Afrika word beskou as die vasteland met die jongste bevolking ter wêreld. In Suid-Afrika, met ongeveer 12 miljoen kinders van skoolgaande ouderdom, is die holistiese welstand van ons jeug noodsaaklik. Daarom bly Kunstekaap verbind tot die vorming van die toekomstige generasie deur die transformerende krag van teater en die uitvoerende kunste deur middel van ’n weldeurdagte opvoedkundige en jeugprogram.

Skoolverrykingsbeamptes van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement saam met Kunstekaap se uitvoerende hoof Marlene Le Roux, en die regisseurs van die voorgeskrewe vir Graad 12 in dramatiese kunste, Thoko Ntshinga, Fred Abrahamse en Andre Samuels (Abram). (Foto verskaf)
Kunstekaap se program vir 2026 was verlede week in die kollig tydens ’n vergadering tussen skoolverrykingsbeamptes van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) uit beide stedelike en landelike distrikte (metro-sentraal, metro-oos, metro-noord, metro-suid, die Overberg, Weskus die WKOD-hoofkantoor), en van Kunstekaap se senior projekbestuurders.
Daar is veral gefokus op vanjaar se reeks voorgeskrewe werke wat tussen April en Augustus opgevoer sal word. Oor Adam Small se Krismis van Map Jacobs, sê vervaardiger Andre Samuels: “Hoewel die toneelstuk op die 1970’s fokus, word vandag se jeug gekonfronteer met presies dieselfde probleme van armoede en bendelewe. Maar wat hulle in hierdie stuk kan sien en waarmee hulle kan identifiseer, is die keuses wat die karakters maak en die verantwoordelikheid wat hulle neem.”
Hierdie toneelstuk is in 1983 geskryf deur Adam Small, wat vanjaar 90 sou word. Maar die gevierde dramaturg het ’n besondere geskiedenis met die teater. In 1974 is hy verbied om ’n opvoering van sy gewilde toneelstuk Kanna hy kô hystoe in die destydse Nico Malan-teater by te woon wat slegs vir blankes toeganklik was. Twee dekades later in 1996 het hy deel geword van KRUIK se direksie, wat sy terugkeer na die instelling simboliseer wat hom eens op grond van sy kleur uitgesluit het.
Die kunste weerspieël nie net nie, maar is ’n katalisator vir sosiale verandering.

Ivan Abrahams, Thoko Ntshinga, Marlene Le Roux, Fred Abrahamse (agter) en Andre Samuels (Foto verskaf)
Sis Thoko Ntshinga, bekende aktrise en vervaardiger, beklemtoon só die relevansie van WK Tamsanqa se isiXhosa-toneelstuk Buzani Kubawo (1958) oor liefde, familieverhoudings en konflikte wat ontstaan wanneer tradisionele verwagtinge bots met veranderende waardes: “Nie net kan Xhosa-sprekende leerlinge in Graad 11- en 12 hul eie huistaal hoor nie, maar hulle leer ook eerstehands hoe gevaarlik dit kan wees wanneer onverklaarbare kulturele tradisies nie by vandag se omstandighede aangepas word nie.”
In dieselfde trant gesels Fred Abrahamse, ’n veteraan van die teaterwêreld, passievol oor die klassieke werke. “Hamlet,in die besonder,” sê hy, “handel oor kenmerkende menslike emosies. Al is sy stories 400 jaar oud, kan Shakespeare in enige tydsbestek, in enige omgewing in die wêreld, geïnterpreteer word. Ek het gesien hoe jong gehoorlede met daardie passies vereenselwig.”
Op die musiekfront is die Youth Jazz-reeks wat op 12 en 13 Junie plaasvind ’n groot gunsteling onder vele jongmense met musiek in hul DNS, “Veral diegene wat nie musiek as ’n skoolvak het nie. Ons is hier baie trots op ons uitstekende vennootskap met die Universiteit van Kaapstad se jazz-departement onderleiding van prof. Amanda Tiffin wat die mentorskappe met verskillende jazz-spesialiste vir ons deelnemers fasiliteer,” sê Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof.
“’n Verdere hoogtepunt vir die jeug is die uiters suksesvolle Klassieke Jeugkonsert in September met Martin Weavers as organiseerder, en diegene wie se voete jeuk vir ’n goeie dosis klassieke dans sal ook nie teleurgestel word nie,” sê sy.
Rowan Esau, ’n skoolverrykingsbeampte van die WKOD wat eersdaags aftree, onderstreep die langtermyn-impak van hierdie program en onthou sy tyd as laerskoolonderwyser toe sy leerlinge genooi is deur Kunstekaap se uitvoerende hoof, dr. le Roux, wat destyds aan die stuur was van die progressiewe gehoorontwikkeling- en onderwysprogram, die voorloper van die hedendaagse opvoedkundige en jeugprogram. "Ons was genooi om West Side Story op te voer op seker die grootste verhoog in die Wes-Kaap, in ’n tyd toe baie van die ouers nie eers geweet het waar Artscape – die ou Nico Malan – was nie juis omdat hulle gedurende die apartheidsjare nooit toegelaat was nie!” Hy het almal teenwoordig daaraan herinner dat die nou gewilde TV-akteur Duane Williams sy debuut in daardie produksie gemaak het!
