motorsport en ouens soos Valentino Rossi. Die top- renjaers presteer konstant en dit wys hoe hard hulle werk en hoe gefokus hulle is. Ek dink daar is baie lesse wat mens uit motorsport kan leer en oordra na leierskap.

Het jy enige verskuilde talente?

Ek kan dans. Ek praat ’n klomp tale – Afrikaans, Engels, Zoeloe, Xhosa en Sotho. En ek kan beatbox en moonwalk.

Wat beteken hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe?

Dis ’n groot eer om deel van dié program te wees saam met die twee ou toppies, Waldo en Hannes, wat soveel oor karre weet. Dis, soos Hannes sal sê, ’n reuse- oomblik in die motorbedryf se geskiedenis.

La’t Wiel begin Dinsdag 6 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Karakter
Leefstyl
Begin Maandag 5 April om 20:30
Met Rian van Heerden as aanbieder

Suid-Afrika is ’n wonderlike, diverse plek. Ons lê dalk aan die suidpunt van Afrika, maar ons het al enorme sukses op verskeie vlakke behaal. Dit is veral die mense wat van Suid-Afrika ’n eiesoortige plek maak.

In die nuwe dokumentêre reeks Karakter gaan ons die aanbieder Rian van Heerden deur die land volg op soek na unieke mense – daardie eksentrieke figure wat gemeenskappe aan die praat en wonder het. Die randeiers wat hulle nie steur aan wat ander dink nie, maar voortgaan en hulle lewens leef soos hulle wil.

Só is daar Rusty Pool, ’n voormalige tronkbewaarder, wat deesdae toeriste op ritte deur Cullinan neem in ’n doodskis wat aan sy driewielmotorfiets gehaak is. Of Rita Woodall-Terblanche, ’n voormalige nudis, lid van die AWB en Lotto- wenner wat met haarself getrou het. Vanessa Faarking Jarvis het poedelnakend op ’n wit perd deur die strate van Clarens gery nadat sy kankervry verklaar is en John Wayne het al meer as 200 ure op sy liggaamskuns, onder meer ’n tatoeëermerk oor sy hele gesig, spandeer.

Rian sê sy gawe om interessante mense en randfigure in ons samelewing op te spoor, was nog altyd daar. “Ek is altyd op die uitkyk,” sê hy. “En ek leer altyd iets by hulle.”

Karakter, ’n reeks van 13 episodes, elk met ’n interessante karakter as fokus, begin Maandag 5 April om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Die Groenste Vingers
Realiteit
Begin Donderdag 22 April om 21:00
Met Edrien Erasmus as aanbieder

Daar is min dinge so mooi soos ’n pragtige ruiker in ’n huis, ’n kleurvolle blommerangskikking op ’n tafel of ’n onthaalsaal wat ’n nuwe gesig kry met blomversiersels. Tog bly die mense wat hierdie sierade so moeiteloos aanmekaar slaan, soms vergete.

Die groenste vingers is ’n program waar tuiniers, bloemiste en blom-entoesiaste meeding om as wenner gekroon te word. Deelnemers sal week ná week verskillende uitdagings aanpak waarin elkeen ’n unieke rangskikking moet ontwerp waarna beoordelaars sal besluit wie “blom nog” en wie het verlep”.

Edrien Erasmus is die aanbieder.

“Ek is só opgewonde om saam met Die groenste vingers-deelnemers meer plante en blomme te leer ken en om hul pragstukke te sien. Dit gaan ’n fees vir kykers se oë wees,” sê sy.

Die beoordelaars is twee wêreldklasblomkenners: die bloemis Franz Grabe en die landskapargitek Leon Kluge.

Die groenste vingers begin Donderdag 22 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Hokaai, my meisie!
Realiteit
Begin Saterdag 3 April om 18:30
Met Shari Kennedy as aanbieder

In Hokaai, my meisie! volg kykers die pragtige, avontuurlustige aanbieder van die program, Shari Kennedy, op haar soektog na wonderlike eg Suid-Afrikaanse stories.

Shari is ’n plaasmeisie van Upington, ma van drie, en ’n waaghalsige rabbedoe sonder ’n bang haar op haar kop. In elke episode sal Shari na ’n ander deel van die land reis en tyd deurbring met ’n interessante karakter wat ’n eie spesifieke kultuur uitleef. Sy sal ook saam met elkeen ’n paar lekker aktiwiteite doen.

