Persverklaring: Karin Preller – Oorblyfsels van lig / Vestiges of light

  • 0

Maandag 25 Oktober tot Vrydag 5 November (opening op 22 Oktober)

Die Vriende van Helpmekaar Trust bied einde Oktober ʼn uitstalling aan van skilderye deur Karin Preller, ʼn oud-Helpie wat ná matriek in 1980 eers regte gaan studeer het en daarna visuele kunste. Ná die voltooiing van haar meestersgraad in 2001 het sy gereeld uitgestal en haar laaste solo-uitstalling, Almost No Memory, was verlede jaar kort voor die koronaviruspandemie. Haar werk is in die versamelings van die Johannesburg Kunsmuseum, Sasol, Absa, Unisa, Oliewenhuis-kunsmuseum, die ATKV, die kantoor van die Openbare Beskermer en Standard Bank. Sy is tans besig met ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg.

Prof. Derek van der Merwe, voorsitter van Helpmekaar Kollege se direksie en lid van die Vriende van Helpmekaar Trust, het benadruk dat dit “baie spesiaal is om Karin Preller, ʼn oud-Helpie, by die skool terug te verwelkom in haar hoedanigheid as gerekende kunstenaar”.

“Sy het groot naam vir haarself gemaak en ons weet dat haar uitstalling hier by die skool sal dien as groot inspirasie vir ons leerlinge, en natuurlik ook vir die ouers en alumni van die skool. Karin gaan vir ons kunsstudente ʼn meestersklas aanbied met ʼn gepaardgaande begeleide toer deur die uitstalling. Die alumni-gemeenskap is vir Helpmekaar van groot belang, ook omdat hulle oor soveel kundigheid beskik om met ons kinders te deel,” het Van der Merwe gesê.

Preller se uitstalling, Oorblyfsels van lig/Vestiges of Light, is van Maandag 25 Oktober tot Vrydag 5 November te sien in DI Hub, Vlak 2, Helpmekaar Kollege, h/v Empireweg en Mellestraat, Parktown, Johannesburg.

Vir dié uitstalling het Preller ʼn versameling onlangse werk byeengebring wat verteenwoordigend is van haar werk – skilderye waarin sy die kollektiewe geheue van Johannesburg van die 1960’s en daarna vasvang. Haar belangstelling in foto’s as bronmateriaal vir haar skilderye word geëggo in die titels van haar uitstallings: Snapshots (2007), Aperture (2008), Stills (2009) en Stilled Lives (2015), en dit blyk voorts uit die feit dat sy benewens ʼn kenmerkende kleurgebruik ook die kleur kan afdraai  tot hoofsaaklik monochrome blougrys.

“Geheue en hoe dit gestalte kry in foto’s is ʼn deurlopende tema in my werk sedert 1998,” sê Preller. “Die fassinering met foto’s en die proses van onthou het moontlik begin deur ʼn belangstelling in fotografie as bron vir my stillewes (en ʼn paar landskappe) in die vroeë 1990’s. Die vereenvoudiging wat die fotografiese proses teweegbring en die foto as ʼn ander wyse van sien het my gefassineer. Ek het fotografie gebruik om lig en donker te aksentueer in stillewes, om die alledaagse só af te neem dat dit amper vreemd word. Dit was ʼn middel om intieme, stil ruimtes te skep.”

Oorblyfsels van lig/Vestiges of Light verwys nie net na die rol van lig in die fotografiese proses nie, maar ook na lig as ʼn belangrike onderdeel van onthou, en die reste van onthou.

Plek: DI Hub, Vlak 2, Helpmekaar Kollege, h/v Empireweg en Mellestraat, Parktown, onderste ingang.  

Die uitstalling word op Vrydag 22 Oktober om 17:30 vir 18:00 deur Johan Myburg, digter en kunskenner, geopen. RSVP voor Vrydag 15 Oktober by trust@helpmekaar.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top