Die moewie-muse loop weer op Oulap, sê legendariese rolprentmaker Koos Roets en bekende kunstenaar Wendy Malan.
Die twee meesterskeppers van moewie-magic met lens en kwas gaan hul kennis, ervaring en vernuf nou vir die eerste keer met belangstellendes deel tydens verskillende kursusse wat hulle gaan aanbied.
Daarvoor keer hulle terug na die ikoniese berghuis buite De Rust van hul oud-kollega, Jans Rautenbach. Die drie se gesamentlike lang loopbane het al in die 70’s begin onder leiding van Rautenbach met sy eerste rolprente, en hulle het saamgewerk tot met Rautenbach se laaste rolprent, Abraham, wat daar op Vlakteplaas verfilm is. Hy is in 2016 oorlede.
Malan, een van die belangrikste Suid-Afrikaanse skilders wat al talle tentoonstellings gehou het en KKNK-feeskunstenaar was, was ook kunsdirekteur van Pappalap, Jannie Totsiens, Die kandidaat, Abraham en Forever young, forever free. Sy bied haar kunskursus van 5 tot 7 November 2021 aan. Sy gaan fokus op die tegnieke van akrielverf as medium, en gaan ook haar skildermetodologie en -filosofie bespreek. Malan gaan ook haar perspektief oor haar versameling kunswerke wat op Oulap hang, deel.
Almal, ook beginners, is welkom. “Ek gaan seker maak dat al my studente – ongeag hoe gevorderd – met hul eie kunswerk teruggaan,” sê Malan.

Karoo-nag deur Wendy Malan (foto: verskaf)
Roets, veelbekroonde regisseur, kinematograaf en draaiboekskrywer van talle rolprente en reekse, het talle toekennings gekry vir onder meer Faan se trein, ’n Pawpaw vir my darling, Koöperasiestories, Brutal glory, Paljas en Die storie van Klara Viljee. Hy bied sy film/kinematografie-werkswinkel van 1 tot 3 Desember 2021 aan. Studente gaan kans kry om met professionele kameras te werk aan al die aspekte van die vervaardiging van ’n kortfilm wat aan uitsaaistandaarde voldoen.
Besprekingspunte is die kreatiewe gebruik van professionele kamera- en beligtingstoerusting, klankopname en -toerusting, die rol van die regisseur en die filmspan, die filmteks, die stappe in die vervaardiging van ’n kortfilm en ook ’n lokaliteitstoer van Abraham.
Die kursus is ook geskik vir mense wat lankal daaraan dink om ’n familiedokumentêr te maak maar nie weet waar om te begin om hul storie te vertel nie, sê Roets. Hulle kan hul foto’s en dokumente saambring.

Koos Roets op die stel van Faan se trein (foto: verskaf)
Die kursusse sluit verblyf vir twee aande en heerlike etes danksy Almeri Rautenbach in. Navrae kan aan Erika Rautenbach gerig word by 083 375 8701 of erautenbach@gmail.com.
Die vereiste veiligheids- en gesondheidsprotokol word gevolg.