Marlene Le Roux sê: “In die eerste paar maande van hierdie jaar alleen het letterlik duisende jongmense reeds Artscape bygewoon – baie vir die eerste keer in hul jong lewens!”
Vir Le Roux is haar visie om jongmense aan te moedig om die kunste as hul toekoms te sien nou selfs sterker as toe. Sy sien uit na die uitersgewilde jaarlikse Hoërskool Dramafees – oudisies vind plaas in Mei met die eindronde in Augustus – wat beide leerlinge en ouers in groot getalle lok. “Ons werk nóú saam met die WKOD om hierdie opvoedkundige program vir skole suksesvol te maak. In die besonder werk ons goed saam met die musiekkurrikulumadiviseur en hoof van musiek in die Wes-Kaap, Hugo Smuts, asook met musiekkurrikulumspesialis KeithTabisher vir die skooljeugorkeste,,” beklemtoon sy.
Dis egter veral Kunstekaap se Loopbaandag op 6 Junie wat haar vreeslik opgewonde maak, sê Le Roux “Dít is wanneer ons die aktiwiteite agter die skerms by Artscape blootstel; ons maak hierdie vlagskip van die uitvoerende kunste oop vir alle jongmense. Ons kan tot op 1500 Graad 11- en 12- leerlinge huisves sodat hulle self die loopbaanmoontlikhede in beligting, klank, produksie, kostuumontwerp kan ervaar – die opsies is onbeperk. Die kunste gaan nie net daaroor om op die verhoog te wees nie,” sê Le Roux.
Maar afgesien van die Opvoedkundige en Jeug-program, word die 55ste jaar se leuse, “ ’n Plek vir Almal,” veral die jeug, regdeur die multidissiplinêre kompleks weerklink. Onder die reeks aanbiedinge is:
Kaapstad Opera wat die leiding neem met Opera Blocks, 'n boeiende, breinversterkende ervaring vir kinders van geboorte tot vyf jaar oud en hul ouers in Maart in lokale van Gugulethu tot Seepunt; die Foundation Studio wat hoërskoolleerlinge toerus met die vaardighede om musiek tot op universiteitsvlak te volg; die FirstRand FirstJob-program wat geselekteerde werklose voorgraadse studente werkservaring met mentorskap en opleiding in alle aspekte van die kreatiewe kunste bied; die Judith Neilson Young Artist-program wat toegewy is aan die ontwikkeling van nagraadse sangers en dirigente saam met ervare professionele persone, asook The Cunning Little Vixen, ’n ouderdomsgepaste produksie wat ’n professioneel opgevoerde produksie na gemeenskapslokale bring. Daarbenewens bespreek hulle sitplekke teen spesiale pryse vir leerlinge en gemeenskapslede met andersins beperkte toegang, vir alle hoofverhoogproduksies by Kunstekaap.
Die Kaapstad Stadsballet is opgewonde om die 13de Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie in Augustus aan te bied. Vanjaar sal hulle talentvolle dansers in drie jeugkategorieë ten toon stel, van 9 tot 12 jaar oud (skoolleerlinge), 13 – 16 (junior) en 17 – 22 (senior).
Laastens, is die Kaapstad Filharmoniese Orkes se jeugprojekte verbind tot jeugontwikkeling en -opleiding, nie net om die orkes self te transformeer nie, maar ook die lewensgehalte langs die pad. Hoogtepunte van hul visie sluit in die Muzkanda/Masidlale-program wat leerlinge van Graad R sowel as 400 jong instrumentaliste tot op universiteitsvlak insluit. In April sal die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes in die Suidoosterfees by Kunstekaap optree en in Junie bied hulle ’n galakonsert aan wat jong musikante die geleentheid bied om saam met ’n professionele orkes op te tree.
Teken aan in jou dagboek:
Voorgeskrewe werke:
- Krismis van Map Jacobs: 09-24 April
- Buzani Kubawo: 13-02 Mei
- My Children My Africa: 22Julie-4 Augustus
- Hamlet: 12-15 Augustus
Jeugprogram
- Loopbaandag: 6 Junie
- Proscenium-dramakompetisie: 6-9 Mei
- Youth Jazz-reeks: 12 Junie – solo’s; 13 Junie – skoolorkeste
- Kunstefees vir skole: 12-28 Augustus
- Hoërskool Dramafees: 17-21 Augustus
Vir meer inligting oor die 55-jaar-vieringe besoek www.artscape.coza. Sosiale media: Artscape @55 A Place for All – Starting Young

