Persverklaring: Kommentaar op die tweede konsep van die US se hersiene taalbeleid

  • 0

Daar is fundamentele leemtes in die tweede konsep van die US se hersiene taalbeleid. Dié tekortkominge is te wyte aan dit wat nié in die beleid verskyn nie, het die Afrikaanse Taalraad (ATR) in ’n verklaring gesê. Die Taalraad meen die tweede konsepbeleid is weliswaar meer gesofistikeerd as sy 2016 -voorganger.

Die US se hersiene taalbeleid spring direk vanaf ’n algemeen uitstekende oorhoofse doel (purpose) en beginsels (principles) na gedetailleerde maatreëls (provisions). Wat ontbreek, is spesifieke en meetbare doelwitte en ’n duidelike formulering van die uitsette wat nagestreef word. Daarsonder is die beleid in wese rigtingloos.

Die afwesigheid van doelwitte en meetbare uitsette is 'n kritieke tekortkoming wat die beplanning en evaluering van implementering belemmer. Dit skep ook ruimte vir onuitgesproke en verskuiwende doelwitte en ondermyn daarmee die beleid se aansienlike potensiaal vir meertaligheid en Afrikaans.

Die Taalraad het al telkens in die verlede soortgelyke kommentaar gelewer, skynbaar sonder om daarmee by die US aanklank te vind. Dit is jammer, want die afwesigheid van spesifieke en meetbare doelwitte en uitkomste, is die wortel van wantroue teenoor die universiteit en sy hantering van taal. Daardeur word rasionele gesprek ook ondermyn.

Die Taalraad bly nietemin verbind tot gesprek met die US oor die implementering van die taalbeleid en hoop om daarmee konstruktief by te dra tot meertaligheid aan die US. ’n Sterk vorm van meertaligheid is moontlik aan die US indien die politieke en bestuurswil daarvoor bestaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top