Danielle McDonald, vervaardiger van die reeks, sê dit was ’n absolute belewenis om hierdie program te verfilm. “Ons het die land deurkruis en uiteenlopende karakters gevind en hul elkeen die geleentheid gegee om hulle spesiale deel van die wêreld vir ons in te kleur.”

Shari sê sy het nie werklik besef watter juwele op haar voorstoep wag tot hierdie program gemaak is nie. “Die geheim is om van die hoofweg af te klim en die klein dorpies en agterpaaie te verken. Ek het myself tot my limiete gedruk en die lekkerste mense ontmoet. Ek kan nie wag om hierdie avontuur met kykers te deel nie,” sê sy opgewonde.

Hokaai, my meisie! begin Saterdag 3 April om 18:30 op kykNET (DStv- kanaal 144).


Dankie, Lottoland
Liefdadigheidsprogram
Begin Saterdag 3 April om 18:00

Die afgelope jaar het die mat onder mense se voete uitgeruk. Ons moes gewoond raak aan ’n nuwe manier van lewe en vir baie was dit ’n tyd van swaarkry en sente omdraai.

Dankie, Lottoland is ’n nuwe program wat ’n hand uitreik na dié wat dit die nodigste het. Dié reeks van 13 episodes fokus op verskeie liefdadigheidsorganisasies en kyk hoe daar gehelp word met alles van warm water aanlê tot kos en beddegoed verskaf.

In elk van die programme vertel twee bekendes watter liefdadigheidsorganisasie hulle na aan die hart lê. Hulle besoek dan dié organisasie, vind uit wat broodnodig is en sit hand by.

In die eerste program besoek Dewald Wasserfall en Simoné Pretorius Rock of Hope, ’n plek van veiligheid vir babas en jong kinders in Pretoria, en maak hulle ’n reuseverskil in dié organisasie se bestaan. Ander bekendes wat in dié reeks moue oprol, is Francois van Coke, Duane Vermeulen, Mimi Mahlasela en Therese Bam.

Dankie, Lottoland begin op Saterdag 3 April om 18:00 op kykNET (DStv- kanaal 144).


kykNET Storiefilms

Apokalips
Televisiefilm
Sondag 4 April om 20:00
Met Franci Swanepoel en Zetske van Pletzen
Regisseur – André Velts

Dis 2021. Die toekoms is hier en die apokalipse het aangebreek.

Die einde van die wêreld is hier. Mana sit en wag vir haar seun, ’n reddingswerker, om haar te kom haal. Drie ander hulpeloses wat skuiling soek, daag egter eerste op.

Apokalips is Sondag 4 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Bus 7070
Televisiefilm
Sondag 11 April om 20:00
Met Cintaine Schutte en Gustav Gerdener
Regisseur – André Velts.

Rita besluit om ’n kopskuif te maak met die hoop op ’n nuwe toekoms saam met daardie misterieuse oë wat haar elke dag, deur Bus 7070 se gaatjie, dieper intrek.

Bus 7070 is Sondag 11 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Poena
Televisiefilm
Sondag 18 April om 21:00
Met Robbie Wessels, Kaz McFadden en At Botha
Regisseur – Willie Esterhuizen

Covid-19 het vir Poena werkloos gemaak en hy moet by sy Oupa Poen aanklop vir hulp. Poena trek by sy Oupa in met baie beloftes van wat hy alles gaan doen om weer op sy voete te kom. Daarvan kom egter dadels en Poena misbruik sy Oupa se gasvryheid tot iets baie ergs gebeur wat hom dwing om baie vinnig groot te word.

Poena is Sondag 18 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Laastes
Televisiefilm
Sondag 25 April om 20:00
Met Melissa Pretoruis en Carla Smith
Regisseur – Beer Adriaanse

’n Matriekmeisie word die oggend ná haar matriekafskeid wakker en besef sy het die vorige aand met haar vriendin se ouer broer geslaap. Sy was ook die laaste persoon wat hom lewend gesien het.

