Kunsuitstalling: ’n Versameling afgediende muses met werke deur Bastiaan van Stenis en Ruhan Janse van Vuuren, saamgestel deur Jan van der Merwe
Amptelike opening op Woensdag 6 November 2024 by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria
Besieling put iets uit die onpeilbare toestand van bestaan wat met die wispelturige werklikheid van herinneringe versmelt is. Dit is die teenwoordige wat deur die krake van ons verlede sypel, en ’n warboel verwagtinge van ’n moontlike toekoms. Dit is die lied, dans, woorde en teksture van die bestaan; die weerlig wat deur die bewussyn sny, die herinneringe wat deur die teenwoordige donder.
Hierdie oeuvre is ’n versameling wat in buitestanderkuns (art brut) gegrond is. Dit is ’n rou, onverfynde kuns wat wegbeweeg van die tradisionele beperkings wat op definisies van hoë kuns geplaas word. Die kunstenaars beweeg weg van die tradisionele wyse waarop gietvorms gemaak en kunswerke gegiet word. Hulle omhels ’n eksperimentele proses waarvolgens die materiale definieer, sowel as tot iets nuuts verfyn word. Dié proses boots op obskure wyse die idee van Hesiodos na (naas Homerus, die oudste bekende Griekse digter en wat geleef het in die middel van die 8ste eeu vC) dat die muses mense in ’n toestand plaas waarin hulle vergeet van pyn, verpligtinge en die alledaagsheid van verwagtinge.

Bastiaan van Stenis en sy werke (Foto’s: verskaf)
Die materiale is hoegenaamd nie tradisioneel nie. Dit word tot die uiterste gedryf en op kontrasterende wyse georden. Dié effek skep die illusie dat hulle met mekaar worstel en veg om hulself te bly, hoewel hulle onvermydelik saam méér word as wat hulle op hul eie sou kon wees. Die hardheid weerspieël die sagtheid; die chaos weerspieël die roerloosheid; die herinnering weerspieël die moontlikheid.
Hierin fluister die kalmte midde-in die warboel van lawaai. Dit is maklik om hierdie werke as dolle chaos te beskou; as te besig, ’n verwarrende opskudding van pandemonium. Oppervlakkig gesproke is dit waar. Maar met tyd en geduld omskep die detail wat binne-in die kunswerke genestel is, die helderheid in die delikate. Oomblikke van insig. Fragmente van verstandigheid. Op dié wyse weerspieël hulle alle reise: die bymekaarmaak van alles, die versameling van sommige dinge, die uitgooi van die meeste goed en die getalm van verbygaande dinge. Die produk, in hierdie geval, is die proses self. Nie net in die skep daarvan nie, maar ook in die besigtiging. Dit is onmoontlik om dieselfde ding twee keer te aanskou. Tyd sal dit nie toelaat nie. Ervaring sal dit vorm gee. Herinneringe sal dit rig. En die lig teen die oorgeblaasde vorms sal dit giet.

Ruhan Janse van Vuurden en sy werk (Foto’s: verskaf)
Dié versameling is ’n gekopieer en geplak wat tegnologie trotseer, maar terselfdertyd omhels. Dit is waar die natuur (in sowel die letterlike as menslike betekenis) vasgevang en gegiet word, terwyl alle versigtigheid oorboord gegooi word. Dit is ’n versameling wat in ’n staat van mededeelsaamheid gevorm word – die aangee van een tasbare voorwerp aan ’n ander persoon. En binne-in dié ruimte van individuele redenasie en inspirasie word daarop gebou en dit opnuut gedefinieer, herontwerp en herverbeel. Die kunstenaars het apart saamgewerk. En die werke, hoewel gegiet en skynbaar voltooi, is nie volledig nie. Die toeskouer is die laaste medewerker van hierdie kunswerk, want hul ervaring daarvan is die laaste stuk van die komposisie.
Hierdie is bloot ’n versameling van oomblikke wat as herinneringe gestoor is. Om vergeet te word. Om opnuut in ’n nuwe oomblik gesmee te word. ’n Tragedie van tyd. ’n Viering van humor. ’n Dans van poësie. ’n Spottery met die geskiedenis. ’n Besieling vir ’n goddelike toekoms.
Lees gerus meer oor die kunstenaars en hulle werke in hierdie versameling op die SA Akademie se webwerf.
- Datum: Woensdag 6 November (amptelike opening)
- Tyd: 17:30 vir 18:00
- Plek: Kunslokaal, SA Akademiegebou, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria
- RSVP: Stuur ’n e-pos aan Linda Brink by linda@akademie.co.za teen Vrydag 1 November 2024
- Koste: Gratis
Datums van die uitstalling:
2 November tot 14 Desember 2024 en weer vanaf 6 Januarie tot 18 Januarie 2025. Die uitstalling is oop vir die publiek.
Ure:
- Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae vanaf 09:00 tot 17:00
- Woensdae vanaf 09:00 tot 19:00 (met ’n glasie sjerrie)
- Saterdae 09:00 tot 14:00
- Sondae gesluit
Navrae: akademie@akademie.co.za