Persverklaring: Kortlys vir die 2023-Jeugboekpryse aangekondig

  • 0

NB-Uitgewers se drukname Human & Rousseau en Tafelberg maak met trots die finaliste bekend.

Daar is twee kategorieë: ’n kinderverhaal vir lesers 8 tot 12 jaar oud en ’n tiener- of jongvolwasseneverhaal vir lesers ouer as 13 jaar.

Tiener- of jongvolwasseneverhaalfinaliste:

  • Fanie Viljoen met Sny hulle in sterre uit;
  • Sandy Schoeman met Chakalaka uit ’n blikkie;
  • Celeste Loriston met Pagama vir die Six.

Kinderverhaalfinaliste:

  • Celeste Loriston met Kwini-Lee en die kuberkraker;
  • Karla Cloete met Wikus se wetenskaplike dagboek;
  • De Wet Hugo met Die doodgelukkige bure.

Een wenner sal in elke kategorie aangewys word, met ’n totale prysgeld van R100 000: R50 000 vir elke kategorie.

Altesaam 104 manuskripte – talle deur debuutskrywers – is ingeskryf vir die kompetisie, wat die ontwikkeling van gehalteleesstof vir lesers ten doel het.

Beoordeling het anoniem plaasgevind, dus kon skrywers op gelyke vlak kompeteer. Die beoordelaars vir manuskripte vir 8 tot 12-jariges was Mia Oosthuizen, Kobus Geldenhuys en Jaco Jacobs. Vir tiener- of jongvolwasseneverhale was die beoordelaars Marita van der Vyver, Cliffordene Norton en Susan Samuel.

Cliffordene Norton sê:

Om ’n beoordelaar te wees, was ’n uitstekende geleentheid! Ek het as ’n skrywer en leser soveel ryker ná die proses weggestap. Daar was ’n paar uitsonderlike verhale van hoë kwaliteit, en ek kan nie wag dat die Afrikaanse lesers hierdie verhale geniet nie. My gunstelingverhaal kan ek in twee woorde opsom: ‘Love dit!’ Die verhaal bied ’n lig maar emosionele blik op die uitdagings en triomf van die tienerjare, en sal die leser bybly lank nadat hulle dit gelees het.

Kobus Geldenhuys sê:

Ek werk as vertaler gereeld met oorsese tekste, so ek is opgewonde en trots dat hierdie drie uiteenlopende maar ewe opwindende manuskripte uit ons eie bodem kom. Van die ander inskrywings sal waarskynlik ook ná verdere ontwikkeling gereed wees om jong Afrikaanse lesers op verskillende ervaringsreise te neem.

Die wenners word op 15 April 2024 bekend gemaak. Die wentitels word onderskeidelik deur Tafelberg en Human & Rousseau uitgegee en verskyn teen die einde van 2024.

Michelle Cooper (Uitgewer en Hoof: Kinder- en jeugboeke, Tafelberg) sê:

My verwagtinge is oortref deur die 104 inskrywings wat ons gekry het. Ek is natuurlik baie opgewonde oor die vooruitsig om die wenners se boeke uit te gee, maar benewens hierdie ses finaliste, is daar nog baie meer belowende manuskripte wat verder ontwikkel kan word. Dit is te danke aan die werk van twee afsonderlike keurpanele van drie beoordelaars elk, wat die inskrywings anoniem beoordeel het. Ek hoop dat jong lesers nie anders sal kan as om, soos Cliffordene, ‘Love dit!’ uit te roep by die lees van ons wenboeke nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top