Laastes is Sondag 25 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Lykskou
Televisie film
Vrydag 30 April om 21:00
Met Bouwer Bosch en Llandi Beeslaar
Regisseur – André Velts

Twee bedorwe brokkies van ’n begrafnisondernemer moet noodgedwonge hul pa se besigheid ná sy dood oorneem. Hulle word gedompel in die raaiselagtige ongeluk waar die grense van lewe en dood oorskry word. ’n Donker komedie oor opportuniste, swendelaars, kunstenaars en die verlede tyd.

Lykskou is Vrydag 30 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Koortjies met Jonathan Rubain is terug!
Gospelprogram
Begin Sondag 4 April om 18:00
Met Jonathan Rubain as aanbieder

Daar is niks so lekker soos ’n Sondagaand-bedieningsessie met jou familie en Jonathan Rubain in die agtergrond nie!

kykNET&kie, DStv-kanaal 145, is opgewonde om aan te kondig dat die tweede seisoen van Koortjies met Jonathan Rubain binnekort weer vanaf Sondag 4 April om 18:00 op die kassie sal wees.

Hierdie keer kan kykers uitsien na ’n splinternuwe stel, nóg inspirerende gaste, boeiende stories en lekker aanbiddingsliedere wat jou siel sal vul vir die week wat kom.

In die eerste spesiale episode vier ons Paassondag. Pastoor en sanger Patrick Duncan en dominee Farren Watt van Lambertsbaai kom deel hul kennis.

Verder kan kykers ook uitsien na onderwerpe soos die rol wat familie speel, die rouproses as jy iemand aan die dood moes afstaan en hoe om vry te wees van sonde, verslawing en enige ander kwessies wat jou terughou.

Van die bekende gaste wat kom kuier, is die akteur Dann-Jacques Mouton, bekend vir sy rol in Noem my Skollie, Abraham en ’n gasrol in Suidooster, Merlin Balie wat Hein Venter in Arendsvlei speel, pastoor en eNuus-aanbieder Jenna- Leigh Bilong, Bishop Joshua Louw en nog vele meer.

“Die eerste seisoen van Koortjies was die begin van TV vir my. Jy wou net alles reg doen en versigtig wees. Hierdie keer is ek baie meer vry en kykers sal sien wie Jonathan regtig op die verhoog is. En die nuwe stel, wow, dis beautiful! Dit voel nou regtig soos home. As ek so hoor hoe die show mense bemoedig het en hoe dit mense gehelp het deur moeilike tye, weet ek sommer dié seisoen gaan groter wees,” sê Jonathan, aanbieder van die reeks.

Koortjies met Jonathan Rubain begin 4 April 2021 om 18:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).


kykNET NOU! (DStv-kanaal 146)

CrashCarBurn - Live in Concert
Konsert
Vrydag 16 April 2021 om 21:00

CrashCarBurn is 'n rockgroep uit Suid-Afrika. Die groep is in 2006 in Londen gestig voordat hulle vroeg in 2007 na SA teruggekeer het. Met Garth Barnes, Brendan "Bugsy" Barnes, Jaco Brittz en Etienne Janse Van Rensburg.

CrashCarBurn- Live in Concert wys Vrydag 16 April 2021 om 21:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).


kykNET Lekker (DStv-kanaal 148)

Op Seer Se Spoor S1
Misdaad
Dinsdae om 21:00
Met Ernusta Maralack as aanbieder

Deel 1: Tussen 1986 en 1994 het ’n reeksmoordenaar die Kaapse Vlakte in vrees vasgevang toe 22 seuns se ontbindende lyke naby treinstasies gevind was. Hy is as die “stasiemoordenaar” gedoop.

Stasiemoordenaar deel, 2: Tot vandag is die raaisel of Norman Afzal Simons die 21 ander seuns verkrag en vermoor het omdat hy in 1995 net aan die moord van Elroy van Rooy skuldig bevind is.

Op Seer Se Spoor is Dinsdae om 21:00 op kykNET Lekker (DStv-kanaal 148).


fliekNET

Susters

Rolprent
Maandag 19 April om 20:30
Met Leah, Diaan Lawrenson, Quanita Adams en Sean Marco Vorster

Drie aangenome susters word ná hul aanneemma se dood herenig. Hul besluit om ’n reis deur die Karoo aan te durf saam met ’n manlike verpleër en kom tot nuwe insigte.

Susters is Maandag 19 April om 20:30 op fliekNET (DStv-kanaal 149).

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top