Persverklaring: Kameras begin rol op kykNET-sepiestelle

  • 2

Foto's: verskaf

Die TV- en filmindustrie is stadig maar seker besig om in produksie te gaan in hierdie tyd van die wêreldwye COVID-19-pandemie. Die lig van sekere inperkings tesame met streng reëls en regulasies het ’n nuwe manier van verfilming meegebring.

“Dit is regtig wonderlik om terug te wees by Suidooster, want ons is soos ’n familie en as jy nie jou familie sien nie, dan mis jy hulle,” sê Denise Newman wat onlangs as die beste aktrise in ’n sepie aangewys is by vanjaar se SAFTA-toekennings. “Om terug te wees by die ateljee, gee ons die kans om weer ons stories te vetrel – veral omdat ’n sepie ook vir kykers soos familie is. Boonop voel ons regtig veilig, want die vervaardiger het streng maatreëls en regulasies in plek gestel soos ’n mediese beampte aan diens wat elke dag onder meer ons temperatuur meet.”

Al drie kykNET se sepies – Binnelanders, Getroud met rugby en Suidooster - en die telenovela, Arendsvlei, het aan die begin van Mei weer begin opneem. Daar is egter streng reëls in plek soos gesondheids- en sekurtiteitsmaatreëls wat volgens die vereistes van die regering, die vervaardigers, kykNET en die bestuur van die ateljees waar verfilm word ingestel is. Daar sal geen oortollige mense, soos byvoorbeeld agtergrondspelers, toegelaat word nie en die sepievervaardigers, in samewerking met die skrywers en regisseurs, gaan uit hul pad gaan om die kykervaring so geloofwaardig as moontlik te hou.

Vir kykNET en die onderskeie vervaardigers is die gesondheid en veiligheid van almal wat by die produksie betrokke is die nommer-een prioriteit, terwyl dit ook vir hulle noodsaaklik is om werkskepping in hierdie bedryf te ondersteun. 

Die video-vermaakindustrie, soos alle ander sektore in die vermaakindustrie, het tot ’n stilstand gekom toe vlak 5 van inperking aangekondig is. Multichoice het fondse van R80 miljoen vrygestel om van die druk van plaaslike vervaardigers af te haal.

“Hierdie fonds het baie van ons mense in hierdie moeilike tyd gehelp. Ons het dankie-boodskappe van elkeen van ons produksiespanlede gekry ná die geld in hulle rekeninge betaal is. Weereens baie dankie van ons kant af. Ons waardeer die ondersteuning aan ’n industrie wat dit so desperaat nodig het.” – Christelle Parrot, vervaardiger van Megaboere.

“Die vrygewige bystandsfonds wat deur Multichoice beskikbaar gestel is aan die spelers en produksiespan van Arendsvlei word opreg waardeer.” – Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger by Paw Paw Films.

“Terwyl hierdie fonds seker gemaak het dat spelers en produksiespanne hulle salarisse gedurende Maart en April ontvang het, is ons verheug dat hulle nou weer kon terugkeer werk toe,” sê M-Net se hoof-uitvoerende beampte, Nkateko Mabaso. “In hierdie stadium is hul veiligheid ’n prioriteit en ons is die hele tyd in kontak met hulle om, volgens die regering se riglyne, seker te maak dat alle reëls en regulasies gevolg word en om seker te maak dat die risiko van infeksie op stel tot die minimum beperk word.”

kykNET se skedules word in kwartale opgedeel, wat beteken dat nuwe programme in Julie sal begin. Daarna begin die volgende siklus in Oktober. Hierdie skedules word tans gefinaliseer en ’n aankondiging hieroor sal volgende week gemaak word.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top